fbpx

Internskap by die Orania Beweging

Ondersteuners van die Orania Beweging se sosiale media blaaie sou ʼn nuwe gesig oor die Desember – Januarie tydperk opgelet het. Willem Boshoff, tweedejaar student aan Akademia, het tydens sy studentevakansie ʼn internskapprogram by die Orania Beweging gedoen.

“Ek het aansoek gedoen vir die internskap, want ek wou nie die hele vakansie net rondlê en niks doen nie,” vertel Willem.

Willem het by die Orania Beweging se kommunikasiespan aangesluit vir hierdie tydperk. In sy aansoek het hy genoem dat hy graag meer sal wil leer oor algemene kantoor-etiket, sy video redigeringsvaardighede wil verfyn en ook professionele en effektiewe kommunikasiepraktyke wil aanleer.

Van sy pligte het ingesluit verwerking en redigering van video’s, bestuur van die Orania Beweging se sosiale media platforms en skepping van bemarkings- en kommunikasie-inhoud. Willem het ook nuusartikels geskryf wat in die Orania Beweging se digitale nuusbrief verskyn het.

Die Orania Beweging het al vantevore vakansiewerk en internskappe aan jong Oraniërs tydens hulle studentevakansies gebied, en elke keer heers hier ʼn nuwe gees van kreatiwiteit by ons kantore. Willem se oorspronklike idees het bygedra tot Orania-inhoud wat deur beide Oraniërs sowel as ondersteuners van buite geniet word.

Terug by sy studies, sien Willem uit na sy tweede jaar van studentwees terwyl hy werk aan sy graad in Politiek, Ekonomie en Filosofie. Kyk gerus na die kort onderhoud met Willem deur op die video hier onder te klik (hierdie video is ook self deur Willem aanmekaar gesit):