fbpx

Orania is nie die hemel nie

deur Pieter Krige

Enigeen wat iets van ons volk ken, sal met hierdie kennis sommer vinnig die “nie die hemel nie” uitdrukking kan beaam. Dit was natuurlik ook een van die eerste kommentare wat ek, na ek en my gesin besluit het om die trek Orania toe aan te pak, van ‘n Oraniër af gehoor het. Met die beskrywing van Orania as ‘n Afrikaner-Boere plek, was ek onder geen illusies gewees nie, ek is immers as een gebore, grootgemaak, het as een groot geword en in Pretoria by ‘n Afrikanerkerk se universiteit mens geword. Die Afrikaner is ‘n hardekopvolk, saamgestel uit waarskynlik die hardste koppe uit Europa, saamgestel uit groepe voorvaders wat dinge in hul geskiedenis het soos ‘n Honderjarige-oorlog, en nie aan dieselfde kant nie. Iemand vra my onlangs, in die empaaier se taal nogal: “But who exactly are these Afrikaners…” “It’s complicated…” begin ek, en na ‘n paar Sarie Marais, De Wette en Van Riebeecks, eindig eintlik ook maar weer met dieselfde… “complicated.”

Natuurlik, vanuit ‘n teologiese perspektief, is die “nie die hemel” uitdrukking ewig geldend vir alle plekke in hierdie tydelike bedeling. Ons is immers almal in sonde ontvang en gebore, dus is die hemel slegs vir die uitverkore begenadigde Kruismense beskore; na hierdie tydelike vir ons met die ewige verwissel is. Maar die “Orania is nie die hemel nie” verwys nie so diep teologies na die dinge nie, dit is eintlik maar ‘n uitdrukking wat my moes voorberei op ‘n werklikheid wat nie altyd maanskyn en rose is nie, alhoewel ons hier in die Karoo genoeg van beide ook het; maanskyn en rose dit is.

Ons het genoeg opinies om ons inwonertal te verdriedubbel, ek het gewoonlik twee of drie en stry lekker in die slapelose nagte met myself. Ek worstel intern soos my volk intern worstel. “Nie die hemel nie,” en nie altyd maklik nie, en soms selfs vrek moeilik.

Na my voorbereiding vir ‘n belangrike vergadering, en die Orania-eie gebruiklike twee of drie vergaderings as voorbereiding vir die vergadering, kom ons gewoonlik weereens agter dat ons doel en strewe presies belyn is, maar die weg daarheen, dit is soms minder duidelik.

Ek is soms dankbaar dat Orania nie ‘n party-politieke stelsel het nie, daar sou heel maklik en waarskynlik 1652 partye gewees het.

Ek weet nie of ander volkere ook so lekker met mekaar kan verskil en stry as ons nie, ek ken nie die ander so intiem nie, stel ook in ‘n sekere sin nie verskriklik belang in hul interne strukture en stelsels nie, in hul verhoudinge nie. Maar ons, ons ken ek redelik goed.

‘n Denker van ‘n ander volk, heel bekwaam polities en filosofies, sê onlangs vir my dat hulle met verlange en selfs jaloesie na die Afrikaner vandag kyk. Ons is so goed georganiseerd en eendragtig, almal in strukture wat saam vir die saak werk, een groot laer wat saam op trek die toekoms in is. Ek glimlag, maar help hom nie reg nie… ek dink hy is reg.

Ten spyte van die feit dat Orania “nie die hemel” is nie, is daar iets aan die gebeur, en wat gebeur is werk. En as mens werk en dinge doen, maak jy foute, en foute maak mense kwaad en bied geleentheid vir aanvalle. Soms is daar selfs dinge wat reg is, wat mooi loop, waarmee almal eintlik saamstem, waaroor ons lekker kan stry.

