Ons almal weet dat ‘n ekonomie sonder mense wat werk, geld maak en spandeer en besighede op die manier aan die gang hou, nie kan werk nie.
En die logiese afleiding is natuurlik ook dat meer mense meer ekonomiese aktiwiteit beteken. Natuurlik is daar baie meer rande wat rol in Johannesburg of Kaapstad as in Bloemfontein of Potchefstroom, om van byvoorbeeld Naboomspruit of Loxton nie eens te praat nie.
Maar getalle is ook nie alles nie. Dit is ook ‘n feit dat party stede met ‘n geweldige samedromming mense min ekonomiese aktiwiteit het, of ‘n aktiwiteit wat net op die basisiese behoeftes gerig is. Kom ons kyk maar na jou tipiese lokasie: daar sal talle Spaza-winkels wees, kroeë natuurlik ook, informele besighede soos straat-telefoondienste of haarkappers, maar selfs duisende mense regverdig nie ‘n Spa, ‘n kuns- en aandenkingwinkel of ‘n klereboetiek in sulke omstandighede nie.
Orania het dit wel, meer as wat van meeste ander dorpe met minder as 1000 inwoners gesê kan word: ‘n gesondheidspa, twee gesofistikeerde restaurante en koffiewinkels met geskenke, ‘n klereboetiek, selfs winkels wat juwele maak en verkoop.
Almal in Orania, en ook besoekers sal seker saamstem dat dit baie waardevol is om sulke voortreflike en “hoogkultuur” bedrywighede te hê. Dit lok toeriste, gee ‘n mooi voorkoms en gesofistikeerde beeld aan die dorp en laat mense wat aan so iets gewoond is makliker in Orania vestig.
Maar nou kom ons by die punt: sulke gesofistikeerde bedrywe en winkels kan net oorleef as hulle wyd ondersteun word. Aangesien die hoeveelheid mense per besigheid gering is moet diegene wat wel hier is dit ten volle ondersteun. Te veel besighede het al gevou omdat mense nie hulle geld plaaslik bestee nie.
Met die beperkte hoeveelheid geld wat weens die klein getalle en nog relatief klein salarisse in Orania is, moet ons ons geld aanwend om dit in ons eie besighede in te pomp. Geld wat in omloop is, is vir ‘n gemeenskap soos die bloed wat die liggaam lewend hou deur gedurig daardeur te pomp.
Om dus geld uit die stelsel te onttrek deur dit buite Orania te spandeer, in Hopetown, Kimberley of waar ook al, is soos om bloed uit ‘n liggaam te onttrek. En deesdae is dit al hoe minder nodig om dinge buite te koop wat nie hier is nie. As gesofistikeerde bedrywe soos bo genoem nie ondersteun word nie, dan eindig ons daar waar menige plattelandse dorpe is: slegs nog ‘n drankwinkel en ‘n kafee wat veral deur die armes wat geen motors besit nie gebruik word, terwyl die meer welvarende inwoners stede toe ry en hulle inkopies daar doen.
Die Ora is juis ingestel om hierdie ekonomiese toedrag van sake wat die platteland doodmaak, teen te gaan. Maar te min inwoners besef nog die groot waarde en die ekonomiese sin daarvan. Deur jou rande in Oras te ruil of sommer dadelik Oras te trek word seker gemaak dat die geld, die lewensbloed van Orania, in die gemeenskapsligaam bly. Graag sou ons egter sien dat die besighede, wat absoluut aangewese is op plaaslike ondersteuning, die lojaliteit van die burgers beloon en dit aan te moedig deur op die aankoop met Oras afslag te gee en deur Oras ook as kleingeld te gee. Tans kom dit voor asof die Ora maar net ‘n aardigheid en soms selfs lastigheid is.
Maar dit gaan nie net oor die besighede nie, ook ander instellings leef van betrokkenheid. As ‘n skool byvoorbeeld die moiete doen om ‘n toneelstuk te oefen, ‘n oeroue uitdrukking van hoogkultuur, dan is dit alles sinneloos as niemand dit bywoon. So word die kulturele aktiwiteit in sy kiem gesmoor.
Gelukkig het Orania reeds ‘n redelike aantal betrokke en patriotiese mense, anders sou ons al hierdie gesofistikeerde besighede en uitdrukkings van hoogkultuur nie hê nie. Maar meer mense kan en moet dit ondersteun sodat dit volhoubaar bly.