Die gesegde lui dat niks so onkeerbaar is as ‘n idee waarvoor die tyd ryp is nie. Hiermee is die idee se aanvaarbaarheid afhanklik van die tydsgleuf waarin dit ontvang word, terwyl die tyd self onkeerbaar voortstoom. Laasgenoemde skep die vermoede dat indien die idee nie soos ‘n veldbrand versprei nie, die tyd nie daarvoor ryp is nie en dat daar moontlik min salf aan te smeer is. Volgens baie Afrikaners se kommentare op sosiale media gaan dit “nog te goed” met Afrikaners om die Orania-ideaal op groot skaal te ondersteun, wat gesien word as “teken dat die tyd nie ryp is nie.”
Die Amerikaanse mediese dokter en navorser, dr. Atul Gawande, het die verskynsel dat sekere idees vinniger aangeneem word as ander vanuit ‘n mediese hoek toegelig in ‘n artikel in die New Yorker. Hy verduidelik hoe uiteenlopend daar gereageer is op twee van die mees belangrike deurbrake in die mediese wêreld gedurende die negetiende eeu.
Eerstens was daar die ontdekking van narkose wat soos ‘n veldbrand versprei het. Tweedens was daar die ontdekking van ontsmetting en die belangrikheid daarvan om die hoë sterftesyfer wat met operasies gepaard gegaan het (soos veroorsaak deur infeksies) te verminder. Laasgenoemde het in teenstelling met narkose dekades geneem om deur chirurge aanvaar en algemeen gebruik te word.
Op die oog af is daar nie ‘n voor-die-hand-liggende rede waarom narkose meer geredelik aanvaar is as ontsmetting nie. Beide het belangrike voordele vir die pasiënt inghou: onder narkose het die pasiënt nie geswoeg en gespartel tydens die operasie nie en kon die chirurg sy tyd neem om noukeuring die prosedure uit te voer. Ontsmetting het die kanse dat die pasiënt die operasie hoegenaamd sou oorleef drasties verhoog.
Dr. Gawande skryf die verskil in tempo waarteen die idees versprei het toe aan twee faktore: die sigbaarheid van die probleem wat aangespreek word (hoe sigbaarder die probleem, hoe makliker word die idee aangeneem) en die mate waartoe opofferings nodig is om die idee te implementeer (hoe minder opofferings nodig is, hoe makliker word die idee aangeneem).
Die effek van narkose was onmiddelik sigbaar, terwyl die aanneming van die idee die lewe van die chirurg vergemaklik (hy hoef nie meer met ‘n spartelende pasiënt te stoei nie). Ontsmetting daarteenoor het ‘n onsigbare probleem aangespreek wat ‘n vertraagde effek het (kieme kon nie waargeneem word nie en dit neem dae vir die simptome van infeksie om sigbaar te raak), terwyl dit die lewe van die chirurg heelwat bemoeilik het: die chirurg moes pynlik versigtig wees om die teater, sy gereedskap, sy klere en sy persoon te steriliseer terwyl die Fenol wat gebruik is om te steriliseer, sy vel gebrand het. In kort moes die chirurg opofferings maak vir ontsmetting om te werk wat nie nodig was vir narkose nie.
Dit bring ons by die ou wysheid dat opofferings dikwels nodig is om groot (maar dikwels onsigbare) uitdagings te oorkom. Dr. Jordan B Peterson, professor in kliniese sielkunde aan die universit van Ontario, bespreek die wysheid van offervaardigheid. Volgens hom word hierdie wysheid in die mens se oudste verhale vervat. In ons Christelike tradisie merk ons die belangrikheid van opoffering van die regte offers die eerste keer in die verhaal van Kain en Abel. Abel en Kain het beide offers gebring en Abel se offers was goed en hy was vooruitstrewend, terwyl Kain nie die nodige opofferings gemaak het om suksesvol te wees nie. Toe God vir Kain hieroor aanspreek, was Kain uiters ontevrede toe hy daarop gewys is dat die tekortkoming van sy eie offers die oorsaak van sy probleme was. In plaas daarvan om die nodige offers te bring, vertroetel Kain sy ongelukkigheid wat toe in wrewel ontaard en uiteindelik op die moord van sy broer uitloop.