Ek het al hierdie dinge geweet en verwag, ons is immers ‘n klomp hardekop Afrikaners waarvan ek ook een is. Ek het nie hemel toe getrek nie, sal deur die genade ook eendag daardie laaste trek onderneem, maar het na ‘n werklikheid toe getrek. ‘n Werklikheid wat groei en hoop bied, ‘n werklikheid waarbinne my geloof, taal en kultuur nie net toegelaat word nie, maar erken word en uitgebou word. Ek het na ‘n werklikheid getrek wat groei. Ek probeer so een keer per maand deur die hele Orania ry, en elke keer staan ek verbaas, dat ten spyte van ons hardekopgeit, daar tasbare en sigbare groei is; groei wat ons volk so bitter nodig in hierdie gebroke wêreld het. Groei wat hoop in die tydelike bied, miskien ten spyte van ons hardnekkigheid, miskien as gevolg daarvan.

Daar is krag in ons verskille. Reitz skryf in sy boek Kommando, “en elke Boerekryger was sy eie generaal.” “Complicated…” antwoord ek die Engelsman. Ons is maar ‘n moeilike klompie mense wat God hier in Afrika tot ‘n nuwe volk kom maak het. Ten spyte hiervan, miskien as gevolg hiervan, bou ek voort… want hierdie klomp hardekoppe, het ek lief, sommer net soos ons is, want ek is deel hiervan.

In ons nie-hemelse Oranialaer, Afrikaner-Boerevolklaer, wapper daar vele vlae, maar hierdie volk, hierdie “complicated” klomp mense, hier aan die Suidpunt geplant, hier onder die Suiderkruis gebore, hierdie is my mense, en ek is op hulle trots… en ek ís vir hulle lief.

 

 

 

 

 

Ek besef onlangs dat dit die juk en die pad vorentoe was, wat ‘n klomp Afrikanerosse laat saamtrek het; nie hul eie vrye wil, behoeftes en begeertes nie, maar die taak wat aan hul opgelê is, en die juk wat hul saamsnoer. Ek hoef seker nie oor die juk wat binne die huidige omstandighede op ons as volk geplaas is veel te sê nie, ook nie oor die taak voorhande nie. Die enigste ding is, en hierdie is ‘n gróót ding… Voorwaarts die toekoms in.

(Die menings op Oraniablog is nie noodwendig dié van die Orania Beweging nie)

Blog Single

Orania is nie die hemel nie

by Okt 30, 2019Uncategorized4 comments

4 Comments

  1. Chris Malan

    Woorde gaan nie die wa deur die drif trek nie. Na al die jare is Oranië steeds ‘n onbeduidende gemeenskappie. Plekkies soos Stilfontein het meer blankes – omtrent 8,500 vs omtrent 1,700. En wat is Stilfontein? Daar is werklike werk wat net deur woorde in die wiele gery word. Beweeg weg van die politikus-agtige mense en kry mense wat in kontak is met die harde werklikheid aan die roer.

    Reply
  2. Pieter Olivier

    Orania is n baken van hoop vir Afrikaners en diegene wat met hulle kan en wil assosieer. Op 78 sal ek seker nie die avontuur kan smaak om daarheen te verhuis nie. Maar ek is in gees en daad n Oraniër. Die van ons wat kan, kan van ons geld in Orania belê. Daar is feitlik geen ander dorp in SA wat so skoon, netjies, heel en veilig soos Orania is nie. Dit is ook n lekker wegbreekplek. Intussen, met baie genade van Bo, beoefen ek en my 75 jarige gade op ons tuisplek Orania beginsels. Groete.

    Reply
  3. Michael Hendricks

    Goed gesê. Groot dinge verg werk. Orania sal suksesvol wees omdat dit moeilik is, nie omdat dit maklik en gemaklik is nie.

    Reply
  4. Lida

    ORANIA is awesome en in my bloed Kan ek n kontak persoon se email kry asb My tasse is klaar gepak whahaha Baie opgewonde Ek het meer inligting nodig oor verblyf DANKIE

    Reply

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

17 − 13 =