fbpx

My standpunt was nog altyd dat Afrikanerselfbeskikking nie by die stembus gemeet sal kan word nie. Laas in die 1994-verkiesing is dit werklik by die stembus getoets. Sedertdien was daar nie ‘n enkele verkiesing waar Afrikaners hard en duidelik die geleentheid gegun is om hul kruise agter die selfbeskikkingsgedagte te trek nie.

 

Die VF Plus se veldtog in die afgelope verkiesing het (soos wat politieke partye seker in munisipale verkiesing moet doen!) oor dienslewering en dienslewering alleen gegaan. So ook die DA, ANC, IVP, ACDP, COPE en eintlik al die ander kleiner partye s’n. Hoe kan enigiemand dus sê dat die verkiesingsuitslag ‘n stem teen selfbeskikking was?

 

Binne Suid-Afrika se huidige politieke bestel waar die ANC vir minderhede al meer van ‘n bedreiging inhou en die idee van sterk opposisie in die p0litieke gedagtewêreld seëvier, dink ek in elk geval kan Afrikanerselfbeskikking tans nie deeglik getoets word nie.

 

Die probleem in die verlede (eintlik maar 1994) was juis dat Afrikaners met die gemak van die trek van ‘n kruisie hul by die selfbeskikkingsideaal kon skaar. In die jare na 1994 het waarskynlik meer as 90% van die mense wat vir die Vryheidsfront gestem het absoluut niks gedoen om selfbeskikking te laat verwesenlik nie. Ons gaan nie ons vryheid kry as ons dit met die trek van ‘n kruisie gaan probeer kry nie.

 

Ek ondersteun dus die idee dat politieke partye, insluitende die Vryheidsfront Plus, tydens verkiesings eerder op ander kwessies moet fokus. Dit beteken glad nie dat hul die droom van Afrikanervryheid moet laat vaar nie, maar eerder dat hul op ander maniere moet werk om die droom te help verwesenlik. Ek sê weer: Ons gaan nie ons vryheid by die stembus kry nie.

 

Ons gaan wel ons vryheid kry deur huise, hotelle, woonstelle, aftree-oorde, kantoorgeboue, fabrieke, paaie en ander infrastruktuur in Orania te bou. Ons gaan ons vryheid kry deur harder te werk en meer van onsself (geld, tyd, intellektuele kapitaal en arbeid) vir die ideaal te gee. Ons gaan ons vryheid kry deur in Orania te belê, hierheen te trek, hier te kom vakansie hou of ten minste waarookal ons, ons bevind Orania na ons mense uit te dra.

 

Verkiesingspolitiek gaan orals in die wêreld al meer oor vae ideologiese indelings. Daar is sosialistiese partye, liberale partye, Christen-demokratiese partye, konserwatiewe partye en selfs fascisties-nasionalistiese partye. Orania en ons ideaal van meerderheidsbesetting pas nie werklik by enige van hierdie ideologieë in nie. Terwyl daar minder as 1000 mense in Orania woon sal dit in elk geval lagwekkend wees om nou reeds mense te kry om op ‘n nasionale vlak vir Orania te stem. Kiesers se stemme gaan veel meer oor korttermynwense as langtermyndrome.

 

Laat ons nie toelaat dat die uitslag van ‘n munisipale verkiesing ons mense negatief oor ons vryheidstrewe maak nie. Orania was nog nooit so sterk soos nou nie. Kom ons skep ‘n nuwe koalisie van Orania-inwoners, ondersteuners en organisasies (ook politieke partye) wat ons vryheidsideaal deel en saam sal werk om dit vinniger ‘n werklikheid te maak.