fbpx

Annemarie Hoogenboezem

(Hierdie is ‘n opiniestuk geskryf deur ‘n onafhanklike skrywer)

Met die jongste feministebeweging is die meeste van ons is goed vertroud. Dit spoel deur tot elke faset van ons moderne bestaan. In die klerewinkels kry ons t-hemde wat vol bravade uitbasuin, “the future is female.” Vrouens knip hul hare kort, kleur dit pienk of blou en dra lospassende “androgynous” (nie-geslagspesifieke) klere en maak hul kinders (indien hulle kies om enigsins kinders te hê) alleen groot.

Midde-in hierdie chaotiese tydperk blyk daar ’n nuwe beweging aan ’t ontstaan te wees. Die #tradwives kry groot aftrek op sosiale media platvorms in Januarie 2020. Die term het sy ontstaan uit die woorde “tradisionele vrou” (traditional wife). En die #tradwives-beweging is ’n groep vroue wat hulle beywer vir ultra-tradisionele geslagsrolle.

Wanneer ’n mens hierdie hutsmerk soek op die internet vind jy dikwels foto’s van tuisgemaakte geregte en vars gebak met gesegdes daarby soos, “’n Vrou se plek is in die huis” en “Om te probeer ’n man wees, is ’n vermorsing van ’n vrou”. Volgens die BBC is hierdie beweging in die besonder kontroversieel omdat dit geassosieer word met die ver regses op die politieke spektrum, veral in die VSA. Maar baie vrouens wat hulself beskryf as “tradwives” ontken egter hierdie assosiasie.

Een so ’n vrou wat opslae maak, is Alena Kate Pettitt wat op 20 Januarie 2020 ’n onderhoud met die BBC gevoer het waarin sy verduidelik waarom sy hierdie leefstyl gekies het. Intussen het sy op talle Britse TV-geselsprogramme verskyn en haar YouTube-kanaal floreer. Dit gaan vir haar daaroor om terug te keer na die tradisionele Engelse etiket, leefstyl en waardes, verduidelik Alena. Sy wil haar “onderwerp aan haar man en hom bederf asof dit 1959 is.”

Hierdie beweging wat terugkeer na tradisionele, huislike en familiewaardes het feministe warm onder die kraag. Die “tradwives” word uitgekryt as vroue wat “misogyny” (haat teenoor vroue) tot so ’n mate geïnternaliseer het, dat hulle dink dat dit al is waartoe hulle in staat is – om huisvroue te wees.

Alena sê egter sy verstaan feministe is juis ten gunste van keuse, dat vrouens behoort te kies watter leefstyl en beroep hulle wil volg. Waarom is hulle dan so ontsteld is dat party vrouens kies om ’n tradisionele leefwyse te volg, wonder sy hardop. Boonop blyk dit uit die getuienis van talle vroue wat Alena ondersteun dat hulle leefstylkeuse eers ná hulle vir ’n tyd lank beroepsvroue was, gekom het. Dit wil daarom voorkom of hulle altwee wêrelde beleef en ’n nugter besluit gemaak het om tuisteskeppers te word eerder as beroepsvroue. Alena verduidelik dat haar ma ’n enkelouer was en dat huishoudelike take vir haar ’n groot las was, omdat sy voltyds gewerk het.

“Tradwives” sê aan feministe: dankie vir die langbroeke, maar ons sien die lewe op ’n ander manier.

Alena sê dat daar eintlik deesdae nie meer rolmodelle is vir vrouens wat wil huisvrouens wees nie, en dis daarom dat sy en ander vroue van die “tradwife”-beweging terug verlang na die 1950s en 1960s, toe dit iets was om te vier wanneer iemand ’n huisvrou was. “Om nie eers te praat van die mooi modes van die tyd nie – ek hou daarvan om vroulik aan te trek soos ’n dame.”

“Ek dink dit is besonders belangrik om moeite te doen vir jou huweliksmaat en ek doen dit vir myself ook. Almal voel beter wanneer hulle mooi aantrek. Ek vind dit ook nie aantreklik as hy [haar man] rondlê in ’n sweetpak nie. Hy trek mooi aan vir my ook. ’n Mens moet nogsteeds met jou huweliksmaat ‘uitgaan’ om die sprankel te behou. Dis belangrik om mekaar aantreklik te vind en te flankeer.”

