Geagte Oom Paul
31 Desember 2019
Heb je wel gehoord van de Afrikanervloot?
….verdraai ek de Zilveren vloot se woorde om my vanoggend te pas.
In my gedagtes het ek êrens iets van landvolkere en seevolkere, maar ek wil nie in hierdie besinning hase en klein-jakkalsies jaag nie. ‘n Beter en nadere vergelyking, as die een van die volk as ‘n vloot, sou waarskynlik ‘n klomp trekke gewees het, maar ‘n trek, soos in ons gedagtes, was eintlik maar ‘n kleingroep-alleen tipe ding. Dus kies ek vanoggend vloot, en ek vergelyk die Afrikanervolk met ‘n vloot op maneuvers.
Nou moet ek sommer dadelik bieg, dat ek nie ‘n seevaartkenner is nie, maar ek het darem al vele vakansies op ‘n boot op ‘n dam deurgebring, wat my binne die Afrikanerkonteks dalk kwalifiseer, maar dit daar gelaat. My kennis van seevaart is dus eintlik maar beperk tot ‘n paar visvanguitstappies, en dit wat ek gelees het en in dokumentêre kon leer. Hierdie beperkte kennis ten spyt wil ek tog die analogie volg, en met goeie rede, soos Oom sal sien.
‘n Vloot is ‘n klomp skepe, met hul eie bemanning, eie kentekens, eie leierskap en meestal eie en afsonderlike bevele, bestemming en doelwitte. So is die Afrikaner ook.
Voordat ek die grootte dan vergelyk met die vloot, wil ek graag die kleinere met ‘n skip vergelyk, en met klein bedoel ek nie onbenullig nie, maar eerder ‘n kleiner eenheid binne die geheel.
‘n Skip was ‘n kleinerige plek, met vele mense wat bestuur moes word, so ook is elke Afrikanerinstelling, -groep, -party, -organisasie en -gemeenskap. Daar is natuurlik ook interne en eksterne faktore wat ‘n skip beïnvloed. Oom sal natuurlik beter weet omdat Oom skeepsvaart beleef het, maar ek vermoed dat beide eksterne en interne faktore steeds vandag van toepassing is, in skeepsvaart en in volkswees.
Daar is drie groot eksterne faktore wat die sukses, al dan nie, van ‘n skip en haar bestemming raak:
Die natuur
Vyande
Rol/plek binne vloot
Aan die natuur kan ons niks verander nie, maar mens kan beplan om hierdie veranderlike te bestuur. Die eerste stap sal by ontwerp wees, die ontwerp van die skip bepaal hoeveel trotseer kan word. Die volgende sal die evaluering van die skip se vermoëns wees, sodat dit nie in onbegonne waters betrap word nie. Dan sal die skip ook self oor die onafhanklike vermoëns moet beskik om basiese en selfs meer komplekse foute self op te los. Laastens sal ek reken dat goeie beplanning gebaseer op betroubare inligting baie van die moontlike risiko’s by voorbaat kan uitskakel, bv. om nie jouself in sekere seisoene in sekere oseane te bevind nie, in elk geval nie die waarvoor jy en jou bemanning en toerusting nie geseil is nie. Droogtes, winters, storms ens. is alles sake wat ons nie kan verander nie, maar ons kan verander hoe ons dit tegemoetgaan.
Die tweede eksterne faktor, naamlik vyande, is ook ‘n veranderlike en een waarbinne betroubare inligting sekerlik die belangrikste rol speel. Daar is verskeie faktore wat van jou en jou skip ‘n potensiële vyand of teiken maak. Die eerste hiervan is waarskynlik die waarde van jou vrag. Monetêre redes maak van enige skip ‘n teiken, nie net vir die amptelik-verklaarde opponente nie, maar ook van die opportuniste en beroepsplunderaars. Jou vrag en die waarde daarvan, en hier bedoel ek nie bloot die materiële nie, maar ook binne die vergelyking van ‘n vloot met ‘n volk, die idee-goedere, die menslike hulpbronne, die inisiatief; dit kan alles van jou ‘n teiken maak, selfs van neutrale agente… soms selfs vriendskaplikes. Jou vrag hou waarskynlik ten diepste verband met die suksesvolle voltooiing van jou opdrag, en dus is dit een van die grootste bates en belangrikste sake. Natuurlik kan die vyand se insig in die planne van die vloot, ook van jou en jou skip ‘n spesifieke strategiese teiken maak.
