In ’n gesprek ongeveer 4 jaar gelede met Jan-Jan Joubert op Orania rakende die meriete van federalisme teenoor die huidige bestel van gesentraliseerde liberale demokrasie, het Frans de Klerk (vir federalisme) gesê dat Orania die verloop van tyd aan sy kant het.

Die waarheid daarvan het die afgelope maand baie duidelik na vore getree. Selde is daar voorheen so baie gedink en geskryf oor die wyse waarop ‘n volk of etniese groep tot selfverwesenliking kan oorgaan as juis nou nie.

Aan die een kant van die spektrum is daar die Bruin Belangebeweging wat besef dat hulle die getalle- en ’n groot deel van die ekonomiese krag van die Wes-Kaap verteenwoordig, maar baie min waarde vir ondersteuning  van die sentrale ANC (en les bes die DA wat poog om die meerderheid swart kiesers van die ANC af te rokkel) ontvang.

Aan die anderkant is daar die poging van die media om opslae te maak deur Kleinfontein onder die skerpste soeklig moontlik te plaas.

Konsensus dat die gesentraliseerde liberale demokrasie nie aan die drome en aspirasies van Suid-Afrika se verskeidenheid van gemeenskappe uiting kan gee nie, kring nou baie wyer uit as die groepie idealiste wat die Orania-ideaal meer as drie dekades gelede begin bedink het. Al bestaan daar nie eenstemmigheid oor die pad vorentoe nie, kan ons nie meer as net blote randfigure afgemaak word nie.

Dit is egter belangrik om terug te gaan na die gedagtes wat ons ideaal onderlê; om vas te stel of dit oor universele waarheid beskik wat die toets van tyd kan deurstaan. Tewens, wat sterker kan word namate dit van huis tot huis gefluister word.

Sonder eie arbeid is ’n volk nie volhoubaar nie

Dit is altyd lekker om jou brood aan beide kante gebotter te hê. Om soos ’n feodale  heerser deur jou landerye te stap, inskiklik die hoof te knik waar goeie werk gedoen word en soos ’n getroue vader die roede in te lê waar dinge nie na wense gebeur nie. Om hierdie posisie nie te moet verdien deur jouself vanaf die onderste sport op die leer op te werk nie, maar om dit as ’n geboortereg te ontvang.

Lekker mag dit wees, maar volhoubaar was dit nog nêrens volgens die geskiedenis nie. Die dinastieë wat toegekyk het hoe die piramides van Gisa opgerig is, is nie meer met ons nie. Aleksander die Grote se Masedoniërs kon nie sy ryk vir enkele jare aanmekaar hou nie. Die Romeine se taal is dood. Die Franse adel se koppe het letterlik gerol. Die Britse Empaaier buite Brittanje het gekrimp tot ’n paar eilandjies wat nie op hulself aangewese kan wees nie.

Die Afrikanerdom, wat eens tot aan die Kunene gestrek het, het gekrimp tot ’n klompie erwe wat, buite Orania, belasting aan ’n vreemde owerste verskuldig is.

Daar is diegene wat dink dat dinge anders vir ons sou uitgewerk het as die Franse die Kaapkolonie oorgeneem het in plaas van die Britte. Of as die Boererepublieke die Engelse oorlog kon wen of indien die Konfederale state van die VSA hulle burgeroorlog teen die Unie gewen het, of selfs as die Duitsers een van hulle twee oorloë in Europa gewen het.

Tog sou geeneen van hierdie gebeure, indien hulle anders sou verloop het, ons lot op die Suidpunt van Afrika kon omkeer nie, want aan die einde van die dag is dit altyd die meerderheidsbewoners van streke wat oor die eksklusiewe reg  beskik om die aard, karakter en instellings van daardie streke oor die langtermyn te bepaal.

Die Duitsers kon twee vernietigende oorloë sleg verloor, maar steeds het Duitsland Duits gebly. Want hulle was die meerderheid in hulle gebied. Afrikaners het hul bosoorlog en townshipoorlog gewen, maar omdat ons ’n minderheid op ons grond was, kon Suid-Afrika nie Afrikaans bly nie. Die stryd kon dalk tot nadeel van almal aangestry word, maar die uiteinde sou altyd dieselfde wees; meerderheidsregering oor die meerderheid van Suid-Afrika.

Ons tragedie was nie wat ander aan ons gedoen het nie, maar wat ons aan onsself gedoen het toe ons sekere take as benede onsself gesien het, terwyl ons ander op rassistiese wyse uitgebuit het om die take vir ons te doen. Dit was die groot sonde van Apartheid.

Ons kan egter onsself nog deur ons arbeid van die kettings van die foute van ons verlede verlos en vir ons volk, vir ons kinders, ‘n toekoms loswerk indien ons ook aan die volgende twee vereistes voldoen.

Sonder eie grond is ’n volk nie volhoubaar nie

Sonder die aarde is die mensdom niks. Ons mag dalk al op die maan geloop het en luisterapparaat tot in die uithoeke van sonnestelsel gestuur het, maar as die aarde môre vergaan, is ons almal daarmee heen.

Net so is die rykdom van die Weste onlosmaaklik deel van die konsep van private eiendomsreg. Op en deur sy stukkie grond kan die individu homself beveilig en verryk. Daar kan gerus word en gewerk word. Geboer word, gemyn word, handel gedryf word, rekenaarbedieners gehuisves word,  voorraadverspreiding vanaf gedoen word.

Wat vir die mensdom as geheel en vir die enkeling op sy eie geld, kan nie anders om ook vir die volk te geld nie. Sonder grond het ’n volk nie skole, tegniese kolleges, universiteite, navorsingsentra, hospitale, polisiestasies, parke, raadsale, pleine, kunsgalerye, begraafplase en al die ander plekke waarin ’n volk tot uitdrukking kom nie.

Ook die geskiedenis bevestig hierdie waarheid. Wat het van die Bisantyne geword? Of die Vandale? Wat van die Fenisiërs? Hoewel elk getel is as ʼn sterk en ryk volk, het hul as volke gedisintegreer nadat hul, hul grond kwyt geraak het.

’n Volk word deur sy instellings geken

Jy kan, soos die Bruin volk van die Kaap, die meerderheid van ‘n gebied vorm en die krag agter die arbeid wees, maar sonder instellings kan jy nie kollektief beding en jou regverdige aanspraak op die uitsette van die grond maak nie.

Dit is alleen deur sy instellings waardeur ’n volk geken kan word. Kultuur vind uitdrukking in argitektuur, kookkuns, musiek, literatuur, drama, politiek en waardes. Elk van hierdie word deur instellings gevestig, in stand gehou en uitgebou.

Sonder instellings is ’n volk sonder sintuig of vorm.

Die toekoms wink

Hierdie beginsels geld nie alleen vir Afrikaners nie. Baie volke het al ondergegaan of nie hul potensiaal kon bereik nie, omdat hulle nie aan die vereistes van eie arbeid, eie grond en eie instellings kon voldoen nie.

Dit is egter nie te laat nie.

Vir so lank as wat daar lewe is, stu ons voort. ’n Boer maak ’n plan en ons het uit ons foute geleer. Orania gee die toon aan. Elke dag word ons uitkoms nader gewerk. Die tyd is, vir die eerste keer in die geskiedenis, aan ons kant.

Die uitdaging vir die korttermyn sal soos met Kleinfontein, die opregtheid van ons volk se strewe vir vrye verwesenliking wees, want as dit bloot ’n strewe om rassistiese afsondering of bevoordeling is, sal die stryd verlore wees nog voordat dit werklik begin het.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel