fbpx

Geagte Oom Paul
14 November 2019

Hierdie sal seker die eerste van baie briewe aan Oom wees. Ek hoop Oom sal verstaan, want ek het baie op die hart. Natuurlik nie met hoëgere woorde nie, alhoewel die skool en boeke my dit ook geleer het, maar sommer in gewone taal, omdat Oom ook mos maar ‘n gewone Boere-oom was. Ek skryf, omdat ek graag met Oom stukkies wil deel, sommer maar my gedagtes en idees, en ook iets vertel van wat gebeur het, waarmee ons besig is, en wat ons hoop in die toekoms sal gebeur. Natuurlik is die toekoms, en Oom was ook diep-dopper gelowig, nie in ons eie hande nie, maar menslik gesproke praat ek sommer. Ons werk steeds aan die Vryheid waarvoor Oom-hulle ook gewerk het, ons het dit nog nie gekry nie…

Dinge gaan maar rof hier in Zuid-Afrika, of soos dit tans bekend staan as Suid-Afrika of selfs Mzansi, maar ons hou moed en bou voort. Ons het mos die oorlog verloor, maar Oom weet dit, en die ou Boererepublieke het eers deel van die empaaier geword, en later darem weer een republiek, maar dinge was maar nooit dieselfde nie. Oom sien, daar het werklik baie dinge verander, sommiges mooi en goed, ander weer minder mooi en seer.

Miskien moet ek begin om Oom van die mooi en goeie dinge te vertel, dit is altyd sleg om slegte nuus op ‘n nugter maag te kry. Ons kon dit regkry om uit die groot depressie op te staan. Daar is baie mense wat hieraan meegehelp het, maar dit was ‘n handjievol wat die idee gehad het, en dit tot uitvoering kon bring. Generaal de Wet het die ds. wat die idee gehad het goed geken, ds. Kestell, ek weet nie of Oom hom geken het nie. Hy het woorde gehad wat steeds vandag in my hart warm klop: “‘n Volk red homself!” Sy organisasie het die beskrywende naam gekry van die Reddingsdaadbond, en hoe het ons nie onsself gered nie! Na die Ingelse alles gebrand het, en ons soveel kruisies moes plant vir al ons kinders en vroue wat in die kampe vir die kroon geoffer is… maar ek dwaal af. Ons het uit die as van ‘n verskroeide aarde opgestaan, en weer begin bou. Oom moet ons taal vandag beleef! Lewend, bruisend en ontwikkel tot die hoogste akademiese en wetenskaplike vlakke, en Oom Paul, ons het universiteite gebou! Oom moes dit sien, en ek sê moes, want dinge het verander. Maar dit was groot en mooi en Afrikaans.

Oom het eenkeer gesê dat ons die goeie en edele uit die verlede moet neem, en die toekoms daarop moet bou. Oom Paul, ons het probeer. En van dit het gewerk, en van dit het nie…

Terug by die Reddingsdaadbond. Hierdie ds. Kestell het ‘n plan gehad, daar was ‘n enorme byeenkoms by die Voortrekkermonument in Pretoria, o ja, vandag praat mense van Tswane as die plek se naam, maar vir my en my mense is dit Pretoria, Oom se beeld staan nog daar op die plein… Amper die hele volk was daar byeen toe die hoeksteen op 16 Desember 1938 gelê was; natuurlik presies 100 jaar na die slag van Bloedrivier. Oom Paul, ons hou nog steeds getrou aan die gelofte, selfs vandag nog, hier in 2019. Ds. Kestell het besef dat ons mense swaargekry het, 300 000 van onse mense was honger en sonder hoop, amper ‘n derde van ons klein volkie. Oom Paul, sy plan het gewerk, maar ongelukkig nie vir altyd nie, maar dit het gewerk. Vandag bly daar al weer amper 300 000 van ons mense in plakkerskampe. ‘n Plakkerskamp is amper soos ‘n konsentrasiekamp, net sonder die wit tente en Ingelse. Die FAK en ds. Kestell het saamgestaan, en 70 000 mense gewerf om 6 pennies by te dra, en die geld het gegaan vir onder meer lewenspolisse. Ek het geen idee wat 6 pennies werd was nie, ‘n sikspens? Miskien in vandag se geld iets soos R50 of só. Maar hierdie saamstaan het ons volk se toekoms en hede verander. Daar was 400 takke oor Suid-Afrika. Hulle het sommer baie Afrikanerbesighede begin, wat vir ons mense werk kon gee. Ek weet nie of Oom weet dat hy, dit is nou ds. Kestell, op die skip na Europa, waar Genl. de Wet gaan probeer geld insamel het vir die oorlogskuld van ons volk, vir hom gehelp het om sy boek te skryf, Strijd tusschen Boer en Brit. Ek het die boek onlangs klaar gelees, en lekker gelag vir die Jood wat die Boer se skuilingsklip by hom wou koop toe die Ingelse op hulle losgetrek het…

Oom Paul, ek moet nou ongelukkig gaan. Die werk in Orania hou nie op nie, ek sal Oom nog alles van Orania vertel, ek dink Oom sal daarvan hou.

Tot volgende keer, en stuur asseblief groete vir my Oupa. –

PSK