fbpx

BKO skop 2025 af met rekordgetalle en bou voort aan ‘n hoopvolle toekoms

Bo-Karoo Opleiding (BKO) staan gereed om 2025 met rekordgetalle en opwindende geleenthede aan te pak. Vir die eerste keer verwelkom BKO meer as 200 studente, waarvan die helfte eerstejaars is. Die akademiese jaar begin op Maandag 13 Januarie, na afloop van ʼn eerstejaarskamp wat reeds hierdie naweek plaasvind.

BKO se kursusaanbod weerspieël toewyding tot praktiese, lewensveranderende opleiding in skaarsvaardighede. Programme soos die Nasionale Diploma in Siviele Ingenieurswese, wat werkendes in staat stel om hul studies deeltyds voort te sit, en die na-uurse Tuissorgassistent-kursus, bied studente groter buigsaamheid om hul drome te bereik. Hierdie kursusse, tesame met gevestigde beroepskwalifikasies soos Loodgieter, Elektries en Bou- en Siviele Konstruksie, asook die gewilde Boerderybestuursprogram, trek toenemende belangstelling van regoor die land.

Om aan die groeiende vraag te voldoen, het BKO uitgebreide voorbereidings getref. Die boublad is vergroot om meer konstruksie-opleiding moontlik te maak, terwyl BKO se gesondheid en welstand departement spog met ʼn vergrote simulasiekamer. Studente in die Vroeë Kinderontwikkeling-kursus kan uitsien na ‘n inspirerende lesinglokaal en simulasie-area, en die Leer-My-Hoe-Proefplaas bied verdere praktiese geleenthede vir landboustudente.

BKO se koshuisfasiliteite ondersteun hierdie groei met drie koshuise: Duiker Dameskoshuis, Steenbok, en Vaalbos, wat gesamentlik akkommodasie aan  tot 140 studente bied. Hierdie koshuise bied ‘n tuiste waar studente gemaklik en veilig kan woon terwyl akademiese doelwitte nagestreef word. Vir privaat studente is daar Heldehuis, ʼn daghuis wat hulle toelaat om volledig deel te neem aan BKO se aktiewe en gesonde studentelewe.

“Ons is verbind tot die volledige ontwikkeling van al ons studente – vir hul loopbane en ook integrasie in die unieke Orania gemeenskap,” sê Marike Labuschagne, hoof van Studentesake. “Ons skep ‘n omgewing waar studente hul potensiaal kan bereik en ‘n betekenisvolle bydrae kan maak.”

Die energie wat die studente na Orania bring, bly nie ongemerk nie.

Paul Vogel, Uitvoerende Hoof van BKO, sê: “Ons bly toegewyd aan ons visie van ‘Vryheid deur opleiding en arbeid’. Die gehalte van ons programme, tesame met die ondersteuning van die gemeenskap, stel jongmense in staat om met selfvertroue na hul toekoms te kyk en ’n verskil te maak.”

Koshuisverblyf en finansiering is beskikbaar. Laat aansoeke vir 2025 is steeds oop en sluit op Vrydag 24 Januarie.