fbpx

Die Amerikaanse historikus James West Davidson skryf in sy boek A little history of the United States dat geskiedenis iets is wat gemaak word deur mense wat die verloop van gebeure deur hulle aksies verander en gevolglik vir altyd onthou word. Om geskiedenis te maak deur dit te leef is volgens Davidson opwindend, noodsaaklik en soms selfs gevaarlik. “The greatest of those who do are often honored, sometimes denounced, always remembered.”

Sedert die Afrikanervryheidstigting dertig jaar gelede deur Prof. Carel Boshoff gestig is en die idee van Afrikanerselfbeskikking in die Noordwes-Kaap in ‘n ou en vervalle konstruksiekamp in die dorre Bo-Karoo gestalte begin kry het, het die pioniers van ons strewe soms die nodige erkenning, maar ook baie keer die veroordeling en selfs bespotting van opposisie gekry. Vandag dertig jaar later is dit egter noodsaaklik dat ons seker maak dat die pioniers van ons beweging vir hul visionêre werk onthou word. Ons kan begin deur in Orania en by die Orania Beweging (voorheen die Afrikanervryheidstigting) ons grootste pionier, Prof Carel Boshoff en sy nalatenskap te herdenk en te vier. Hiervoor gaan die Orania Beweging hom beywer vir ‘n stadsplein wat ons stigter se naam sal dra, ’n standbeeld van hom en ook ’n herontdekking van sy skryfwerk, denke en drome vir ’n volkstaat in die Noordwes-Kaap.

Wat aan die hand van Davidson se definisie die Orania-pioniers werklik uitsonderlik maak, is die wese waarop die gaping tussen idee en werklikheid deur hulle oorbrug is. Teen die 1980’s was Afrikaners in ’n doodloopstraat. Ons mense het ’n goeie lewe gelei, maar die tekens was duidelik genoeg dat dit nie vir altyd kon bly voortbestaan nie. Baie Afrikaners en Afrikanergroepe het allerhande planne oor ons toekoms begin maak. Van die meeste hiervan het daar nooit enigiets gekom nie. Hoewel Orania vandag nog klein is, is Orania ’n gevestigde werklikheid waar die idees van leiers soos Prof. Boshoff daagliks gestalte kry.

Terwyl pioniers onthou en herdenk moet word, is die beste manier om hul idees en drome lewendig te hou, sekerlik om die werk waarmee hulle begin het, voort te sit en dit verder uit te bou. Dertig jaar na die stigting van die Orania Beweging is dit nodig om vandag en hier die regte dinge te doen ten einde te verseker dat die Orania van vandag tot die vrye Afrikanerstaat van môre uitgebou kan word.

In sy boek oor die geskiedenis van die Verenigde State van Amerika, vertel Davidson hoe ’n volk wat uit diverse individue bymekaar gekom het, saam ’n revolusie teen Brittanje kon voer en hul weg kon oopveg tot onafhanklikheid. Die vraag was egter altyd daar: Kon hierdie eenheid instand gebou word? Kort na die verklaring van onafhanklikheid het die Amerikaanse kongres die leuse van hierdie nuwe land bekend gestel: E pluribus unum – Uit baie, een.

Die Afrikaner is ook vandag erg versplinter. Kyk ’n mens na wie dit is wat elke dag in Orania aankom om hier ’n lewe te kom maak beleef jy die interne diversiteit wat uit nood meegebring is. Soos daardie dromers wat New York op skepe binnegevaar het, sien ons mense met ’n gesamentlike droom, maar ’n diverse agtergrond.

Ja Afrikaners is almal Afrikaners en ons taal, kultuur, geloof en geskiedenis snoer ons saam. Ons is egter ook deesdae uiters verdeeld in ons toepassing van die basiese dinge soos geloof en kultuur en verskille op sosiale en ekonomiese terrein skep ook unieke nuwe uitdagings. Slegs taal, geloof en kultuur is nie genoeg om ons in die toekoms te bly saambind nie.

In Orania is wie ons is, die noodsaaklike vertrekpunt, maar sonder ’n gedeelde droom en visie is ons projek gedoem. Orania en sy instellings moet waak teen ’n situasie waar ons strewe na vinniger en meer effektiewe ontwikkeling ons vermoë om idealiste en dromers te wees stukkie vir stukkie vernietig. Is dit nie maar wat met die Afrikaners van die 1970’s en 1980’s gebeur het nie? Ons sukses het ons vermoë om saam te droom vernietig. Is dit nie ook wat tans in Amerika gebeur nie? Die Amerika wat uit een droom tot die grootste en magtigste land opgebou is, is besig om homself vandag weer uit mekaar te skeur. Of so lyk dit toenemend van buite.

Thomas Jefferson, die derde president van die VSA, was anders as sy twee voorgangers George Washington en John Adams ’n ewige optimus. Nadat hy president geword het, skryf hy: “I steer my bark with Hope in the head leaving Fear astern.”

Die Afrikanerleiers van vandag kan iets hieruit leer. Indien ons te veel op vrees gaan fokus gaan ons, ons vermoë om te bly hoop en droom verloor. Vrees kan ’n volk help mobiliseer, maar vrees kan geen volk na ’n beter toekoms lei nie. Hoop kan dit wel doen. In Orania moet ons vandag, dertig jaar na die stigting van die Afrikanervryheidstigting, hoop vind in ons vermoë om steeds by ons ideale te bly staan en indien elke Oraniër vandag verby obsessiewe eie belange en gespanne vrese vir wat om elke draai ons kan verslind, kan kyk kan ons deur ons gedeelde droom en visie van Afrikanerselfbeskikking in die Noordwes-Kaap ons pioniers se wense ’n werklikheid maak