Die verhaal van Pinnochio beskryf ook die belangrikheid van offervaardigheid. Gepetto die skrynwerker skep ‘n mannekyn wat hy wens die kind sal word wat hy nooit gehad het nie. Sy wens word gedeeltelik bewaarheid en Pinnochio begin leef as hout pop, met die belofte dat hy ‘n regte seun sal word op voorwaarde dat hy homself as verdienstelik bewys. Pinnochio word egter verlei en na Plesiereiland geneem waar hy en ander kinders na hartelus hulself kan verlustig in allerlei impulsiewe begeertes en plesier. Daar is egter ‘n kinkel in die kabel: wanneer die kinders hulself verkwik in impulsiewe plesier, verander hulle in donkies en word hulle as slawe-arbeid verkoop. Om hierdie uitende te ontsnap moes Pinnochio die plesier van impulsiewe begeertes opoffer. Later is Pinnochio se wens om ‘n ware seun te word verwesenlik eers nadat hy homself bereid bewys het om sy eie lewe op te offer om Gepetto, sy skepper te red.
Ons weet uit eie ervaring hoe belangrik opofferings is. Neem die eenvoudige voorbeeld van die spaar van geld: wanneer ons spaar, offer ons die onmiddelike genot wat ons kan put uit die spandering van die geld op vir toekomstige voordeel. Verder het baie van ons ouers reuse opofferings gemaak om ons na universiteite of tegniese kolleges te stuur vir verdere studies, terwyl die van ons wat ons studies suksesvol voltooi het, baie opofferings moes maak om die kennis sodanig te bemeester om deur te kon kom. Hoeveel sosiale aktiwiteite moes ons opoffer sodat ons kon swot vir ‘n eksamen?
Hoe het dit dan gebeur dat chirurge uiteindelik bereid geword het om die nodige opofferings te maak ten einde die voordele van ontsmetting te ontsluit? Het die tyd bloot daarvoor ryp geword? Die antwoord volgens dr. Gawande is nee.
Daar het eerder ‘n baie spesifieke herbeskouing van wat dit beteken om ‘n chirurg te wees, plaasgevind. Chirurge het aanvanklik swart oorpakke gedra. Die swart kleur het die droë gekoekte bloed van hul vorige pasiënte beter versteek. In hierdie swart oorpakke het chirurge hulself as krygers gesien wat deur spoed die stryd teen bloedverlies en spartelende pasiënte moes wen. ‘n Groep dokters in Duitsland het egter ‘n ander benadering ingeneem en hulself eerder as wetenskaplikes met wit oorpakke beskou. Daardeur het hul klem op kennis en presisie eerder as spoed geplaas. Die metodes vir ontsmetting het baie goed by hierdie veranderde etos ingepas. Hierdie kulturele verandering is later aangeneem en nageboots deur mediese studente uit Amerika en ander lande wat in bewondering gestaan het voor die sukses van die Duitse chirurge.
Afrikaners staan vandag ook voor ‘n onsigbare probleem: ons woon yl verspreid oor Suid-Afrika en is daardeur polities ontmagtig en kwesbaar vir kriminele. Ons word geteiken weens ons isolasie en ook omdat ons anders lyk, klink en leef as die meerderheid mense waartussen ons woon. Om die probleem te oorkom moet ons opofferings maak: ons moet bydra tot die ontwikkeling van Orania en haar omgewing waar ons beide ‘n getallemeerderheid kan vorm en genoeg hulpbronne (insluitend grond) kan beheer om genoegsame selfstandigheid te bereik om die vergrype van die regerende klas en die misdadige elemente van Suid-Afrika te ontsnap. Daar is ook ander opofferings wat gemaak moet word, soos om op te hou om so afhanklik van vreemde arbeid te wees.
