fbpx

Pieter du Toit en Lizel Steenkamp beeld’n boodskap van President Zuma uit waarin hy sê dat ons, Afrikaners, ’n ruimte moet vind waar ons veilig is en waar ons die vrymoedigheid het om dit wat vir ons belangrik is uit te leef.

Ek stem saam met mnr. Zuma, want Afrikaners kan in alle opsigte net beter af wees met ’n eie ruimte bo en behalwe die deel wat ons het in die Suid-Afrikaanse ruimte.

Wat ek egter nie mee saamstem nie, is dat daardie tuiste sielkundig moet wees.  Hoe stap ek saam met my gesin in ’n sielkundige straat af wat belyn is met Afrikaanse skole, Afrikaanse biblioteke, boekwinkels, koffiewinkels, wynwinkels, banke ‘n teater en ’n Afrikaanse universiteit?  Watter nut het ’n Afrikaanse skool vir die oordrag en uitbreiding van my kultuur as daardie skool net in my gedagtes bestaan?

Is die boodskap van mnr. Zuma dalk een wat sê hy verstaan wat ons behoefte is, maar dat ons net daaroor mag droom en niks meer nie?

Ek verstaan dat heelwat belastingbetalersgeld na Nkandla gevloei het sedert mnr. Zuma president geword het.  ’n Voorbeeld hiervan is die R65 miljoen wat op verbeteringe vir sy huis in Nkandla spandeer is.

Indien Afrikaners se tuiste slegs sielkundig is, sal dit vir die regering onnodig wees om soortgelyke fondse vir die ontwikkeling daarvan beskikbaar te stel.  Dit sal nog minder ’n bedreiging vir hul voortdurende sentralisering van mag inhou.

Ek woon nou reeds vir 4 jaar in Orania en ek het nog nooit gevind dat dit my weerhou om te deel in die res van Suid-Afrika nie, inteendeel, dit verhoog my waardering vir Suid-Afrika.

Orania is reeds vir duisende Afrikaners ’n kulturele tuiste en hulle is almal ryker daarvoor.  Suid-Afrika is ryker as gevolg van Orania se bestaan.  Meer Afrikaners kan gerus begin om Orania te aanvaar vir wat dit is: hul eie.