fbpx

Geagte Oom Paul

18 November 2019

Oom Paul, dit gaan goed op Orania.

Oom sal onthou dat ons oor die Reddingsdaadbond gesels het in die vorige skrywe. Ek wil eintlik vandag met Oom gesels oor dinge wat maar in dieselfde tyd ook afgespeel het, wat ons volk in baie moeilike omstandighede geplaas het, en voor ‘n baie moeilike keuse. Oom onthou seker goed wat in die empaaier se oorloë met ons gebeur het. Ons het Majubaberg bestorm, en ek vermoed, die empaaier so erg verneder dat hulle ego’s besluit het dat hul dit nie sal duld nie. Natuurlik was die goud en diamante ook nie te onaantreklik vir die klein eilande daar in die Noorde nie, en ook nie vir die klomp uitlanders in die republieke nie.

Soos Oom weet het ons moedig teruggeveg, maar op die lange duur, en met die verskroeide aarde en die wittentkampe, kon die bittereinde nie vir altyd aanhou nie. Maar enkele jare na hierdie seer en swaar, is die empaaier alweer in ‘n oorlog, die keer in Europa, teen die Duitsers nogal, en Oom sal dit seker nie kan glo nie, maar ons besluit om deel te word en aan die Ingelse kant te gaan baklei. Oom onthou mos die mense van Duits-Wes? Ook maar onse mense, deel van ons, maar hierdie gebeure het ons op ‘n vreemde en moeilike pad laat gaan.

Oom sien, die besluit was deur die regering geneem, om aan die Britte se kant, die sogenaamde geallieerdes, teen die Duitsers te gaan veg. Nou ek wil Oom nie met te veel detail van wat in Europa aangegaan het probeer verveel nie, maar hierdie gebeure het ons huis lekker deurmekaar gekrap en ons is nie ‘n eiland nie, alhoewel daar baie waters tussen ons en hierdie, wat almal vandag noem, wêreldoorlog was.

Hierdie besluite, en die politieke gebeure het ons volk dan ook verdeel in twee groot groepe, die Nat, of Nasionale Party, en die SAP, of die Zuid-Afrikaanse Party. Ek sal Oom later nog meer dinge oor die Nasionale Party vertel, mooi dinge, groot dinge, maar ook slegte en donker dinge. Miskien moet ek sommer die storie bederf deur Oom solank in te lig dat die Nasionale Party, nie meer vandag bestaan nie, en in dieselfde asem die Zuid-Afrikaanse Party ook nie meer nie… baie dinge het maar geval.

Oom sien, dit was moeilike tye so na die Strijd tusschen Boer en Brit, soos Oom Christiaan daaroor geskryf het. Ons mense was arm, die landbougrond was verbrand, ons vroue en kinders is by die dertig- tot veertigduisend dood in die Ingelse kampe, maar ons het weer op begin staan, soos die planne van Ds. Kestell en die FAK begin werk het. En toe kom hierdie wêreldoorlog-ding oor ons pad…

Oom, ons het erg onder mekaar baklei, en sommer lelik ook. Daar het ‘n groep ontstaan, met die naam van die Ossewabrandwag, met bande met nog ‘n party, die Herstigde Nasionale Party, onder oom Daniël. Het Oom vir Malan geken? Hierdie groep het help reël aan die eeufees van die Groot Trek hier in 1938, maar het ook meer aktief betrokke geraak, veral in sterk kritiek teen die regering se kantkiesery in die wêreldoorlog. Oom weet mos dat die Britte nie ons maats was nie, en die Brandwag het gereken dat die Duitsers eerder ons vriende was, en nie ons vyande nie. Oom weet die Duitsers het ook maar eintlik baklei vir hul eie Duitse-plekkie in Europa en die kommuniste was toe al heel bedrywig in Europa. Ek sal later met Oom oor Kommunisme praat, want hier sien ons vandag hoe dit heel ordentlik ‘n land met baie potensiaal tot in die grond vergiftig en vernietig, ek sal met Oom ook sommer bietjie gesels oor Rhodesië en Ian Smith, maar dit sal maar ook eers tot later moet wag.

Terug by die Brandwag en die oorlog. Oom sal merk dat ek eintlik oor oorlog praat asof dit een ding was, maar daar was twee gewees daar in Europa, twee grotes, en beide het ons hier by die huis ook ernstig geraak.

Ek wil eintlik begin deur met Oom te gesels oor iemand wie Oom heel waarskynlik sal onthou, en dit is Jopie Fourie. Ek dink ek sal die beste kan verduidelik watter drama hier was, as ek sy storie met Oom kortliks deel.

