fbpx

youngspiration

(Foto: Lede van die politieke party Youngspiration.)

In 2014 ontstaan daar `n groot aantal betogings in China waar deelnemers `n groter mate van selfbeskikking en outonomie vir Hong Kong opeis. Hong Kong is reeds ‘n semi-outonome streek wat oor `n demokratiese stelsel beskik anders as die kommunistiese benadering in die res van die Volksrepubliek van China. Die demokratiese stelsel in Hong Kong is egter steeds ondergeskik aan die besluite van die Chinese president wat vanuit Beijing regeer. Hong Kong was tot 1997 onder Britse beheer waarna dit aan China teruggegee is. Die amptelike benaming is tans die Spesiale Adminstratiewe Streek van Hong Kong van die Volksrepubliek van China.

Die opstande wat in 2014 begin het is grootliks gedryf deur die jeug en het later in politieke bewegings begin ontaard. Gedurende September is kandidate van nuwe politieke partye wat uit die opstande gespruit het tot die wetgewer in Hong Kong verkies. Van die partye sluit in Demosisto en Youngspiration. Die wetgewerlede van dié twee partye het geen respek betoon teen die Volksrepubliek van China tydens hulle inhuldiging nie. Sommige van die nuwe wetgewerlede, wat so jonk as 23 is, het vlae vertoon met die slagspreuk “Hong Kong is nie China nie”. Die inhuldigingseed is soms agterstevoor en ander kere met `n vraende stemtoon opgesê. Een van die nuwe parlementslede het tien minute geneem om die eed, wat net uit 100 woorde bestaan op te sê.

Die nuwe parlementslede, oorwegend jongmense, het die vrugte van die vryemark geproe wat Hong Kong bied en sien nie kans om verder teruggehou te word deur die kommunistiese beleid wat in die res van China geld nie. Een van die nuutverkose politici skryf kort na die 2014-opstande as volg:

“Die kommunistiese regering, wat ook Hong Kong onderdruk, het hulself die vyand van die mense gemaak deur `n beleid te volg wat `n totale minagting van die wil van die mense toon. Die Chinese kommunistiese regering loods gereelde aanvalle op Hong Kong se ekonomiese en kulturele beleid en dit sal nie geduld word nie.”

Die een ding wat daarin geslaag het om kommunisme in verskeie plekke in die wêreld so lank aan die gang te hou is gebrekkige eksterne blootstelling. Solank die inwoners van die betrokke land nie weet hoe goed dit elders onder `n vryemarkstelsel gaan nie, sal hulle nie die bestaande stelsel bevraagteken nie. Hong Kong het vir baie lank ander ekonomiese reëls en blootstelling aan inligtingstegnologie gehad. Die inwoners van Hong Kong, en veral die jongmense, kon dus vergelykings tref tussen die Volksrepubliek van China en hoe dinge elders werk. Hulle het die slotsom bereik dat kommunisme nie die regte benadering is om te volg nie.

`n Volgende land wie se kommunistiese beleid binnekort uitgedaag mag word is Kuba waar die koms van inligtingstegnologie reeds begin het. Die ouer mense in Kuba is dalk tevrede met die stelsel omdat hulle nie van beter weet nie. Die volgende geslag gaan dit egter vergelyk met ander lande waar daar meer vryhede en meer doeltreffende ekonomiese stelsels is. Behoede die Castro wat dan aan bewind is.