Die derde eksterne faktor, naamlik jou rol/plek binne die vloot, is ook ‘n moontlike risiko, as dit nie reg verstaan en duidelik gekommunikeer word nie. Mens wil immers nie op die verkeerde tyd voor vriendelike vuur inbeweeg nie, of ‘n strategiese flater begaan wat die groter plan in die wiele ry nie. Daar is uiters komplekse tussenskip-kommunikasiestelsels ontwikkel om te sorg dat elke skipskaptein en bemanning bewus is van die gebeure wat hul direk raak en hul rol binne die groter prentjie. Dit was vlaggies met simbole en kodes, maar vandag is dit eintlik veronderstel om veel makliker te wees om die regte inligting by die regte mense uit te kry. Ek vermoed egter dat ons Afrikanervloot hieraan aandag moet gee. Net omdat kommunikasie vandag vinnig en maklik is, behels dit nie noodwendig dat die relevante kommunikasie by die relevante skepe uitkom nie; soms oor komplekse redes wat kommunikasie moeilik maak, maar soms net omdat die kapteine al voorheen verskil het oor iets. Daar is soms doelbewuste mis-kommunikasie aan die eie, vir diepdwase en persoonlike redes. Hierin is geen wins vir die vloot nie.
Hierop volg dan ook die interne faktore wat ek soos volg identifiseer:
Bemanning
Vertroue
Hulpbronne
Die ander rede dat ek ‘n vloot kies, as vergelyking vir die volk, is omdat ‘n skip, in die kleine, eintlik ‘n eie mikro-kosmos vorm, ‘n eie klein gemeenskap binne ‘n beperkte en bepaalde omgewing of begrensing. ‘n Vloot kan nie net een kaptein, een dokter, een navigator, een kok as hulpbron hê nie. Elke skip moet ook in die kleine, selfstandig kan funksioneer, selfstandig besluite neem om sodoende die doelstellings te bereik. Daar is natuurlik spesialisasie binne die vloot, maar een skip, beman met slegs kanonniers, met die opdrag om ‘n kus-fort te gaan bombardeer, sal beswaarlik sukses behaal. Daar is dus sekere spesialis take wat op elke skip afsonderlik ook noodsaaklik is; kaptein, navigator, kwartiermeester, kok, dokter, timmerman, seemanne… en dan natuurlik die kanonniers of soldate.
Dit is dus ‘n risiko om nie oor die regte bemanning vir die bepaalde taak te beskik nie; die man met die skerp oë wat die kraaines moet beman, moet ook nie in die skeepskombuis homself besig nie. Dit is natuurlik só dat sekere kleiner skepe, meer vaartbelynde vaartuie, gewoonlik minder bemanning benodig, en die bemanning gewoonlik meertakig is, maar die bemanning en die skip moet die strategie van die vloot sinvol kan bedien. 12 Kapteine op een skip sal ook nie sinvol wees nie, ongeag hul eie individuele vaardighede en vermoëns.
‘n Volgende interne faktor wat die suksesvolle uitkomste kan beïnvloed is die onderlinge vertroue. Dit geld natuurlik ook op ‘n groter veld vir die vloot in geheel, maar veral binne die kleine, die afgebakende en soms beknopte omgewing van een skip. Vertroue en dissipline. Histories was daar in skeepsvaart twee modelle wat gevolg is vir die gesagstruktuur binne ‘n skip. Die een was die model, waarbinne die skeepskaptein as kaptein op die skip geplaas is, deur die eienaar van die skip, en hy dan sy bemanning gekies het. Die ander was ‘n model waarbinne die bemanning die kaptein demokraties verkies het, en hy dan offisiere aangestel het, en die skip aan die bemanning in geheel behoort het. Ongeag die model, was die deurslaggewende faktor vir sukses, onderlinge vertroue, al dan nie. Vertroue is egter ‘n komplekse saak, wat gewoonlik met ‘n wyse balans tussen dissipline en prestasie gepaard gaan. Vrae soos: Moet die bemanning alles weet? Het die kaptein ‘n plan? Weet ons wat die plan is? Moet ons weet? is alles vrae wat na gelang van omstandighede en onderlinge kultuur bepaal sou word; en vrae wat in elke instelling, party en organisasie binne die vloot ook gevra moet word.
