Die 2000 hofsaak: Orania teen die regering
Wat as die Orania-projek in sy spore gestop is voor dit ordentlik kans gekry het om te begin? Op 24 Desember verlede jaar was dit 24 jaar na die hofsaak wat Orania se toekoms bepaal het. Die OVR (Orania Verteenwoordigende Raad) vind sy oorsprong in die jaar 2000, toe die regering Oraniërs wou dwing om met die buurmunisipaliteit “Thembelihle Local Municipality” te integreer. ʼn Bepalende hofsaak, en genade van Bo, sou Orania se toekoms bepaal!
Die dorp Orania is in 1991 deur Afrikaners aangekoop met die doel om ʼn groeipunt vir Afrikanervestiging te stig. Die idee was om met ʼn groeipunt hier in die Karoo te begin om sodoende selfbeskikking van grondvlak af op te bou.
In 1994 wen die ANC die verkiesing in Suid-Afrika en word die regerende party. Byna onmiddellik begin die ‘transformasie’ van munisipaliteite, maar samelopend word munisipale stelsel in Suid-Afrika ook verander na die nuwe “kant tot wal” munisipale stelsel; elke sentimeter van die land word nou onder ʼn munisipaliteit se bestuur gestel.
Orania, die Afrikanerdorp (wat teen 2000 toe die wet geïmplementeer sou word reeds nege jaar lank sou bestaan) word hiervolgens by Thembelihle ingedeel.
Sou Oraniërs dit so aanvaar?
Dit is belangrik om te noem dat ʼn debat oor selfbeskikking op daardie stadium in Suid-Afrika aan die gang was, en dat artikel 235 van die grondwet die najaag van selfbeskikking moontlik (of ten minste nie totaal onwettig) gemaak het.
Teen hierdie agtergrond, en met vryheid as einddoel, het die Oraniërs hulle saak teen inlywing by Thembelihle gestel. Die Orania-span het besef dat, sou die 2000 munisipale verkiesing plaasvind, en Orania as kiesafdeling in die nuwe munisipale stelsel ingelyf word, dit finaal sou wees – Orania se publiekregtelike status as Afrikanergemeenskap sou daarmee heen wees.
Per toeval, of eerder genade van Bo, het die staatsamptenare nagelaat om Orania se inlywing in die staatskoerant te publiseer! ʼn Wonderlike geleentheid.
Willie Spies, Orania se prokureur, het saam met advokate en Orania se verteenwoordigers ʼn dringende hofaansoek gebring – twee weke voor die verkiesing.
Die saak sou uiteindelik op 4 Desember, een enkele dag voor die verkiesing, voorkom!
“Aan die een kant van die hof was dit ʼn see van oranje, Oraniërs wat in oranje geklee was om hulle dorp te verteenwoordig, aan die ander kant ʼn see van swart togas- al die verskillende regspanne in hulle togas,” vertel Willie Spies.
Die regspanne teenwoordig was dié van die regering, die onafhanklike verkiesingskommissie, die onafhanklike munisipale afbakeningsraad … en die Oraniërs.
Die regterpresident het ʼn reuse uitdaging gehad, hy sou nie dieselfde dag kon uitspraak lewer nie, maar indien die saak nie tot ʼn uitkoms kom nie- sou die hele land se munisipale verkiesings uitgestel moes word. Niks sou kon voortgaan indien een munisipaliteit se status nie hanteer is nie.
In die lig hiervan was die partye bereid om met die Oraniërs te skik, eerder as om die landswye munisipale verkiesings uit te stel (die eerste munisipale verkiesings onder die ANC, en die eerste onder hierdie nuwe munisipale bedeling).
Daar is ʼn skikkingsdokument opgestel, en dit was Orania se eerste groot oorwinning. Op grond van hierdie skikking het Oraniërs deur die jare gebou en meer en meer regte opgeneem.
Dit is die direkte gevolg van hierdie gebeur dat Orania sy eie, totale unieke, munisipale bedeling kon vestig. Oraniërs betaal hulle eie munisipale heffings aan ʼn eie plaaslike owerheid, kan eie bywette maak, en eie verteenwoordigers verkies. Terwyl ons hoop op, en bou aan, nog verdere uitbreiding van ons vryheid, kyk ons met dankbaarheid terug na 4 Desember 2000, en die genade wat daarmee saamgekom het.