Oom sal Jopie onthou, hy was sewentien jaar oud tydens die Jamesonaanval, Oom onthou, die een wat Cecil John Rhodes mos daar uit die Kaapkolonie uit help beplan het. Jopie was ook ‘n verkenner en rapportryer gewees, maar is tydens die tweede oorlog gewond deur die Ingelse en gevang, maar later weer losgelaat. Daar was natuurlik in Oom se tyd ook baie moeilikhede, met veral die uitlanders wat kom goud soek het in onse republiek, maar ek hoef niks verder daaroor te sê nie; Oom weet goed watter streke die Ingelse alles uitgehaal het om ons rykdom te probeer vat vir hul eie empaaier. Maar ek dwaal weer af. Jopie se eintlike storie wat ek wil deel begin hier iewers in 1914, toe ons regering besluit het om Duits-Wes binne te val. Dit was natuurlik alles oom Louis en generaal Jannie se werk gewees. Om te dink, 10 jaar na die Ingelse-oorlog; en nou val ons saam met hulle die Duitsers aan. Oom Paul, dit was moeilike tye hierdie… Waar staan ‘n goeie, eerbare man nou? Nou het Oom Louis vir Jopie laat kom, om te hoor watter inligting hy kon kry oor die rebelle, hoeveel en waar ens. want Oom Paul sien, Oom Manie Maritz en Oom Christiaan Beyers, as ek reg onthou, het klaar teen die regering se besluit in ope rebellie gegaan. Na sy gesprek, dit is nou Jopie, met Oom Louis, het hy huis toe gegaan en ek dink die dinge het hom gepla, soos wat dinge hier in Zuid-Afrika vandag my ook maar pla, maar later meer daaroor. Jopie het egter geweet wat die regte dinge is Oom Paul, selfs al was die dinge lekker deurmekaar so tussen die Afrikaner, Ingelse en Duitsers saam. Hy het toe met die Unietroepe in skermutselings gebots, want die Duits-Wes ding het hom baie gepla. Op 16 Desember Oom Paul, op Dingaansdag, Geloftedag, 1914 vang die Unietroepe hom, hulle kla hom aan van hoogverraad en hy verskyn voor die Krygsraad. Ek wil sommer Jopie se woorde met Oom deel: “”Ek kan nie insien waarom ons jong Afrikaners vir Engeland se eer moet veg nie. Wanneer ons die moord van Slagtersnek nagaan … en wanneer ek dink aan die 30 000 vroue en kinders wat vermoor is, sien ek nie waarom ek Engeland moet help om sy eer omhoog te hou nie. Ek weet dat die regering my as ’n rebel beskou en teleurgesteld in my is. Ook is ek teleurgestel in die regering wat ek op die been help bring het en waarvoor ek my bloed opgeoffer het…wat ek gedoen het, het ek met oop oë en uit eie vrye oortuiging gedoen. Selfs al is ek tot vandag toe nog oortuig dat God die onreg nie sal gedoë nie…kan ek nie vals wees nie! Nooit in my lewe het ek dit kon wees nie! En mag God my bewaar om nooit ’n valsaard te word nie! My dade het altyd my hart geopenbaar. Ek is nie van plan om die hof om genade te vra nie. Die genade van my Skepper wat my gelei het, is vir my genoeg…Genade? Is dit nie opmerklik dat ek die seun moes wees wat met die witvlag na Jameson ingery het met sy oorgawe? Hy is gevang en vrygelaat, en daarna word hy sir Starr Jameson; maar ek moet sterwe, daartoe veroordeel deur my eie mense wat twaalf jaar gelede saam met my gestry het vir ons land en volk se vryheid. O, ek hoop tog hulle sal my nie in my gesig skiet nie,” en terwyl hy sy hand op sy bors lê, laat hy hoor: “Hier is ’n groot Afrikanerhart, groot genoeg om al hul koeëls te ontvang….so seker as ek u hier voor my sien, is ek oortuig dat die Here met Sy dierbare bloed vir my sonde versoening gedoen het; en dat Hy nou kom om my by die hand te neem en deur die dal der skaduwee des doods weg te lei. Hy is mos hier by ons, ons kan Hom voel…”

Oom Paul; ons eie mense skiet Jopie en sy broer daardie dag dood… vir Jopie, vier keer in sy bors, en een keer deur die nek. Terwyl hy gesang 20:8 gesing het, kon sy Afrikanerhart vier koeëls vat. Ek weet Oom is eintlik ‘n Dopper en sing net die Psalms en skrifberymings, maar ek het gedink Oom sal dit darem hierdie keer kan oorsien.

Ag, ek wou eintlik oor die Ossewabrandwag en die Stormjaers met Oom gesels, en ook oor ‘n referendum en verkiesing hier in my eie tyd… maar…

Oom Paul, miskien moet ek vandag maar hier stop. Al wat ek hoop en bid is dat my Afrikanerhart, ook groot genoeg sal wees… amper so groot soos Jopie s’n.

 

Groete

PSK

N.S. Stuur groete vir my Oupa.