Desembervakansie in Orania – wat het gebeur?

Orania word dikwels beskryf as ʼn toeristedorp – en alhoewel Orania in die eerste plek ʼn Afrikanervryheidstrategie is, lê daar waarheid in hierdie beskrywing. Orania is op sy besigste tydens die vakansietydperk en Desember 2024 was geen uitsondering nie.
Oraniërs, wat gewoond is aan minimale padverkeer, moes weer koers hou tussen al die GP-nommerplate. Gastehuise, chalets en kampeerterreine was vol bepsreek. Desember is ʼn ideale tyd vir restaurante en geskenkwinkels wanneer honger besoekers hierdie “interessante dorpie” kom besoek en gewoonlik iets daarvan as aandenking met hulle wil saamneem.
Die Orania Beweging se vakansieprogram het gesorg vir daaglikse aktiwiteite en geleenthede. Oop mikrofoon-aande, opvoerings, verfbalgevegte, ʼn kerkbasaar, gemmerbroodhuisies bou, kerssang, ʼn waatlemoenfees en nog baie ander dinge het in hierdie program opgesluit gelê. ʼn Desembervakansie in Orania is een van die beste maniere om Orania aan besoekers bekend te stel. Dit is in die vakansietyd wanneer ʼn mens werklik die atmosfeer van ʼn vry, veilige en vrolike Afrikanergemeenskap beleef.
Die Desembervakansie in Orania bied ʼn kombinasie van kultuur, ontspanning en ʼn diep gevoel van gemeenskap, wat besoekers met ʼn spesiale herinnering aan hierdie unieke Afrikanerdorp laat.
Kyk gerus dié video-reeks deur Willem Boshoff, intern by die Orania Beweging: