fbpx

So het die dag oënskynlik gewoon gebreek vanoggend. Tog gaan ‘n besondere dorp vandag sy fondamente dieper dolwe en sy strewe verder oor die heuwels uitrol.

Noudat die dae weer langer raak en die mis minder dig lê op die rivierloop is dit asof gedagtes weer in kleur begin dink. Vroue het hul grys wintersklere verruil vir helderbontes. Die windjie dra vrolike kinderlagte uit Kleuterland en vanaf die bakkery kom die geur van varsgebakte brood en mosbeskuit.

Swaeltjies is ook anders bedrywig – vlieg in en uit op voorstoepe. Skilpaaie soek kos tussen die veldgras en granietklip en suikerbekkies hang onderstebo aan die aalwynblomme wat een van die dae in volkleur oor die rantjies sal vlam.

Op die oog af is dit ‘n gewone plattelandse dorp waar mense daagliks besig is om kinders groot te maak en hul brood te verdien – of is dit?

As mens nader kennis maak sien jy hoe die boubedryf uit sy nate bars en die groeiende inwonertal en ondersteuners, oftewel “uitwoners” daarbuite, volgehoue groei en ontwikkeling van dorpstrukture, besigheidspersele, sportgronde, gastehuise en vakansieoorde stimuleer. Besigheidsgeleenthede hang soos ryp vrugte, tans in die velde van die toerismebedryf en behoefte aan nog fasiliteite vir bejaardesorg en talle ander en trek die aandag van beleggers en ontwikkelaars.

Inwoners oes keurgraad pekanneute en olywe, vervoer vragte mielies en koring na bestemmings elders en ry boumateriaal aan vir die boubedryf. Hul vergader rondom dorpsregulasies en die vestiging van nuwe ondernemings en staan besoekende rolspelers te woord wat aan die einde van die gesprek die dorp se wenresep in hulle gemeenskappe wil gaan toepas.

Onderrig en opvoeding word voorsien vanaf preskoolfase tot op tersiêre vlak in twee puik skole, met ‘n aantal leerders elders wat afstandsonderrig hiervandaan ontvang en ‘n technikon wat verlede jaar sy deure oopgemaak het. Op ‘n terrein van 25 hektaar is stads- en streeksbeplanners besig met voorbereiding vir die voorgestelde Universiteitskampus waar DV volgende jaar met die oprigting van die eerste studentekoshuis begin word.

Woorde soos “droom” en “visie” kry ‘n nuwe betekenis as Oraniërs met die Ora by winkels en besighede betaal en die besture van die Sakekamer en Koöperatiewe Bank met Afrikanerekonome in gesprek is om dit elektronies te implementeer as ‘n “e-Ora”, wat benewens die onmiddellike voordele die vooruitsig daarstel om later in ‘n eie geldstelsel te ontwikkel. Die Koöperatiewe bank groei sterk en bied uitstekende rentekoerse, lenings en beleggingsmoontlikhede aan kliënte, met die uitsonderlike prestasie dat dit die enigste koöperatiewe bank is wat aan vereistes voldoen om geregistreer te wees by die Reserwebank.

Oraniërs vertolk hul menswees in skilder, dig, skryf, sang en musiek, goudsmeewerk en ander kunsvlyt. Op die klipkoppie wapper die dorpsvlag met die simboliek van hul beleid van selfwerksaamheid daarop. Hul pak hul dorp se ontstaansgeskiedenis uit in mosaïeksteentjies teen ‘n trap en beman ‘n eie radiostasie. Hulle vier volksfeeste en dae soos Taaldag word sommer Taalweek. Sondae klink hul kerksang en orrelspel oor die dorp.

Wie is die inwoners van hierdie dorp en wat is hul strewe en dryfkrag?

Mens hoef nie antwoorde elders te gaan soek nie, want Oraniërs praat vir hulleself en dit is in die eerste plek moontlik vanweë die daadwerklikheid van elke dag se kulturele uitlewing wat vir 26 jaar daagliks plaasgevind het, waarsonder ‘n politieke antwoord moeilik en selfs onmoontlik sou wees.

Frans de Klerk (Uitvoerende Hoof van die Dorpsraad van Orania) in sy boek, “Van dorp tot stad”, identifiseer “’n sin vir politieke vryheid en ‘n politiek van identiteit” as die dryfveer agter Orania en hy karteer die pad van Orania as ‘n stad in wording – die manier waarop Orania vandag in diens van die vryheidstrewe van die Afrikaner gestel word.

