Het jy al in die Suide op ’n berg gestaan;
die sout van jou bestaan van jou ‘brou gevee soos die aarde ongenaakbaar onder voetsoolvellies kraak?
Het jy al in die Suide in ’n maanligwatervalpoel met skaamtelose skoonheid die spieël met jou menswees geplas?
Het jy al in die Suide jou plek met die kruis gevind, soos die dwaalspoor jou weer teruglei na jou ma;
en in hardekoolvlamme die jakkals hoor roep, na die stories van jou pa?
Het jy al in die Suide met jou hartslied huilhees gesing-skreeu tot die kranse antwoord gee;
en die magtige dreuning van hartsmense op mars in jou are voel bruis?
Het jy al in die Suide aartappel uit die warm sand gegrou;
groenmielies geëet tot die botter blinkvet om jou lippe lekker?
Het jy al in die Suide
… in Amsterdam en Londen en New York en Parys?
Het jy al gevind, my kind,
hoedat elke grondpad jou stoftreestap teruglei na jou huis?
Het jy al, Afrikanerkind… in die Suide op ’n berg gestaan?
Treffend !!
Uitstekend !! Het jou skrywe al seker n duisendmaal gelees,oorvertel,n werklike trots op papier met die mooiste Afrikaans…wat n plesier
Puik,dankie vir hierdie inspirerende skrywe wat die afrikanerbloed weer deur ons are laat bruis.