Die vraag is, hoe moet Orania herbeskou (en heraangebied) word om die offers wat daarvoor nodig is aanvaarbaar te maak? Groter swaarkry onder Afrikaners is nie noodwendig die geheime bestanddeel wat vermis word nie, want hoe swaar dink julle was dit om weens infeksie te sterf na ‘n operasie? Hierdie swaarkry het nie die aanneming van ontsmetting bespoedig nie. Die gevaar is dat die swaarkry die pasiënt laat sterf voordat die oplossing aangeneem word.
Baie goeie artikel Ebert, dat daar opofferings gemaak moet word vir die Orania ideaal, is waar,maar die vraag hoe om dit aanvaarbaar te maak met betrekking tot die opofferings,’n moeilike vraag om te beantwoord. Eerstens die tyd is nog nie ryp genoeg vir ‘n Afrikaner stad nie, weens die politieke klimaat en baggasie,asook ekonomiese redes, maar meer bemarking en bewusmaking van Orania sal mense se denke en perspiktief verander, die gesegde dat Rome nie in ‘n dag gebou is nie, is ook waar rakende Orania,tans glo ek dat meeste nuwe inwoners in Orania , entrepeuners moet wees, om werskepping te bied, hoe meer werk daar beskikbaar is, hoe meer Afrikaners sal kan kom,Graag wil ek ook noem, dat ons lesse en inspirasie van die Jode kan neem, hulle was wyd verspreid en het min getalle, maar tog kon hulle taal en kultuur vir honderde jare oorleef,mag ons ook lesse daaruit put en sodoende oorleef hier in die suidepunte van afrika
Dankie vir jou goeie inset Roelof
Ek dink tyd is nie iets wat vanself ryp word nie. Daar is wel faktore buite ons beheer wat ook hierop inwerk, maar die politieke klimaat is myns insiens nou beter as ooit: die gebreke en gevolge van Suid-Afrika se meerderheidskrasie is vir almal sigbaar. Wanneer Afrikaners met die res van Suid-Afrika vergelyk word dan gaan dit met ons ekonomies goed, maar in vergelyking met ons ewekniëe in ander lande, is ons besig om agteruit te boer.
Jy is reg dat baie Oraniërs entrepreneurs moet wees. Orania – en entrepreneurs – het egter ook baie werknemers nodig, veral werknemers met vaardighede.
Daar is lesse by die Jode te leer, veral hul pioniersgees, ekonomiese vernuf en die wyse waarop hulle hulself gehandhaaf het onder moeilike omstandighede. Laasgenoemde het baie met hul geloof te make: hulle woon almal sover moontlik stapafstand van ‘n sinagoge af omdat dit sonde is om met vervoer op sabbat na die sinagoge te gaan (dit word gesien as werk). Die gevolg was dat hoewel hulle verspreid was, hulle altyd op plaaslike vlak gekonsentreer het, en daardeur minder kwesbaar was as Afrikaners vandag. Daar was ook ander voordele, soos gevestigde netwerke en aanvaarde gesagstrukture.
As Afrikaners moet trek om konsentrasie te bewerkstellig, kan ons dit maar netsowel in Orania doen en die hele tragiese ervaring wat die Jode in diaspora moes deurmaak, moontlik vryspring.
More Ebert
Ek is nie seker of ek hierdie statistiek al in hierdie forum gedeel het nie. Daar was in Maart vanjaar ‘n peiling op Maroela Media (tans meer as 1,5 miljoen unieke lesers per maand) rondom afskeiding en afsonderlike grondgebied as oplossing vir Afrikaners. Hier is die resultate van die 5,071 lesers wat gereageer het:
1. 853 (17%) – Nee, dis belangrik dat ons almal saam aan ʼn voorspoedige Suid-Afrika bou
2. 256 (5%) – Ek kan glad nie identifiseer met die tipe mense wat só dink nie
3. 2 632 (52%) – Ja, dit is die enigste manier hoe ons veilig in Suid-Afrika gaan bly
4. 660 (8%) – Nee, ek dink dis beter om te emigreer
5. 435 (5%) – Net solank as wat ek weet dit finansieel volhoubaar is
6. 235 – Ek het gedink Orania is reeds ʼn volkstaat
My interpretasie van hierdie syfers is dat 30% van die lesers wat gereageer het, skepties tot negatief is (respons 1, 2 en 4), terwyl 70% positief tot baie positief is. Dit was nie noodwendig die mees wetenskaplike peiling nie, maar met 1,5 miljoen unieke lesers moet Maroela se lesers in elk geval verteenwoordigend van die deursnee Afrikaner wees. Navorsing wat Afriforum in hierdie verband gedoen het, toon ook ‘n baie beduidende swaai oor die afgelope 5 jaar ten gunste van die Orania-gedagte.
