fbpx

Arme Dina. Ek kry haar regtig jammer. Sy noem Orania ‘verkramp’ en beweer dat ons, onsself ‘toespin in ‘n sogenaamde ‘verkrampte, argaïese web’.

Ek moet dit weer sê: Arme Dina. Sy was duidelik nog nooit op Orania nie en weet nog minder van dit waaroor Orania gaan. Ek wonder of sy die guts het om Quebec in Kanada ook ‘argaïes en verkramp’ te noem? En wat van die Suid-Tirole in Italië en die Kataloniërs in die noorde van Spanje? Wat maak Orania anders?

Dina sê dat sy ons webblad besoek het. Reg bo-aan die Orania-webblad staan ons visie: “Orania is ‘n selfstandige Afrikaner- gemeenskap wat streef na Afrikanerselfbeskikking binne ‘n federale Suid-Afrika.” Ek kan vinnig, vinnig aan ten minste 40 ander volkere in die wêreld dink wat op hierdie stadium presies dieselfde nastreef. Wat maak Afrikaners wat selfbeskikking nastreef anders?

Die probleem is dat mense soos Dina nog in die Apartheids-verwysingsraamwerk leef. Dus word enige inisiatief van Afrikaners vir hul volk se voortbestaan as rassisties, ‘n teruggryp na die verlede en meerderheidwaardigheid beskou. Dit is presies nie wat Orania is nie. Indien Orania groei en meer suksesvol raak sal dit net positiewe gevolge vir Suid-Afrika inhou. Orania gebeur nie ten koste van enige ander Suid-Afrikaanse groepe of selfs individue nie, maar is ‘n inisiatief vir die behoud van een van suidelike Afrika se kleurrykste volkere, die Afrikaner.

Net soos die geval in Quebec, Katalonië, Suid-Tirool en ander plekke in die wêreld waar volkere in ‘n eie geografiese gebied hul taal, kultuur en tradisies behou en beskerm, wil Orania ‘n alternatief vir Afrikaners wees. Letwel ‘n alternatief en nie dié alternatief nie omdat Afrikaners ook individue is en nie noodwendig almal hul eie Quebec wil hê nie. Ons praat dus nie namens alle Afrikaners nie, maar slegs namens Afrikaners wat Orania as ‘n Afrikanertuiste in ‘n eie geografiese gebied, binne ‘n meer federale Suid-Afrika wil uitbou.

Dina: Jammer dat jy ons werwingssms gekry het. Ek het dit geskryf en uitgestuur. ‘Ons mense’ verwys na presies dit wat ek hierbo genoem het: “Afrikaners wat Orania as ‘n Afrikanertuiste in ‘n eie geografiese gebied binne ‘n meer federale Suid-Afrika wil uitbou.”

Ek hoop jy sal Orania nog eendag kom besoek en waarneem dat ons eintlik ‘n baie moderne gemeenskap is. Ons is sekerlik een van die eko-vriendelikste dorpe in Suid-Afrika en ons mense is baie betrokke by moderne inisiatiewe en ons ontvang daagliks besoekers van regoor die wêreld. Hoe geïsoleerd en verkramp kan dit nou wees? ‘n Strooibaalhuis met ‘n sonwaterverwarmer, ‘n droë toilet, hoë spoed internet en twee televisieskottels verkramp?

Jaco Kleynhans

O hoor jy (ook) die magtige dreuning?
Dina

Ek is dikwels gefassineerd deur SMS-advertensies wat ek tydig en ontydig ontvang. Ek wonder altyd op watter vorm ek dan my nommer geskryf het dat hot&single.com my in die hande kan kry. Of Dropzone (‘n klub in Pretoria), wat my steeds twee jaar na ek klaar geswot het, halfses in die oggend probeer oortuig om hul happy hour en nat t-hemp kompetisie te ondersteun.
Nou gistermiddag, so ongeveer 12:30 is ek egter heeltemal onkant gevang toe die Orania-beweging my nooi om my daar in Orania te vestig.
“Orania Beweging skep ‘n veilige toekoms vir Afrikaners in ‘n eie grondgebied. Word deel van ‘n oplossing vir ons mense. Antwoord JA op sms en ons skakel terug.” – lees die ‘aanloklike’ sms/advertensie.
Sjoe. Sien ek toe nou onmiddellik hier in my geestesoog hoe ek elke dag ‘n liter melk, vars uit die koei se speen met my “twintig Ora”-noot, (waarop Trompie pryk met ‘n styfgespande kettie) sal koop. Daarna sal ek in bewondering verby die koeksistermonument huiswaarts loop. Ek sal daagliks op my stoep terugsit, en ‘n dik sny plaasbrood met tuisgemaakte nastergalkonfyt op eet (want toe sien ek nou op die Orania-webwerf, as mens voor 15 November aansluit, kan jy ‘n geskenkpak wen met Orania-produkte, wil jy nou meer).
Ek sien toe verder hoe ek eendag my kinders sal grootmaak in ‘n wêreld waar mense hul eie onwerklike realiteit probeer skep. Ek sien vir my ‘n toekoms waarin ek weier om aan te pas in my eie samelewing, weier om my land en ander mense te aanvaar, en weier om werklike probleme in die gesig te staar. Ek sien hoe ek myself toespin in ‘n kokon, en hoe ek my drade weef van verkrampte, argaïese idees. En hoe dikker ek my toespin, hoe wasiger word my werklikheid.
Hierdie mense moes kies tussen veg of vlug. En as ek dan nou moet kies, kies ek dan maar wragtig nie een van die twee nie, dankie. Want waarvoor moet ek vlug? Die rooi gevaar? Ek hardloop eerder, so vinnig my voete my kan dra, weg van ‘n spul mense met ‘n Amish-agtige visie.
En dan, wie beskou hulle as ‘ons’ mense? Ek is jammer, maar omdat ek iewers op ‘n databasis as Afrikaans gelys is, maak dit my nie deel van ‘julle’ nie. Baie dankie, maar nee dankie. Ek’s heel gelukkig in my multikulturele omgewing, probleme, korrupsie, onregverdigheid en misdaad ingesluit.
Ek kies om vir myself ‘n lewe hier te maak. Dis in elk geval ‘n baie groter uitdaging om die realiteit aan te pak as om in ‘n doringdraad enklawe te gaan krepeer.
So in plaas van ‘JA’ antwoord ek toe:
“Ek stel glad nie belang nie. Ek wil nie deel wees van ‘n beweging met ‘n verkrampte visie nie. Moet my asb nooit weer kontak nie.”
Maar eintlik wou ek eerder graag sê: GET WITH THE F@%*ING PROGRAM.
Want ek kan nie die magtige dreuning saam met julle hoor nie.
Tot later,
Dina