Die Orania Beweging se ledetydskrif, die Voorgrond, is onlangs gepubliseer en is beskikbaar vir elkeen om deur te lees. Die tema van vanjaar se Voorgrond is: Orania 2035.
In hierdie tydskrif word ʼn toekomsbeeld van Orania geskets. Hoe sal Orania in die toekoms lyk? Wat het ons nodig om daardie toekoms wat ons graag wil hê, te verwesenlik?
“Dit wat ons vandag doen – deur ons beplanning, ons handewerk, ons beleid en ons drome – is die saadjies wat ons plant om in 2035 onder daardie bome se skaduwee tuis te kom. Jy, en elke lid wat die Orania Beweging in daad en woord ondersteun, plant saam met ons hierdie bome!” Só klink die boodskap van Joost Strydom, Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging.
Op die voorblad van die Voorgrond pryk ‘n skermgreep uit die driedimensionele digitale voorstelling van Orania se beplande stadsplein, waar die beeld van Paul Kruger ook opgerig gaan word. Interessante artikels rakende onder andere kunsmatige intelligensie, die jeug se toekomsvisie vir Orania, moderne infrastruktuur en Orania se kragonafhanklikheid lê vir elke leser voor.
“Ons weet egter dat ʼn paar dinge van Orania nooit sal verander nie. Oraniërs staan vas in hul identiteit, geloof en beginsels. Orania sal aanhou om Afrikanerkultuur en -erfenis te vier en te bevorder – op ʼn manier wat nie staties is nie,” sê Frans de Klerk, Kommunikasiebeampte by die Orania Beweging. “Ons is pioniers van aard. Wanneer ons die een hekkie oor is, het ons reeds die volgende drie voor oë.”