So om te reageer of die tyd ryp is – ja, die tyd is verseker ryp. Ek meen Orania se grootste uitdaging is gebouspasie – nie net bekostigbare huisvesting nie, maar ook kantore, nywerheidsgeboue en winkelspasie. As ons die enkele probleem van bouers kan oplos, sal die res vanself Orania toe vloei: Kapitaal, ondernemers, werkers.
Dit is ironies dat ons ‘n gebrek aan bouers het in ‘n land waar almal kla oor werkloosheid en dat jong Afrikaners nie toegang tot die werksplek kry nie!
Die statistiek wat jy voorhou is inderdaad positief en verblydend Appie. Baie dankie daarvoor.
Die opvolgvraag is hoe word meer Afrikaners wat die Orania-idee ondersteun, sover gekry om praktiese uitvoering daaraan te help gee?
Hoe kry ons byvoorbeeld meer bouers op Orania?
Publiciteit help baie. Dit is opvallend dat Afrikaanse media, insluitend Maroela Media betreklik min tot amper nooit oor Orania skryf nie. Dit lyk of net Flip Buys oor Orania skryf, en dan nog in ‘n breër prentjie van Afrikaner selfstandigheid. Dit is baie snaaks, aangesien Sebastiaan Biehl sowel as Jaco Kleynhans gereëld rubrieke skryf vir Pretoria FM en Maroela Media.
As ‘n mens die massa met Orania se idees wil oortuig, sal Orania die massa moet bereik. Die Orania Beweging se strategie via Facebook asook met die kommersiële bylaes in Volksblad is al daarop gerig. Via Facebook is dit egter moeilik om idees in diepte te bespreek. Nietemin is daar laasjaar ‘n poging gedoen met die beginselplakkate, wat aansienlik beter gewerk het as vanjaar se ‘begrond’-rubriek. Dit is egter nie so dat Orania se idees nie beskikbaar is nie. Die boeke van prof Carel Boshoff, Frans de Klerk en Carel Boshoff IV bied egter slegs insig vir ‘n klein publiek. Media-artikels is ‘n goeie tussenformaat wat nog te min beskikbaar is. En dit is seker ‘n taak vir rubriekskrywers as Jaco Kleynhans en Sebastiaan Biehl om in hul nuuskommentare en rubrieke meer die verbintenisse met Orania te soek.
Orania se idees pas goed in by Solidariteit se Plan B idees, wat al ruim aandag op Maroela Media kry. Om op Maroela Media oor Orania te skryf is glad nie ‘n verandering van idees op Maroela Media nie. Vir Netwerk24 is die storie natuurlik anders.
Chris, jy is reg dat publisiteit ‘n belangrike rol te speel het. Dat Orania oor mense beskik wat met gesag en insig oor wêreldgebeure kan skryf, is wat my betref reeds positiewe publisiteit vir Orania.
Dit gesê is daar wel ‘n groot, ongevulde ruimte waar ons die Orania-idee meer eksplisiet moet verkondig.
Sou jy sê dat daar ook ‘n rol vir ons, die ondersteuners van Orania, is om meer aktief ons families en vriende in te lig oor die Orania-idee? Indien wel, hoe kan so ‘n inisiatief ‘n beweging word?
Ebert, die grootste uitdagings bevat ook die grootste potensiaal om Orania oornag te verander. Onder meer:
1. Veilge tuiste vir ons mees weerloses (oumense), maw tema aftreegeriewe soos wat hier in Pretoria opspring soos sampioene.
2. Voordat dit kan posvat is wereldklas gesondheidsorg nodig (wereldklas hospitaal). Beide oumense en gesinne met jong kinders verlang sulke fasiliteite.
