BKO-span triomfeer by Vlugbalfees

Bo-Karoo Opleiding (BKO) se Vlugbalfees op Vrydag 22 November was ‘n geleentheid wat spelers en toeskouers van regoor Orania byeengebring het. Die 20 spanne wat deelgeneem het, het gesorg vir opwindende aksie en goeie sportmangees.

BKO se personeelspan is as algehele wenners aangewys – ‘n bewys dat dié span nie net hard kan werk om sulke geleenthede aan te bied nie, maar ook goed geoefen en voorbereid was vir dié spel.

Die Vlugbalfees het nie net spanne die geleentheid gebied om te kompeteer nie, maar ook om ‘n doelgerigte bydrae te maak. As inskrywingsfooi het spanne nie-bederfbare produkte geskenk vir die BKO Studente Noodkas – ‘n inisiatief wat help om studente by te staan wanneer die finansies druk. Die ruimhartigheid van die gemeenskap was duidelik sigbaar in die bydraes wat ontvang is.

BKO spreek hul dank uit aan al die spanne wat deelgeneem het en aan die breër Orania-gemeenskap vir hulle ondersteuning met die koshuise se stalletjies. Die Orania Dorpsraad het die voorbereiding vir die bane gratis aangebied en het ook die pryse geborg.

Verskeie instellings en Oraniërs het aan hierdie geleentheid deelgeneem. Alhoewel vlugbal beskryf kan word as ʼn ontwikkelende spel op Orania, was daar geen tekort aan geesdrif by deelnemers nie. Oraniërs het die geleentheid feestelik en opwindend ervaar en sien uit na die volgende Vlugbalfees in 2025.

 

Foto 1: Die BKO-span gooi hul hande in die lug na ‘n welverdiende oorwinning.

Foto 2: Verskeie Oraniërs en Orania-instellings het vir dié geleentheid ingeskryf.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel