fbpx

27 FEBRUARIE: DIE EEN WAS COLLEY; DIE ANDER EEN CRONJÉ – Die een was “Die berg van die Duiwe; Die ander een “Die berg van die Perde.”

Deur Louis Bothma

27 Februarie is bittersoet.

By Majuba was Colley die een wat die foute gemaak het, en dapper gesterf het. By Paardeberg het Cronjé die foute gemaak, maar dapper weerstand gebied.

Vir die Britte was Majuba ‘n bitter pil om te sluk. Wat hulle nie militêr kon regkry nie, het hulle daarna by die onderhandelingstafel probeer bereik om steeds ‘n houvas op die Boere te behou (Artikel 4 van die Londen Konvensie).

Toe Cecil Rhodes sy vriend Dr. Leander Starr Jameson 15 jaar later met 500 man instuur om verspot maklik te probeer doen wat Sir Theophilus Shepstone in 1877 met 25 man reggekry het, was generaal Piet Cronjé aan die spits om Jameson te stuit – by Doornkop naby Krugersdorp.

Die Diamond Fields Advertiser het in Januarie 1896 geskryf: “All the bitterness being on the side of the British, who now had a small pocket edition of Majuba to swallow.”

Maar nét vier jaar later was dit die einste Piet Cronjé wat op Majubadag sy leër van oor die 4000 man aan die Britte moes oorgee.

“Die Engelse het ons Majubadag gevat,” het ‘n hartseer Paul Kruger gesê.

Dit was die begin van die einde. Twee jaar later het die Britte ook die Boere se vryheid van hulle weggevat en in 1910 ‘n Nuwe Suid-Afrika geskep. Daar was vir die Boere geen kitsoplossing om hul vryheid te herwin nie. Dit sou 51 jaar neem om Die Republiek van Suid-Afrika tot stand te bring.

Maar nét 33 jaar later het die Afrikaner, ondanks militêre oorwinnings, sy vryheid by die onderhandelingstafel verloor.

Die geskiedenis leer dat ‘n volk gevegte kan wen, maar by die onderhandelingstafel waar die stryd op ander maniere voortgesit word, kan hy die oorlog en sy vryheid verloor. Die geskiedenis leer ook dat die pad na vryheid lank en moeilik is, maar dat die pad om dit te verloor, korter is.

Vier Majubadag, maar moet nooit op hierdie dag Paardeberg vergeet nie. Die geskiedenis het ‘n nare manier om terug te kom en ons aan die hakskeen te kom byt.

Dit geld almal – óók die ANC, wat glo hy sal tot die Wederkoms regeer.