Sy sê dat dit nie gaan daaroor om die tydperk in die geskiedenis te idealiseer nie, want daar was ook baie gebreke in daardie tyd. Dit gaan daaroor om dele daarvan waarmee die “tradwives” identifiseer, uit te lig en toe te pas in die moderne leefstyl. Alena beklemtoon die feit dat die leefstyl ’n keuse is en dat sy besef vrouens het nie noodwendig in die 1950s die keuses gehad wat vrouens vandag het nie; sy romantiseer dus glad nie die tydperk nie. “Vir my gaan dit tot ’n groot mate oor die estetika van die tyd. Dis juis die fantastiese daarvan om in 2020 te leef – ons behoort die vryheid te hê om jou leefstyl te kan kies en nie veroordeel te word daaroor nie.”

Sy sien haar gesin soos iets wat funksioneer amper soos ’n besigheid, daarom speel elkeen sy rol daarin. “My man is die broodwinner en dit is sy departement om na om te sien. Daar word dan ’n deel van die inkomste toegeken aan my waarmee ek omsien na my departement wat die verbruikersprodukte (consumables) van die huishouding is soos kos en brandstof vir die motor.”

Natuurlik is daar ook ’n deel daarvan wat sy op haarself spandeer. As sy spaarsamig werk met die geld, is dit wat oorbly hare om te spandeer. “Dis nie asof ek konstant my betalingsbewyse hoef in te handig by my man om te bewys dat ek ’n goeie vrou is nie.”

Wanneer sy gevra word of haar man se rol belangriker is as haar eie, antwoord sy eenvoudig: “Ek sal nie my man se verantwoordelikhede wil hê nie en ek dink dis belangrik om hom te ondersteun. Daar is nie sprake van ’n magsbalans nie – ons neem mekaar in ag. Toe ons getrou het, het alles ons s’n geword. Dis nie dat ek hom moet vra om sy geld te spandeer nie. Dis óns geld, óns kind en óns huis.”

Mense wat hierdie tipe leefstyl handhaaf het ’n ander uitkyk in terme van geld. Omdat een huweliksmaat die broodwinner is, moet hulle mooi werk met hul geld – hulle moet spaarsamig wees en saam besluite neem oor geld om hierdie tipe leefstyl te laat werk. In vandag se tyd is dit amper ’n gegewe dat mans en vrouens altwee moet werk en daarom was dit nodig vir Alena en haar man om heelwat luukshede op te gee sodat hulle die leefstyl wat hulle leef, kan bekostig. “Ons vind hierdie leefstyl meer waardevol as kontant in die bank.”

Alena en haar man het albei in enkelouerhuishoudings groot geword waar hulle moeders uit gegaan het om te werk. En hulle het gekies om hulle leefstyl anders in te rig. “Wanneer my seun groot word sal hy ook die keuse hê om te besluit watter tipe leefstyl hy wil volg.”

Sy sê dat hulle ’n leefstyl gevind het wat regtig hul huwelik laat floreer en sy dink dat ander mense toegelaat moet word om daardie opsie te ondersoek, sonder om gespot te word daaroor.

Hierdie verteenwoordiger van die “tradwife”-beweging sê verder dat soveel vrouens verontagsaam voel en dankbaar is dat sy uiteindelik iets sê, omdat vrouens wanneer hulle gevra word wat hulle doen vir ’n lewe, antwoord dat hulle NET ’n huisvrou is. “En eintlik is dit 20 werke wat ’n mens doen terselfdertyd en dis ’n voltydse werk; daar is nooit ’n dag af nie.”

Vrouens soos Alena sien hulself as ’n weermag geklee in voorskote. “Mans en vrouens word konstant beskaamd gemaak vir hulle tradisionele leefstyle – en dit, liewe liberales, is nie progressief nie.”

Bronne:

https://www.bbc.com/news/av/stories-51113371/submitting-to-my-husband-like-it-s-1959-why-i-became-a-tradwife?fbclid=IwAR2TT7nB0kI5XnU6zrbQgjCZmMPiKt9SzMQVhq4kK_5cIJgIrId1HqNlkI0

https://www.thedarlingacademy.com/articles/why-your-husband-should-always-come-first/

https://www.thesun.co.uk/fabulous/10790521/mum-tradwife-spoil-submit-husband-1959-women/

https://www.stylist.co.uk/long-reads/traditional-1950s-housewife-tradwife-tradlife-explained-women-reject-feminism-careers-domestic-housework/315360

https://www.amazon.co.uk/Fascinating-Girl-Helen-Andelin/dp/1403373515