Die derde interne faktor is hulpbronne. Is die bepaalde skip, binne die vloot, voldoende toegerus en beman om die verwagte uitkomste te lewer of beproef mens God met die hoop op wonderwerke? Is die skepe in die vloot bemagtig, is die kapteine bemagtig om die bevele uit te voer en die strategie te dien? Is die kapteine bemagtig met genoegsame insae in die strategie om in te koop en vertroue by hul bemanning in te boesem? Is daar genoegsame voorraad vir die vervulling van die opdrag of sal die skip langs die pad verdwaal agter honger en plunder aan…
Nou met hierdie lompe insig in die seevaartwêreld wil ek by die Afrikanervloot uitkom.
Oom sien, die Afrikaner is geensins ‘n verenigde front nie, alhoewel ons formidabel is in ‘n gemeenskaplike doel. Maar Deneys Reitz skryf met reg: “And every Boerekryger was his own general…” So is dit binne die Afrikanervloot vandag steeds. Ons ag onafhanklike denke hoog, ons is hardekop, selfs eiewys, soos met die Trek, soos met die oorloë en soos in die politiek ook maar. Oom weet mos goed. Maar dit is juis om hierdie rede dat ek van die Afrikanervolk as vloot wil dink. ‘n Armada van selfstandige skepe, met hul eie mikro-kultuur, as deel van die groter plan. En hier kom die kruks, ‘die groter plan’, ‘die Admiraal’, of miskien eerder die ‘admiraals’.
Ek hoor vandag baie van ons mense wat sê: Maar ons volk kort ‘n leier. Ek mis dalk iets groots, maar ek sien nie daardie nood raak nie. Ek sien ‘n volk met leiers, en dat hierdie leiers saam sit en na die kaart kyk, saam sit en die skepe onder hul beheer met oranje blokkies op die kaart plaas en besin oor waarheen elkeen moet vaar. Miskien gebeur dit nog nie genoeg nie, miskien vertrou die admiraals nie mekaar nie, miskien oor ou bagasie en ou politiek, miskien oor persoonlike nederlae en ego’s, maar ons is maar almal mense met ambisie en ego’s, maar die admiraals praat met mekaar, en die kapteine hoor.
Oom Paul, 2020 is ‘n lekker jaar, want binne die oogkundigewêreld beteken dit blykbaar dat mens mooi kan sien. Vermy die storms, fnuik die opponente, weet wat die doelwitte is, leer mekaar vertrou deur dissipline en verdienste, sorg dat jou seinvlaggies duidelik wapper en sekerlik bo alles, vertrou mekaar, maar vertrou op God. Maar kyk wyd en hou die oë op die doelstellings. Haas jouself waaksaam, soos die uitdrukking sê.
Ek vertrou dat die manne in die kraaines vêr sal kan kyk, dat die kaptein die inligting met die regte vlaggies deur die seiner na die ander kapteine sal laat gaan, dat die kapteine dit sal deurgee aan die admiraals, en dat die admiraals die nodige skywe sal maak op die groot kaart van die Afrikanervloot. Maar ook dat die admiraals daardie skuiwe en strategie weer doelgerig en duidelik aan die vloot sal deurgee, en dan Oom Paul, dan… dan sien ek ‘n Afrikanervloot op vaart na vryheid.
Stuur groete vir my Oupa
Ns. Oom Paul, ek wil tog vir die kapteine vra om seker te maak dat hul skepe deel van die vloot is. Anders is ons geen vloot nie, maar skaars minder as ‘n klompie individuele handelskepe, enkelskepe in bitter gevaarlike waters.
PSK