fbpx

Op 16 Desember word orals in Suid-Afrika Geloftedag herdenk, maar dit is nie meer ʼn amptelike Afrikanerfeesdag soos in die verlede nie. Deesdae is dit meer as ooit ʼn bewustelike keuse teen die anti-Afrikaner tydsgees in om Geloftedag te vier en te volhard met Afrikaner wees. By party Geloftefeeste neem die bywoning toe, by ander is dit ʼn gesukkel om mense bymekaar te kry.

Of ʼn kultuurfees of geskiedenisherdenking wegkwyn of sterker word hang af van die gees en gesindheid waarmee dit gedoen word. As ʼn herdenking net ʼn ritueel is, en as dit gedoen word as ʼn soort sterwensbegeleiding van ʼn volk of ʼn tradisie, wetende dat jonger generasies geen belang daarin en geen begrip daarvoor het nie, dan sal minder en minder daarby betrokke wil wees. Ook enige herdenkings van iets wat eintlik onverdedigbaar is, of wat deur die tyd ingehaal is, sal na ʼn ruk doodloop.

Dit is belangrik om op te let wat en hoe jy iets herdenk. Dit moet relevant bly vir volgende generasies. Dat Geloftedag nog elke jaar, soos op 16 Desember 1838 aan God beloof, herdenk word, is reeds van betekenis. Daar is tye van moedeloosheid van ʼn volk, waar net die werklik oortuigde mense aangaan met die herdenking, en tye waar ʼn golf van nasionalisme groot massas meegesleur het, soos met die honderdjarige Gedenktrek van 1938, maar Geloftedag het in die 180 jaar van sy bestaan nog elke jaar plaasgevind.

In die oë van swart nasionaliste is Geloftedag die viering van wit verowering, maar dit rym nie met die feite nie. Geloftedag was ʼn Goddelike ingryping om die Afrikaner, wat in die binneland uitwissing in die gesig gestaar het, te bewaar en te bevestig. Dit het vir die Voortrekkers nie daaroor gegaan om die Zulu-volk uit te wis nie, hulle wou hulle stuk land in Natal hê en het daarvoor die onderhandelde prys betaal. Eers die verraad en wrede moorde op die Voortrekkers het tot die Slag van Bloedrivier met sy ernstige gevolge vir die Zulu’s en Dingaan gelei, maar die Zulu-volk het onder ʼn ander koning voortbestaan.

In Orania neem die bywoning van die Geloftefees jaar na jaar toe, ook die entoesiasme waarmee dit aangebied word. Dit geld ook vir geleenthede daar rondom, soos die perdekommando-gedenkrit, vertonings van Voortrekkerlewe en die maak en dra van Voortrekkerklere. Dalk is dit omdat Orania ʼn toekomsgerigte gees uitstraal en ʼn positiewe boodskap het.

Die positiewe en toekomsgerigte boodskap van die herdenking van Geloftedag is dit: ons volk was al in moeiliker omstandighede as nou, ons sal weer opstaan en ons is reeds besig daarmee. God het ons destyds uitgehelp en as ons onsself verootmoedig, kan Hy dit weer doen en vir ons vryheid en voorspoed gee.

Alles is nie verlore nie en daar is nooit ʼn einde van die geskiedenis nie. Daar is ook geen einde aan ʼn volk nie, behalwe as die volk self besluit om te wil ophou bestaan.

Blog Single

Herdenkings moet toekomsgerig wees.

by | Des 28, 2018 | Uncategorized | 0 comments

0 Comments

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui