fbpx

Al vir dekades heers daar in Afrikanergeledere spanning tussen diegene wat ‘n mens as pragmatiste kan beskou en dié wat idealiste genoem kan word. Dan is daar nog diegene wat glad nie in volkskap en identiteit belang stel nie en net toevallig Afrikaners is en hulleself eerder iets anders noem. Hierdie groepering streef gewoonlik net na meer van die materiële en lewe asof daar geen toekoms en geen nageslag is nie. Van hulle praat ons nie eers nie.

Die pragmatiste is tipies diegene wat wel Afrikaners wil wees en wil bly, maar wat met die werklikheid werk en dit as onveranderlik beskou. Dit is tipies die Afrikaners wat die Nasionale Party in sy laaste jare oorheers het.

Swart magsoorname in ‘n verenigde Suid-Afrika is as onvermydelik beskou en die Afrikaners moes daarbinne opereer en die maksimum voordele bly behou. Die groot idee, destyds apartheid, is opgegee in die hoop om die voordele daarvan soos eie skole, eie woonbuurte, kultuurorganisasies, veiligheid en ‘n skoon omgewing – kortom die voortsetting van die Afrikaner-leefwyse en leefstyl – te kan behou.

Die idealiste was nog altyd die minderheid van die Afrikaners: hulle glo aan die groot idee. In die beginjare van die Unie van Suid-Afrika was die groot idee die herwinning van die Afrikaner se vryheid na die totale neerlaag van die Tweede Vryheidsoorlog. Dit moes bereik word deur eers weer Afrikanertrots te laat herleef en om te keer dat die Afrikaner verengels. Die standaardisering van Afrikaans as inheemse en nasionale taal van die Afrikaner was daarmee saam ‘n belangrike instrument. Later het apartheid soos veral deur Hendrik Verwoerd verkondig, die groot idee geword wat aan almal sou reg laat geskied. Afrikaners (en ander blankes) se minderheidsposisie sou beveilig word en gelyktydig sou swartmense hulle ten volle kon ontwikkel.

Namate apartheid nie meer ‘n regverdigbare groot ideaal was nie, maar ‘n toenemend onverdedigbare en selfs lelike ideologie van meerderwaardigheid en permanente onderdrukking geword het, het die idealiste die stig van ‘n eie Afrikanerstaat met eie arbeid as die groot ideaal aangegryp en daarvoor begin steun werf. SABRA, die Oranjewerkers en later Volkswag en die Afrikanervryheidstigting het uit die idealiste ontstaan. Die idealiste was egter altyd ‘n minderheid, selfs binne behoudende en vryheidsgesinde partye soos die KP en later die VF+.

Die idealiste het eweneens geweet dat uiteindelike swart magsoorname ‘n gegewe is, maar anders as die pragmatiste was hulle nie bereid om te glo dat dit die einde van Afrikanerselfbeskikking beteken en dat slegs nog agterhoedegevegte oor die klein dinge gevoer moet word nie.

Die idealiste staan in die tradisie van die Boerehelde soos De Wet, De la Rey en Hertzog, wat ook na die verpletterende neerlaag in die Tweede Vryheidsoorlog geglo het en gewerk het aan die herstel van die Afrikaner se vryheid, en nie, soos Smuts en Botha, Britse oppergesag aanvaar het en die beste vir die Afrikaner daaronder wou beding deur so aanpasbaar as moontlik te wees nie.

Die pragmatiste het wel ‘n punt en hulle benadering kan nie sonder meer afgeskiet word nie. Hulle bereik van tyd tot tyd oorwinnings, soos die haatspraak-uitspraak teen Julius Malema, die uitstel van pleknaamveranderings of die behoud van ‘n Afrikaanse skool, meesal deur ‘n kombinasie van regsaksies en die gebruik van die grondwet en betogings en petisies wat simpatiek deur die media gedek word. Hierdie suksesse gee mense weer hoop en maak hulle lewensomstandighede vir ‘n ruk weer draagliker. Die redenasie van die pragmatiste is gewoonlik dat die ideaal van selfbeskikking goed en wel is, maar dat dit min met mense se werklike probleem en bekommernisse te make het en dat hulle nou, en daar waar hulle woon, gehelp moet word. ‘n Mens kan egter ook sê dat  die pragmatiste agterhoedgevegte veg en aan Afrikaners ‘n fopspeen gee.

Die pragmatiese benadering sonder om die groot ideaal in gedagte te hou beteken egter min. Die blankes in Zimbabwe was pragmaties: hulle het besigheid gedoen, geboer, die land opgebou en in stand gehou, hulle uit die politiek uit gehou en voortgegaan met hulle klubs en gesellighede. Dit alles het nie verhoed dat hulle grond gevat en hulle verdryf of vermoor is, of ‘n armoedige bestaan moes voer omdat die ekonomie geruïneer is nie.

Die groot idee alleen sonder die vermoë om dit uit te voer beteken egter ook min: al vir dekades ontwerp sekere idealiste kaarte en grondwette van Afrikanerstate maar het nog steeds geen plek opgebou waar dit in praktyk werk nie.

Wat ons moet doen is om die twee benaderings te trou as pragmatiese idealisme: Die ideaal wys die weg. Die uitvoering is egter pragmaties solank die doel nooit uit die oog verloor word nie. Met die benadering van pragmatiese idealisme kan ons byvoorbeeld sê dat ons vir die oomblik tevrede is om slegs een dorp as groeipunt uit te bou want ons kapasiteit vir meer ontbreek tans nog. Maar ons moet nooit so pragmaties raak dat ons sê een dorp is vir ons genoeg en ons aanvaar vir altyd die vreemde bewind oor ons nie!

Pragmatisme wat die strewe vir vryheid en ‘n eie land uitskakel en slegs versagting van die permanente onderhorigheid probeer bewerkstellig beteken min. Idealisme wat nooit tot die daad oorgaan en wat weens suiwerheid net met niemand kan saamwerk nie, beteken egter nog minder.

Die idealisme wat ons voorstaan is die idealisme van die daad. Sien die goue toekoms op die horison, en bou die pad daarheen nou.