fbpx

Deur Pieter Krige

“Julle klomp malles wat só die woestyn inged……. het” hoor ek die woorde van die tipe oom wat tydens 1992 se volkstemming baie trots op sy NEE-stem was, en seker steeds is. Julle sien, die oom, met sy velhoed, kortbroek en dungerookte Kayser-pyp, was, en is sekerlik, steeds maar een van ons, een van my mense. Iemand wat in dieselfde kerkverband die Here aanbid, aan dieselfde en “regte” boerevereniging behoort, en vir die “regte” politieke party stem, of meermale nie stem nie. Die tipe oom wat van “Ou Kortbroek” en “De Klerk” praat met die pyn van verraad in sy oë; die tipe oom wat lekker stories oor die goeie ou dae van segregasie en apartheid kan vertel, van hoe dinge darem baie beter was. Die tipe oom wat jou dinge van “Strijdom” kan vertel wat jou hare sal laat ruis. Dit is soveel keer hierdie tipe ooms, wat Orania nie ‘n kans in die son gegun het nie, nie eens daaraan gedink het dat so iets ooit sal kan werk nie, en meer nog, ooit nodig sal wees nie. Dit is hierdie tipe oom wat nou hier, na bykans 30 jaar se bou en groei in Orania, kom draai… en die malles was toe slimmer as wat hy gedink het. Maar daar is iets wat die oom, hierdie tipe oom, eintlik nog bietjie pla, en dit is miskien meer as net een iets, eintlik twee:

  1. Wie gaan die gate grou waar die tipe tannie haar rose moet plant?
  2. Moet ons nou hierdie land, met bloed gekoop, aan ander oorgee, om op ‘n stukkie woestynland te gaan aansukkel?

U sien, Orania, is nie vir almal nie. Hiermee bedoel ek nie dat ons nie vir al die Afrikaners/Boere juis ‘n plek wil wees nie, dat diegene welkom hier moet wees en voel, dat ons ter wille van diegene se kinders se toekoms ook hier bou nie, nee, dit doen ons juis, dit dryf ons en inspireer ons. Maar Orania is nie vir almal nie, want daar is sekere dinge waarmee mense maar net nie kan breek nie. Vir sommige mense is Orania net té radikaal. Hierdie klomp malles wat in die woestyn kies om self in die karoo-son die pik te slaan en byl te swaai. Ek kyk na die blase op my sagte skrywershande van juis so ‘n bylswaaiery gister, blase wat vir die tipe oom liewer op ander se hande moet wees.

So om en by 1652, miskien enkele jare later, het die volk wat later as die Afrikaner naam sou kry, die feudalisme ingevoer, en sedertdien is dit part en deel van ons identiteit en kultuur. Vir bykans 400 jaar was die Afrikaner die baas, en die ander die werkers. Dit geld natuurlik nie vir almal nie, vir elke individu nie, maar oorkoepelend was dit maar die verloop van dinge. Natuurlik het ons koloniale heersers, met die ontdekking van die blink en skitter aan die Rand, nie meegehelp om hiermee te breek nie, maar dit versterk en nog meer bevestig en ons het lekker meegedoen.  

Wat hierdie tipe oom sukkel om te verstaan, sukkel om in te sien, is hoekom ons nou vandag hiermee moet breek, want dit werk dan al vir bykans 400 jaar, sien. Ek moet wel bely, dat ek lief vir die tipe oom is, dit is immers my mense, en ek verstaan hom goed, ken hom goed, maar hierdie tipe oom verstaan my nie baie goed nie, hy verstaan nie Orania regtig nie. Om dié rede dink selfs hierdie tipe ooms telkemale dat Orania maar net ‘n voortsetting is van die 400 jaar se feudalisme en nou die laaste bastion geword het van apartheid in die kleine. Maar Orania is nie een van hierdie twee dinge nie. Orania is radikale nuwe denke, en as ek sê nuut, dan bedoel ek eintlik die nuwe implementering van denke wat al sedert 1948, met die stigting van SABRA, vir die volk grootliks onverstaanbaar en ongewild was. “Die Afrikaner moet self-werksaam word en breek met ons verslawing aan ‘n onvolhoubare stelsel van vreemde arbeid, wat tot ons politieke, kulturele en ekonomiese vernietiging gaan lei.”

Hierdie tipe oom sal eerder droom van ‘n leier met ‘n bruin pak, wat die volk in oorlog sal kom lei om die land terug te vat, as wat hy moue sal oprol en op ‘n vreedsame en volhoubare manier aan ‘n toekoms bou. Orania is vir hierdie tipe oom net té anders.

“Maar Oom, as jy tien werkers het, en hulle het hul gesinne, dan gaan jy mos altyd elke liewe verkiesing verloor, gaan die skool, dorp, verenigings en selfs kerke mos die ander se taal en kultuur moet aanneem?” probeer ek ‘n ander hoek.

Ek sien so ‘n grepie hoop soos die oom my hoor, maar my moed breek soos ek hoor hoe die tannie hom vertel dat, sodra hul tuis is, Johannes; of David of Sipho of goeie ou Jakob, die stoor sal moet regpak voor die karavaan weer ingetrek word.

Miskien is ek te ongeduldig, dit is tog immers nie maklik om met 400 jaar van tradisie te breek nie… maar miskien is Orania nie vir die tipe oom en tannie bedoel nie, of miskien is hul nog net nie reg vir hierdie tipe radikale kopskuif nie.