fbpx

Jy moet in Orania bly om die wese van ‘n Oraniër te verstaan. Dit het ek die afgelope drie maande besef.

Wanneer Orania se inwoners in die media beskryf word, probeer joernaliste altyd ‘n vergelyking met die Afrikaner van ‘n paar dekades gelede maak. Een joernalis wat Orania onlangs besoek het, het spesifieke foto-geleenthede waar mans vuurwapens vashou en vrouens lang Voortrekker-rokke dra, versoek.

Hoewel ons hier in Orania baie trots op ons geskiedenis, kultuur en tradisies is en dinge soos volkspele, Cantus en ons feesdae soos Geloftedag koester, is ons ook ‘n moderne, aanpasbare gemeenskap waar die inwoners oor die afgelope 19 jaar unieke eienskappe begin ontwikkel het.

Die een ding wat my opgeval het is dat ons inwoners minder rasbehep is as die meeste Afrikaners daarbuite. Wanneer jy in Pretoria tussen vriende en familie kuier word ras gou deel van die gesprek omdat mense met goeie rede frustreerd is met misdaad, swart taxi-bestuurders, regstellende aksie en swak regering om maar ‘n paar voorbeelde te noem. In Orania praat ons oor hoe ons, ons kultuur beter kan beoefen, meer inwoners by kultuurdae kan betrek, beter groentetuine kan aanplant, energie kan bespaar, minder huishoudelike afval kan genereer en die voor en nadele van sonkrag.

Die Orania-mens is dus iemand wat naby aan die natuur en nog nader aan sy kultuur leef. In Orania is mense saans besig om in die permakultuur-tradisie tuin te maak terwyl hul na Radio Orania luister. Ons haal die heinings om ons erwe af en kuier saans by ons bure. Ons plant vrugtebome en roei indringer uitheemse plante uit. Ons debateer oor watter gras om aan te plant en hoe om ‘n mooi Karoo-tuin te vestig. Gesprekke oor die vrugbaarheid van ons grond en hoe ons self grond kan ‘maak’ (Orania se grond is maar vlak en relatief swak) hou ons oor naweke besig wanneer ons by vriende kuier. Ons verf almal ons huise se dakke wit omdat dit baie warm in die somer word. Die afgelope 19 jaar het daar ‘n unieke Orania-kultuur ontstaan en jy kan dit net ten volle beleef wanneer jy self ‘n Oraniër word.