3. Saam met dit wereldklas sekondere en tersiere opleiding. Ek verstaan julle werk mooi aan albei. Beide sekondere en tersiere opleiding is in krisis in SA. Dit is ‘n geweldige groot geleentheid vir Orania. Word die nuwe Stellenbosch wat ingenieurs, dokters, chirurge, asook ambagsmane van wereld gehalte oplei!
4. Bekostigbare behuising.
5. Leefstyl! Ek sien julle werk aan daardie tema en dit skep die begeerte om daar te woon. Baie mense is moeg vir die stadslewe en soek ander opsies.
6. Vakansie wegbreek geleenthede met ‘n tema (‘n tipe ATKV oord) kan baie help.
Nou ja, makliker gese as gedoen, maar nie onmoontlik nie.
Vryheid, vrede, veiligheid.
Trevin ek hou baie van jou idees. Wanneer Orania oor al hierdie fasiliteite beskik sal haar aantrekkingskrag aansienlik verhoog.
Dit laat egter ‘n hele klompie ander vrae opduik: hoe befonds ons die skep van hierdie geriewe op so ‘n wyse dat dit oor ‘n korter tyd realiseer? Pioniers op Orania is immers reeds vir ‘n geruime tyd besig om al hierdie fasiliteite op ‘n meerdere of mindere mate te skep, maar hul kon dit nog nie op die skaal regkry wat ek dink jy voorstel nie.
Ebert,
Ek woon tans in Mossel Baai en hier word oor die afgelope 2 jaar 3 nuwe Aftree oorde gestig waar ‘n gemiddelde prys vir ‘n 2 slaapkamer losstaande huis teen ongeveer R 1.4m verkoop word en, daar is ‘n waglys! Wat kan Orania doen om mense wat hulle eie kapitaal bring en hulle huise daar wil laat bou? Ek verstaan heeltemal die behoeftes van mense wat nie die kapitaal het nie, en Orania doen, lyk vir my die beste wat hulle kan met beskikbare fondse.
Daar is twee faktore wat wydsbeen in die pad van groei in Orania staan: behuising en werksgeleenthede. Eersgenoemde is sterk besig om aangespreek te word: infrastruktuur kom mooi in plek, erwe word uitgesit in alle behoefteklasse, woonerwe, sake-erwe, kommersieel- en nywerheidsruimtes is pas beskikbaar. Nou is die uitdaging hoe daardie eiendomme betaal sal word, dus hoe nuwe intrekkers ekonomies n lewe gaan maak. Die antwoord is, dankbaar, eerstens in die voorgenome beleggings in die opleidingssektor. Nog instellings kan daaraan oorweging skenk om so gou moontlik opleidingsmoontlikhede hier te ondersoek ten einde voete te trek en werk te skep. Tweedens moet elke moontlike sakepraktyk wat op een of ander manier vanuit Orania kan uitvoer onverwyld hierheen skuif,- daar is baie wat bestaande afsetnetwerke het en netsowel hier kan vestig. So alleen sal die res hierheen beweeg en sal groei momentum kry en eskaleer. Hoe kom ons daarby? Elkeen wat reeds die Orania-kopskuif gemaak het, moet sakemense identifiseer wat hier kan vestig, en hulle aanmoedig, bearbei. Daarby sal ons ook n grootse bemarkingsveldog moet loods om hierdie kopskuif by sulke mense te ontsluit.
So Ebert, wat my tref van afgetredenes en studente is die feit dat hulle nie werk nodig het waar hulle bly nie (nie noodwendig nie, alhoewel studente altyd werkies nodig het vir daai ekstra geldjies).
Dit maak hierdie twee demografiese groepe anders as die res. Hierdie feit asook die feit dat hulle koopkrag asook besoekers saam met hulle bring behoort hierdie twee groepe ‘n teikenmark te maak vir Orania. Dalk is daar moontlikhede, wat ondersteun word deur die bg feite, wat dalk heroorweeg kan word vir die Orania model.
