fbpx

deur Pieter Krige

Vanaf my stoep, hier op my klein-hoewe, die een wat ek en Lianda, my liewe vrou, speels die ‘Ou-Transvaal’ noem, kyk ek na die ligte somerbries wat die pekanboord se blinkgroen nuwe blare ligweg wieg. In Orania het ons eintlik net twee seisoene, die warm een en die koue een. Dit is die begin van die warm een, en die wêreld verkleur dankbaar. Dit lyk sommer na lewe! Daar is iets van groot geloof nodig om ‘n pekanboom te plant, enige boom sekerlik, maar een wat eers na bykans ‘n dekade vrug dra, vereis groter geloof as wat vandag se kitswêreld noodwendig ruimte voor bied. Ek is dankbaar vir die kitswêreld ook, dit is lekker om dadelik met ons ondersteuners van regoor die wêreld met die tik-tik van ‘n klompie sleutels te kan kommunikeer, lekker om ‘n foto van ‘n klompie jong Oraniërs wat saam plesierig is te kan neem, en dadelik aan ons vriende in Stockholm, St. Petersburg, Perth, Tirool en Texas te stuur, lekker om iets soos Game of Thrones sommer dadelik te kan stroom na waar ons dit kan kyk. Maar die kitswêreld het soms ook die uitwerking dat ons nie verder as die volgende KFC deurrit kan, wil of hoef te beplan nie. En dit skep ‘n kultuur van onmiddellike bevrediging, van “entitlement”, en ongelukkig, met ons politieke verwagtinge en nood in die vervallende Suid-Afrikanisme, een van “vryheid nou!” “vlieg nou!” “trek nou!” In my aard is ek ook haastig, ook angstig oor die totale verval, maar ek reken deel van die redes vir die verval, is die gebrek aan langtermyn visie en beplanning, die inkoop in die goedkoop kitsoplossing sodat ek na die uitdeel van ‘n t-hempie en tweeliter Fanta genoeg stemme kan kry om darem ‘n plekkie in die parlement te kan bekom… Die langtermyn beplanning in die Suid-Afrikaanse politiek is van verkiesing tot verkiesing. Ek staan dus redelik onverbaas voor die twee wêrelde wat teen mekaar gekontrasteer word. Aan die een kant, hier in die Karoo, is daar 3 dekades gelede pekanboorde geplant, en aan die anderkant is daar beplan oor hoe die volgende verkiesing gewen kan word. Twee wêrelde wat toenemend van mekaar verwyderd word.

Dit vat ‘n sekere tipe geloof en versiendheid om in die Karoo ‘n pekanboom te kom plant, en die boom word as’t ware ‘n metafoor wat Orania kan beskryf. Geplant, om dit te versorg, vir lank, vir dekades, met die oog op en geloof dat die vrug sal kom, op die regte tyd.

Drie dekades gelede het ‘n klompie pioniers die visie gehad, om die Orania-saad in die vrugbare Oranje-oewer te kom plant, en vir drie dekades is dit gekoester en versorg, met die geloof dat die vrug sal kom, en hulle het hierdie Orania-boom geplant, sodat dit kan groei om vir my en my mense lewe te kan bied… Hier kyk ek nou hoe my kinders onder die lafenis van ‘n pekanboord speel, en ek besef iets groots: Om vry te kan wees, moet mens in geloof en hoop bome plant, met die oog op ons genadige God en die vrye toekoms vir ons mense;

want ‘n boom sal tog aan sy vrug geken word.

(Menings op die Orania Blog is nie noodwendig die menings van die Orania Beweging nie)