Geagte Oom Paul
25 November 2019
“Daar is geen land, so vêr of woes geleë…” hoor ek die woorde van die lied, ken Oom dit? Oom Paul, dit voel maar soms vir my of hierdie land, hierdie Zuid-Afrika maar vêr is; woes is. Ek is jammer ek begin vandag so effens negatief, dit gaan goed op Orania, maar Oom Paul, dis al.
Dit gaan nie goed met Zuid-Afrika nie, goed op Orania, maar nie goed met Zuid-Afrika nie. Oom sien, dinge het die afgelope drie dekades lekker skeef begin loop hier. Maar eintlik wil ek met Oom vandag nie daaroor gesels nie, maar oor ons taal.
Oom sien, die oorlog met die Ingelse is lank terug al verby, maar die stryd duur voort, en die stryd is nêrens so sigbaar, as in die beleg op Afrikaans nie… Strijd tusschen Boer en Brit, soos oom Christiaan geskryf het. Ek sou dit wou vereenvoudig deur te sê dit gaan nie goed met Afrikaans nie, maar dit is eintlik nie heeltemal waar nie. Ons taal word aangeval, afgekraak en uitgewerk, maar Oom Paul, met Afrikaans, gaan dit eintlik goed… eintlik dêm goed!
Oom Paul, ons taal is ‘n jong taal, maar sy is groot en mooi, soos die tipe nooi na wie mens verlang in die Ou Transvaal terwyl jy op ‘n eiland krygsgevangene is. Toe die klompie manne van die Genootskap van Regte Afrikaners op 14 Augustus 1875 bymekaar gekom het, wonder ek nogal oor wat hul teenoor mekaar sou sê as hul Afrikaans vandag kon sien. Ons vier steeds Taaldag hier in Orania, eintlik sommer Taalweek, ‘n hele week so rondom die 14 de Augustus elke jaar, maar ek wil nie veel daaroor sê nie. Oom sien, Afrikaans was mos eers net ‘n spreektaal, en toe so effens ‘n skryftaal, maar ons volk het meer as dit nodig gehad, wou meer Afrikaans hê. Arnoldis Pannevis het mos gesorg dat die Bybel in Afrikaans vertaal word… meer Afrikaans. Oom ken die geskiedenis seker nog van hierdie agt manne wat die Genootskap daar in die Paarl gestig het; Gideon Malherbe, C.P. Hoogenhout, Daniël Francois du Toit, bekend as dokter, D.F. du Toit, bekend as Oom Lokomotief, ek reken hy het die genootskap aan’t beweeg gekry? S.J. du Toit, Oom Lokomotief se boetie, August Ahrbeck, Petrus Malherbe en S.G. du Toit… agt manne wat die wêreld verander het. Oom weet mos Argimedes het jare en jare gelede gesê dat mens met ‘n lang genoeg stok en ‘n vastepunt, die wêreld kan beweeg. Miskien was die taal die stok en die genootskap die vastepunt, want Oom Paul, hierdie wêreld het aan die beweeg gekom.
Ek moes een keer, hier op Orania, help skuif aan ‘n stuk graniet, graniet met iets van Dr. Hendrik Verwoerd op, ek kan nie nou mooi onthou wat presies dit was nie, en ek sal Oom nog vertel van Dok Hendrik, miskien in ‘n volgende brief. Maar ons kon die graniet oplig, deur ‘n lang yster oor ‘n ronde stuk hout te hefboom. Argimedes was reg, en die Genootskap het die wêreld amper net so ook beweeg, soos met ‘n stok en ‘n vaste punt.
“Om te staan vir ons Taal, ons Nasie en ons Land.” – het die GRA op hul doel besluit. En Oom Paul, om dit te doen het hulle besluit om die Bybel te vertaal, die Afrikaanse Patriot uit te gee maandeliks, en te begin met woordeboeke van die Afrikaanse taal.
Oom sien, ‘n taal gaan nie maar net sommer oor die taal nie, maar oor iets veel meer en groters as net dit, dit gaan oor identiteit, oor wie ons is. En ons Afrikaners, Oom Paul, ons is Afrikaans; en ons is dit vandag nóg steeds.
Oom Paul, Afrikaans is gróót. Ons kon dit in 20 jaar ontwikkel tot op tersiêre vlak, as wetenskaps- en akademiese taal en ons kinders kon in Afrikaans leer dink, konseptualiseer, verwerk en droom. Afrikaans het groot dinge gedoen, sommer so van die kombuistaal begin af, tot ‘n wêreldgehalte taal. Dit het ook nie by die akademie opgehou nie, nee, dit het vanuit ons Afrikanerharte in die kunste oorgeborrel. Ons mense het in Afrikaans begin sing en dig, en selfs teaterstukke en draaiboeke geskryf, en later het Afrikaans op die televisie verskyn. Oom Paul, ‘n televisie is soos ‘n radio, maar mens kan die beeld ook sien.
Daar is vandag ook maar weer mense wat ons taal en identiteit haat in hierdie land, amper net soos met die empaaier en hul ingels, maar alhoewel hulle orals roep en gil dat Afrikaans moet val, val ons nie, maar ons bou. Ons word groter en sterker; ons stig ons eie nuwe Afrikaanse universiteite, want die oues moet nou ingels wees; ons hou ons eie konserte, want ingels is orals. Oom Paul, die Afrikaanse musiekwêreld is groter as wat ek ooit gedink het dit sal wees… mooi en lekker.
Uit die blou van onse hemel, uit die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergtes waar die kranse antwoord gee.
Deur ons vêr-verlate vlaktes met die kreun van ossewa —
Ruis die stem van ons geliefde, van ons land Suid-Afrika.
Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra:
Ons sal lewe, ons sal sterwe – ons vir jou, Suid-Afrika…
Oom Paul, ons het dit as Volkslied uit volle bors gesing, maar ons mag nie meer dit vandag so sing nie… Maar ons doen steeds, Oom moet vir Steve dit hoor sing!
Ag, ek wou eintlik nog baie vir Oom vertel oor die taal. Oor die Briels en N.P. van Wyk Louw, oor Koos du Plessis en Jan Blohm, oor… so baie. Ek sal miskien later weer bietjie oor Afrikaans met Oom gesels.
Oom, ons bid en sing en dink in Afrikaans, selfs in 2019, en veral in Orania. Ek sal later meer oor Orania gesels, maar ek moet nou gaan, ek het sopas aan ‘n nuwe wysie vir ‘n Afrikaanse lied gedink…
Groete
PSK
n.s Stuur groete vir my Oupa.