Daar is innoverende besigheidsmodelle vir aftreeoorde wat Orania kan gebruik om dit te bemark (asook leefstyl wat veiligheid bo aan die lys is). As al die slim mense hulle koppe bymekaar sit kan daar dalk ‘n plan gemaak word. Uitwoners soek geleenthede om te bele in Orania (soos wat onlangs gedoen is met Gannabos) waar dit nie gaan oor skenkings nie, maar beleggings, en dan met die bykomende voordeel dat mens weet jy bou aan jou nageslag se toekoms.
Dan lyk dit daar is reeds planne vir tersiere opleiding alhoewel daar nie baie van die planne gedeel is nie tot dusver (seker met goeie rede). Dis definitief positief. ‘n Landbouskool sal ook positiewe invloed he op die dorp.
Die tyd vir die Orania idee is dalk nie so onryp as wat mens dink nie. Jongmense wat ek mee werk in professionele kapasiteit, meestal in hulle 30’s, begin baie vatbaar te raak vir die idee.
Vryheid, vrede, veiligheid.
O ja, wat betref om dokters (GP’s) te trek na Orania: is daar nie moontlikhede om belowende studente se studiegeld te borg met die ooreenkoms dat hulle die lenings in Orania kom afwerk nie?
Selfde met veearts en apteker.
Ek beplan om tydens skoolevakansies Orania pamflette uit te deel. Ek is tans 18 jaar oud en het al honderde pamflette uitgedruk en gaan dit uitdeel sodra die skolevakansie begin. Ek poog om mense bewus te maak van die Orania-idee en sodoende Orania se ledegetal en ondersteuners te vermeerder sodat die pragtige dorpie nog vinniger kan groei! Groete
Trevin, jy het inderdaad ‘n paar blink gedagtes.Om groei op Orania te stimuleer, moet gefokus word op die twee kwesbaarste groepe in SA – bejaardes en skoolverlaters.
Bejaardes benodig ‘n veilige omgewing en goeie mediese en ander dienste. Skoolverlaters soek opleiding en of ervaring. Veilige aftree-oorde met goeie siekeboegfasiliteite sal beslis gewild wees. Bejaardes benodig ‘n verskeidenheid van dienste en skep sodoende geleenthede vir ander diensverskaffers.
Lei ons jongmense op in praktiese vaardighede soos konstruksie, landbou, elektrisien, ketelmakers, werktuigkundiges, loodgieters, verpleegkunde, onderwys ens. Uitnemendheid op daardie gebiede gaan al hoe skaarser word.Mense sal bereid wees om te betaal om hul bejaardes goed te laat versorg en hul kinders geleenthede te gee wat hul nie elders gaan kry nie. Sommige van daardie jongmense sal hul eie ondernemings begin op Orania en so werk skep.
Op elektroniese gebied moet Orania ook op die voorpunt van die nuutste tegnologie bly sodat internasionale skakeling en dienslewering effektief gedoen kan word vanuit Orania.
Hardehout bome groei stadig, maar solank daar groei is, is daar hoop.
Ek het `n kommentaaar geskryf, maar die “CAPTCHA CODE” wat ek dubbeld nagegaan het, was toe `n “error”. Absoluut onverstaanbaar. Ek probeer maar weer die “CODE”.
Dit gebeur met my ook soms. Ek copy dit wat ek skryf en kan die kommentaar dan weer plaas sonder om alles van voor af te moet skryf.
Baie goed beredeneerde artikel met interessante insigte. Ebert, jy mag maar skryf. Die tema van opoffering ter wille van ‘n hoër doel kom ook telkens in die Griekse mitologie voor (byvoorbeeld die Herkules-sage).
“Die gevaar is dat die swaarkry die pasiënt laat sterf voordat die oplossing aangeneem word.'”
Hierdie enekele reëltjie som die Afrikaner in die breë redelik goed op.
Uit my ervaring dink ek die meeste gaan juis “sterf” voor hul uiteindelik tot die besef kom dat hulle met die minste tans vir die volgende geslag ‘n verskil kan maak, sonder om hulself nou “”ontwortel”en fisies daar in Orania te gaan wortels skiet.