Fondsinsameling vir Helpsaamfonds tydens Fiets- en Wyntoer

Die Orania Beweging se Helpsaamfonds is ʼn nie-winsgewende organisasie wat bydraes lewer tot ons jeug ten opsigte van opvoeding en onderwys asook entrepreneursopleiding en trotse kultuuruitlewing en billike bejaardesorg bevorder.
Die Fiets- en Wyntoer is al byna ʼn jaarlikse tradisie in Orania. Op 28 Desember 2024 het die Helpsaamfonds vir die eerste keer die Fiets- en Wyntoer as deel van die Orania Beweging se vakansieprogram aangebied. Op hierdie toer het Oraniërs en besoekers met fietse deur die dorp gery na verskillende wynproe-stasies. Dié wat nie fiets getrap het nie, het sitplek gekry op die oulike Eleksa pendelbussies of in die Orania Beweging se lugverkoelde toerbus.
Tydens die Fiets- en Wyntoer is bottels wyn opgeveil. ʼn Orania-vlag, onderteken deur elke bywoner van Fiets- en Wyntoer 2024, is ook tydens dié geleentheid opgeveil. Alle fondse wat tydens die Fiets- en Wyntoer ingesamel is, is ten bate van die Orania Beweging se Helpsaamfonds en word aangewend om behoeftige Afrikaners by te staan.
Byna ɸ50 000 is ingesamel tydens Fiets- en Wyntoer 2024. Die Orania Beweging is baie dankbaar vir elke borg en elke ekstra paar hande wat hierdie geleentheid so ʼn groot sukses help maak het.