Mnr. Carel Boshoff (President van die Orania Beweging) praat van die herrysenis van die Derde Afrikaner in sy boek “NP van Wyk Louw en die Derde Afrikaner”, waar die eerste twee verwys na hul herrysenis in moeilike tydvakke na die Tweede Vryheidsoorlog en in die aanloop na die moderniseringsomwenteling van Suid-Afrika. Hy sien Orania as die nodige inset wat as’t ware ‘n katalisator word vir die Afrikaner se herrysenis en strategiese posisionering waar opnuut beslag gegee word aan ‘n tuistelike bestaan op ‘n wyse wat by sy vermoëns pas, maar tegelyk vir sy strewes voorsiening maak. Dit word die plek of ruimte waarin hy weer kultureel, polities, ekonomies, akademies, godsdienstig ensovoorts, tereg kan kom en vanwaar die Afrikaner en Suid-Afrika in deelnemende gemeenskap met mekaar kan tree. Hy kwalifiseer die voorwaardes van hierdie deelnemende gemeenskap op realistiese wyse in terme van hul posisie as minderheidsvolk aan die Suidpunt van Afrika: “in soverre die onderskeid en meegaande selfstandigheid erken en gehandhaaf word, waarsonder mede-verskyning onmoontlik sal wees, deelnemende gemeenskap uitmekaar sal spat en verhoudinge gewelddadig gedefinieer sal word.” Al is hierdie vryheidsgesindheid hoe belangrik ook al, wys hy egter daarop dat dit steeds nie die absolute doel op sigself is nie, maar ten dienste van die ware, die goeie en die skone juis omdat dit op hierdie manier die weg na geregtigheid aanwys.

In sy boek “Oor Gemeenskap en Plek – anderkant die onbehae” plaas prof Danie Goosen (professor in godsdienswetenskap aan UNISA en lid van die Orania Beweging) Orania in die kader van ‘n gemeenskap wat besig is om homself opnuut te rig op die transendente, die “hoogste Goed”, selfs bo die goed van selfhandhawing, in erkenning dat hul deur die genade van God tegemoet gekom moet word. ‘n Gemeenskap wat veranker is in die transendente kan sy eie eindigheid raaksien en daarom sy plek tussen en saam met ander gemeenskappe vind en dus staan die beroep op selfstandigheid nie in spanning met ander gemeenskappe nie. Dit is in teenstelling met die soort modernisme wat die transendente ontken en in selfgratifikasie van die immanente verdwaal, wat uitloop op die verlies aan gemeenskap en elkeen eensaam, verlore, en sonder sinvolle verband laat, met al die sosiopolitieke en -maatskaplike probleme wat dit teweeg bring.

Orania was reeds vanaf sy ontstaan, in die sestigerjare, ‘n besondere dorp as standplaas van ‘n projek vir die bou van ‘n opgaardam en kanaalstelsel in die Oranjerivier. Vandag toon dit die tekens dat dit oor elemente beskik wat die lewegewende stimuli is om die Afrikaner se dors te les in soverre verlies aan kultuur, taal en veilige ruimtes ervaar word – dat ‘n moderne jong volk besig is om hier op Orania sy voete stewiger as ooit in sy geboorteland te plant om uitdagings te oorkom.

Pioniers sal met ‘n lag en soms met ‘n traan vertel van die lief en leed van die beginjare. Hoe moeilik dit was om ‘n tuiste te skep en om moed te hou as hande min is en die werk baie – vervalle huise, duwweltjies wat ‘n anderhalfduim dik lê met sandwalle en rolbosse in die strate terwyl temperamente mekaar temper en smee in moeilike vergaderings! Hoe die meeste nuuskieriges en joernaliste geen begrip getoon het vir die strewe van Orania nie. Hoe meewaardig neergesien is op “rassistiese ekstremiste, verregse fanatici en dwars, vooroppiewa-mense” en koerantopskrifte gelui het: “ Volkstaat grens aan kettery”, terwyl daar ‘n versugting om begrip uit die harte van moeë inwoners opgegaan het, wat moes sorg vir kos op die tafel, onderrig en opvoeding vir kinders en hard gewerk het – soos om ’n pypleiding uit die rivier die dor landskap in te lê, sodat pekanneutboorde en gewasse aangeplant kon word.

Helaas, dit was in hierdie tye wat prof Carel Boshoff bemoedig het, dat selfs negatiewe propaganda beter is as geen propaganda nie en inwoners maar gelate berus het in hierdie stukkie omstrede wysheid!

Intussen doen Oraniërs elke dag wat hul hand vind om te doen en hou hul vryheidsdrome teen hul hart. Toeriste en vakansiegangers kom weer en weer om nog te sien en te ervaar van die positiewe, energieke dorpsgees wat hul uitnooi: Kom! Vryheid wag nie vir laatslapers nie!

Bo-oor die dorp kondig twee kolganse die vroeë lente aan. ‘n Jong seun trap fiets heuwel-af na Volkskool se kant – sy baadjiepante groetende die verbygaande seisoen. Net soms vang Oraniërs mekaar se oog in verwondering oor dit wat hulle deel, en deel is van.

 

Bronne:

Boshoff, CWH 2014 NP van Wyk Louw en die Derde Afrikaner: FAK

Goosen, DP 2015 Oor Gemeenskap en Plek – Anderkant die onbehae: FAK

De Klerk, F 2014 Orania – Van dorp tot stad: Orania Beweging