Die oorweldigende “common knowledge” in veral die Weste is dat saam beter is as apart. Die EU word as sukses gesien, so ook die VN, ongeag die werklikheid van beperkte suksesse en ‘n uitmergelende proses om selfs net die kleinste gemene deler te bereik. Die reënboognasie van Nelson Mandela word as die hoogste ideaal gesien waar almal vreedsaam oor rassegrense heen saamleef en so ver moontlik vermeng. As dit in praktyk nie gebeur nie, dan is dit die skuld van die wittes wat nie genoeg uitreik nie. Min of meer dit is die siening wat ek verlede week teëgekom het by Duitse televisie-joernaliste wat as deel van ’n program oor “25 jaar sedert die einde van apartheid” op verskillende plekke van Suid-Afrika, onder andere Orania, hulle opnames gemaak het. Orania word in sulke programme gewoonlik uitgebeeld as die laaste uithoek van verset teen die wonderlike reënboognasie, waar diegene woon wat nog aan apartheid vasklou.
Die joernaliste was darem ook al by Oraniërs aan wat ook gestaal is in die hantering van joernaliste en wat hulle aanslag ken. Een van die joernaliste gee toe ook toe dat Orania inderdaad baie anders is as die persepsie van ʼn apartheid-dorp en dat hier heelwat arm mense ook is. Vir hulle is apartheid die beeld van die groot, spoggerige plaashuis met die bediendes, en die arm arbeiders in hulle hutte naby, met ander woorde die amper karikatuuragtige saamgaan van ras en inkomste. Dit is eintlik nie apartheid nie, maar paternalisme, iets wat Orania ook nie verdedig nie, al weet ons ook dat die werklikheid nie so eenvoudig is nie, met die ryk boer wat hard gewerk het om daar te kom, wat baie geld spandeer om sy werkers op te hef, al bly hulle ongelyk. Die kommunistiese ideaal van totale gelykheid kan ons nie verdedig nie, en ook idealistiese Duitsers weet dat daar selfs in hulle welsynstaat met ʼn sentrum-linkse regering ongelykheid en selfs armoede is.
Die grootste punt van verskil was egter die ideaal om die grootste moontlike vermenging te bereik ten einde die utopiese vrede en harmonie tussen rasse te bereik en alle verskille te oorbrug. Vir die vroulike spanlid was dit blykbaar wat sy in Johannesburg gesien het, heel waarskynlik na ʼn oppervlakkige kyk na ʼn winkelsentrum, waar die swart en wit middelklas ooglopend vreedsaam die verbruikerskultuur uitleef, gemengde paartjies en al. Dit is egter ook daar waar die geweld die ergste en die heinings die hoogste is. Met harmonie en vreedsame saambestaan het die multi-kulturele skynwêreld van ʼn winkelsentrum niks te doen nie. Besoekers van Port Elizabeth wat in Orania wil vestig het teenoor hulle opgewonde die voordele van Orania uitgelig en hulle nie laat van stryk bring deur die vraag oor “isolasie” nie.
Vir ons in Orania is ons sogenaamde isolasie na dekades se ondervinding van hoe dinge werk en nie werk nie ʼn keuse. Dit is ook nie isolasie nie, maar selfbestuur. Vir isolasie kry ons darem heeltemal te veel blootstelling. Hoeveel dekades van ʼn onbekwame ANC-regering op alle vlakke, maar veral op munisipale vlak het jy nodig om te besef dat dit nie werk nie en dat jy baie beter daaraan toe is as jy vir jouself sorg? Vir Duitsers en ander Wes-Europeërs is dit moeilik om te verstaan. Hulle is gewoond dat Duitsers aan stuur van sake is, dat die stelsel werk en dat ʼn paar inkomelinge ʼn “verryking” is en dat ʼn multi-kulturele samelewing beter is as ʼn mono-kulturele een, omdat dit nuwe ondervindings, nuwe geure, nuwe kleure, nuwe kennis en wat nog alles sou toevoeg. Dat ʼn multi-kulturele samelewing soos wat dit tans nog die geval is, met ʼn Duitse meerderheid en die “toevoeging” tot redelik onlangs veral goedkoop arbeid en nuwe restaurante en winkels wat eksotiese disse en produkte voorsien, heeltemal iets anders is as die soort wat ons in Suid-Afrika het, bly moeilik begrypbaar as jy dit nie beleef het nie. Dan klink alles na “negatiewe stereotipes”. As jy egter herhaaldelik slagoffer van misdaad was, jou krag gereeld afgaan, jou kraanwater ondrinkbaar is, jou paaie vol gate is, jou skool en universiteit verengels en op swak standaard en jou dorp onherkenbaar is, dan is jy nie meer so opgewonde oor die multi-kulturele samelewing nie. Maar dit sal Europeërs, veral die mediamense wat deel van die elite is en nog nie met die negatiewe effekte van die kulturele verryking gekonfronteer word nie, eers uitvind wanneer dit te laat is.