Bestaansregpetisie aan Orania Verteenwoordigende Raad oorhandig

Die Orania Beweging het op 27 November 2024 die gedeelde verantwoordelikheid vir Afrikanervryheid saam met die Orania Verteenwoordigende Raad (OVR) tydens ʼn mediakonferensie in ʼn ooreenkoms erken. Hierdie ooreenkoms kom na meer as 30 000 ondersteuners van Orania ʼn petisie van die Orania Beweging onderteken het, waarin Orania se reg om te bestaan, onderskryf word.

Na die 2024 Suid-Afrikaanse verkiesing het dit onder die Orania Beweging se aandag gekom dat verskeie anti-Orania petisies van stapel gestuur is. Hierdie petisies met uitgangspunte soos “Oppose the recognition of Orania …” en “Amend Section 235 …” is identifiseer as blatante aanvalle op Orania en kultuurgemeenskappe soos Orania. Opportunistiese politici, soos Julius Malema, het Orania se kollig in die media probeer gebruik om goedkoop politieke punte te wen. Malema het onder andere leë dreigemente gemaak soos om RDP-huise in Orania te kom oprig.

As reaksie op hierdie aanvalle het die Orania Beweging vir ondersteuners die platform gebied om Orania te verdedig. “Orania het ʼn reg om te bestaan!” lui dié teenpetisie wat tot op hede deur meer as 30 000 mense onderteken is.

Hierdie merkwaardige uitslag het die Orania Beweging genoop om die petisie in die vorm van ʼn erkenningsdokument aan die OVR, wat Orania op ʼn politieke vlak verteenwoordig, te oorhandig.

Hierdie ooreenkoms roep weer die partye op om betrokke te bly by die uitbouing van Afrikanervryheid en ʼn gedeelde verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar. Die inwoners en leiers van Orania deel die verantwoordelikheid met lojale ondersteuners wat nog nie in Orania kan woon nie.

“Afrikaners en Afrikaners wat Orania ondersteun het op ʼn punt gekom waar hulle sê: ‘Ons is nou genoeg met stokke geslaan’,” sê Joost Strydom, uitvoerende hoof van die Orania Beweging wat die ooreenkoms namens Orania-ondersteuners onderteken het.

Volgens Riaan Jacobs, voorsitter van die OVR, is dit ʼn groot verantwoordelikheid wat die leiers van Orania opgelê is.

“Die hele Orania-gedagte – ʼn tuiste vir die Afrikaner – is ʼn groot verantwoordelikheid. Ons is besig daarmee vir die Afrikanervolk en nie net vir Orania-inwoners nie … Ek dink daar is baie Afrikaners wat buite Orania bly, wat graag ook hier sal wil bly, wat deel sal wil wees hiervan en wat op ʼn manier sal wil bydra.”

Die Orania Beweging beskou die sukses van hierdie bestaansregpetisie as ʼn bewys van Afrikanereenheid ten spyte van geografiese verskille. Afrikaners het in menigte Orania as ʼn Afrikanertuiste verdedig en beskerm selfs wanneer hulle nie reeds in Orania kan vestig nie. Verskeie ondersteuners het by die Orania Beweging aangesluit as lede om sodoende aktief betrokke te raak by die Orania-strategie. Met meer Afrikaners wat hande vat om vir die Afrikanervolk ʼn tuiste te skep word die droom daagliks omskep in ʼn werklikheid.

Die ooreenkoms wat op 27 November 2024 deur die Orania Beweging en die OVR onderteken is, is die realisering van hierdie ondersteuning in ʼn verantwoordelikheid om vir Afrikaners ʼn tuiste te skep.

Kyk gerus na die media-konferensie deur op die video hier onder te klik. Orania se bestaansregpetisie word nie gesluit nie en daar is steeds die geleentheid vir ondersteuners om die petisie te onderteken.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel