fbpx

Die vraag is op almal se lippe en word dikwels gevra deur voornemende inwoners van Orania.

Daar is geen klinkklare antwoord daarop nie, want in Afrika is daar geen sekerhede nie, en die regerings sê die een ding en doen die ander, sê verskillende dinge vir verskillende gehore en verander ook dikwels van planne. Daar bestaan ook nog geen wet oor die beoogde grondonteienings sonder vergoeding nie en dit word alles nog deur die komitee bespreek, wat wel in Maart aanbevelings sal maak.

Wat ons weet, en wat dikwels genoeg deur die ANC bevestig is, is dat dit voortgaan. Die hoe en wanneer weet nog niemand nie. Tans het die regering egter nie die nodige 2/3 meerderheid nie, en die ANC en die EFF se planne vir onteiening sonder vergoeding is te uiteenlopend dat hulle vir dieselfde wetsontwerp sal stem. Ons kan ook aanvaar dat die stemming eers na die verkiesing van Mei 2019 sal wees, maar dat die onderwerp sterk gebruik sal word om kiesers te mobiliseer. Indien die EFF goed vaar, kan dit die ANC verder oortuig om ʼn meer radikale koers in te slaan. Indien die ANC goed vaar en sy posisie beveilig is, gaan hulle waarskynlik georden voortgaan met die proses. Anders as die EFF, wat net vir die radikale swartmense praat, moet die ANC as regeringsparty die balanseertoertjie doen tussen sy eie uiteenlopende ondersteuners, wat radikales en armes sowel as gematigdes en middelklas bevat, en die buitelandse beleggers wat hulle nodig het vir ekonomiese groei en werkskepping. Anders as wat dit met eks-president Jacob Zuma die geval was, blyk dit tog asof President Ramaphosa die dilemma begryp. In sy onlangse staatsrede het hy weer bevestig dat die grondwetwysiging om onteienings sonder vergoeding moontlik te maak voortgaan, maar die aanduidings is dat ten minste op mediumtermyn geen Zimbabwe-styl plaasoornames beplan word nie. Maak geen fout nie, die beginsel dat grond sonder vergoeding gevat kan word, en die implisiete boodskap dat wit, hoofsaaklik Afrikaner boere nie welkom is nie en soos vreemdelinge sonder regte hanteer word, is ingrypend. Die burgeroorlogscenario waar skares soos in Zimbabwe eenvoudig eienaars van die grond verdryf en die regering dit aanmoedig blyk egter nie nou te gebeur nie. Dit is die doelwit van die EFF, maar blykbaar nie van die regering nie.

Tussen die slegste moontlike scenario van die EFF-grondbesettings en die beste scenario van geen verandering nie is die waarskynlikste een ʼn stap-vir-stap onteiening deur die ANC-regering: eers word staatsgrond opgedeel, dan grond naby die stede waar plakkers reeds op bly, dan sekere plase van spekulante, afwesige eienaars of buitelanders, dan grond in dele wat hoë waarde het en maklik intensief benut kan word sonder te veel inset van kapitaal en tegnologie, soos in Natal en Noord- en Oos-Transvaal. As daar groot getalle swart werkers op die grond bly en die narratief van die “koloniale eienaarspatroon” geld, sal sulke plase ook vir onteiening geoormerk kan word.

Wat Orania betref is daar, anders as ʼn sekere histerie op sosiale media en dreigemente deur enkele swart heethoofde, geen aanduiding dat ons spesifiek geteiken word nie, of dat, soos sommige vrees, die wet spesifiek gemaak is om ʼn rede te vind om “Orania te vat”.

Hier is die redes hoekom ons met redelike sekerheid glo dat die beoogde onteienings Orania nie sal betref nie:

  • Ligging: Orania is in die Karoo geleë, ʼn streek wat yl bevolk is en verder ontvolk. Die demografiese druk van die sentrums en die vrugbare dele bestaan nie hier nie. Hier is geen swart gemeenskappe met historiese aanspraak op grond nie en ook nie die radikale politiek van die sentrums nie.
  • Ver van stede af. As ʼn mens kyk na die onwettige grondbesettings die afgelope tyd, is dit alles naby stede. Alhoewel die narratief van die selfstandige swart kleinboer dikwels deur die ANC bemoei word, is daar baie min wat die opsie wil opneem. Eintlik gaan dit hier oor plakkers wat wettig op die grond naby die dorpe en stede wil bly en dalk ʼn paar hoenders en bokke wil aanhou.
  • Landboupotensiaal beperk. Daar is ʼn goeie rede hoekom swartmense nooit in die Karoo gevestig het nie: hier kan jy nóg met beeste (behalwe as jy voer) nóg met gewasse (sonder besproeiing) boer. Dit is die land vir ekstensiewe skaapboerdery, iets wat net Afrikanerboere en die Griekwastamme beoefen het. Die meer onlangse besproeiingsboerdery langs die Oranjerivier is tegnologies en kapitaalgewys uitdagend en nie geskik vir beginnerboere nie. Die boerderyeenhede in Orania is ook redelik klein en word intensief benut. Die argument van groot, onbenutte of onderbenutte grond geld nie hier nie.
  • Orania se grond word alles deur die eienaars self bewerk, met hier en daar Afrikaner-werkers. Dit is ook hoogs gemeganiseerd. Die situasie met die gehate “koloniale opset” met die wit baas en die swart werkers is nie hier van toepassing nie en ook nie die druk dat die werkers ʼn stuk van die grond wat hulle bewerk, moet besit vir bestaansboerdery.
  • ʼn Gevestigde en weerbare gemeenskap. Daar is ʼn wesenlike verskil tussen ʼn enkele boeregesin wat hulle nie kan verdedig nie, en ʼn gevestigde gemeenskap van sowat 1600 mense. Orania se grond kan nie onteien word sonder dat die hele gemeenskap daarmee saam verskuif moet word, iets wat ons natuurlik nie sal toelaat nie. Geen wet sal ons beweeg om sommer net die grond aan die regering te oorhandig nie. Verder geld hier ook: ʼn bedreiging vir een is ʼn bedreiging vir almal. Terwyl boere meesal op hulleself (en die howe) staatmaak en baie moeilik tot kollektiewe verset oorgaan, is Orania reeds geoefen om in tye van bedreiging van buite (wat gelukkig nog selde gebeur het) saam te staan.
  • Kollektiewe eienaarskap. Orania se grond behoort grootliks aan maatskappye soos VAB en KLK, dus kan nie ʼn individu onteien word nie, maar sal die hele maatskappy en al sy aandeelhouers onteien moet word, wat regstegnies baie moeiliker is (afgesien van die bogenoemde punt dat dit ook fisies feitlik onmoontlik is).

Indirek sal Orania wel geraak word deur onstabiliteit en ekonomiese verval in die land as gevolg van onteienings. Kos sal duurder raak, vervoerroetes gevaarliker, die reeds gespanne klimaat nog slegter. Hoe groter ons eie selfstandigheid is, hoe minder sal die impak van so iets wees.