fbpx

Afrikaans op kampus

  • ‘n eerstejaarservaring

Deur Frans de Klerk

As ‘n kind uit Orania het ek die studentelewe ingetree met min ervaring van die ‘buitewêreld’. Soos elke ander persoon, was daar verwagtinge en idees geskep oor wat die nuwe lewe buite Orania vir my sou bied. Soos met elke ander persoon, het sommige verwagtinge hulself bewaarheid en ander nie, maar wat vir my die grootste aanpassing was, is die gebruik van Afrikaans in my geledere.

Die proses om Afrikaans uit universiteite te haal is al ‘n geruime tyd aan die gang en tot dusver geslaagd. Eerstejaarstudente by die Universiteit van Pretoria word nie meer toegelaat om enige vak, toets of lesing in Afrikaans te ontvang nie. Alle klasse word in Engels gehou en alle leerstof in Engels gebied. Dit skep definitief uitdagings, selfs hindernisse vir Afrikaner-studente op kampus. Vir ‘n gemiddelde Afrikaanse matriekleerling, het die tree van skool na universiteit nou groter geraak. Om universiteit baas te raak, beteken dus ook om ‘n ander taal baas te raak. Daarby gesê, ‘n taal wat daagliks in elke klas gepraat word, het ook die geneigdheid om vlak op die brein te lê wanneer ‘n mens sosiaal verkeer. Aangesien jy vir ure op ‘n dag in Engels leer, begin dit al hoe meer die gebruikstaal, nie net vir klasse nie, maar ook op kampus te word. Elke persoon wat by die universiteit studeer moet in Engels kan studeer, en daarom kan aangeneem word dat almal wel Engels kan praat. Die neiging ontstaan dat jy eerder mense oor die algemeen in Engels groet, eerder jou kos in Engels bestel by kampuseetplekke of selfs met jou Afrikaanse geledere in klasse begin Engels praat. So ‘n “ver-Engelsing” is dan op die ou ent bloot net prakties makliker om deur die dag te kom.

Tog is daar ‘n skuldgevoel sodra jy agterkom jy het heeldag net Engels gepraat het. Dit is maklik om verskonings uit te dink oor waarom dit geregverdig is om heeldag in Engels te verkeer, maar as ‘n Afrikaner en met die wete dat Afrikaans eens ‘n tersiêre vaktaal was, is dit steeds ‘n ongemaklike storie. Vir meerderheid van Afrikaanssprekende studente, lyk dit egter asof Engels as vaktaal slegs ‘n akademiese hindernis bied. Oor die algemeen is daar nie ‘n groot verlange na Afrikaans nie, behalwe vir die beloftes van punte verbetering gebied deur moedertaalonderrig. In kontras met plekke soos Orania waar Afrikaans met ‘n duidelike kultuur gepaard gaan, dien dit deesdae slegs as ‘n kommunikasiemiddel wanneer jy nie besig is met klas of ander aktuele sake nie. Aangesien daar nie ‘n verlange na die taal is nie, word daar ook nie vreeslik baie moeite gedoen om dit op ‘n suiwere manier te gebruik nie. Selfs al sou daar ‘n effense kommernis oor die taal wees, sal dit gou weens die groepsdruk van meer bekende Engelse terme verdwyn.

Steeds is my ervaring glad nie dat Afrikaans op universiteit dood is nie, maar slegs dat dit ongelukkig aan die verloor kant van die stryd is, selfs op sosiale vlak. Om elke hoek en draai word Afrikaans gevind in groepies en geselsies, maar ‘n suiwer vorm van die taal word min gepraat. Ek voel egter ook dat daar nog hoop vir die taal behoort te wees. Debat- en skryfklubs in Afrikaans staan ‘n goeie kans om baie Afrikaanssprekendes te lok. Solank as wat daar aktief met die taal gewerk word, of die taal aktief by koshuise of projekte gebruik word, staan dit nog sterk. Sodra jy egter ‘n dag kon deurbring sonder om Afrikaans buite die huis te gebruik, moet jy tot die besef kom dat daar ‘n probleem is met jou huidige sosiale omstandighede. Hierdie probleem het baie eenvoudige verskonings wat gebruik kan word, maar die ideale oplossing is om self ‘n manier te vind om jou taal weer aktief en produktief te kan gebruik.

Die stryd van Afrikaans op kampus gaan dus steeds voort, met die grootste uitdaging dat Afrikaners ophou veg. Daarom hits ek elke ander Afrikaanse student aan om of by ‘n Afrikaanse klub/projek/redaksie aan te sluit, of om self die inisiatief te neem om ‘n omgewing te skep waar Afrikaans aktief gebruik te kan word.

Frans de Klerk

(Die menings op Orania Blog is nie noodwendig die menings van die Beweging nie)