fbpx

Volkskool

In ‘n tyd waarin onderwys en onderwysfilosofie en -tegnieke ernstig onder die loep geneem word, is Volkskool op die voorpunt met selfgerigte leer wat al sedert 1991 suksesvol toegepas word. 

Terwyl ‘n span gekwalifiseerde onderwysers daagliks by Volkskool die leerlinge lei en onderrig, is hulle ook besig om honderde afstandleerlinge, wat tuis of in klein sentrums werk, te begelei en ondersteun. 

Volkskool se matrikulante verlaat die skool met vaardighede soos hardwerkendheid, deursettingsvermoë, selfdissipline en verantwoordelikheid – eienskappe wat onbewustelik deur die skool se leermetodes gevestig word en in goeie uitslae weerspieël word. 

Op buitemuurse gebied spog Volkskool Orania ook met verskeie brons, silwer en goue medaljes vir die Eskom Expo vir jong wetenskaplikes. Die skool het selfs in 2010 ‘n onder 12 skaakspannetjie Johannesburg toe gestuur vir die CHESSA junior kampioenskappe. Vriendskaplike sportgeleenthede word jaarliks saam met Volkskool se afstandleersentrums aangebied en Volkskoolleerlinge neem al jare kompeterend saam met ‘n buurskool aan streeks- en provinsiale sport deel.

As deel van die vak Toerisme, reël die gr 10 en 11 leerlinge wat daardie vak neem elke jaar ‘n toer vir hulleself! So leer hulle op ‘n praktiese wyse die belangrike aspekte van daardie vak. 

Volkskool se matrikulante woon ook jaarliks ‘n slypskool in Orania by waartydens hulle gereed gemaak word vir die rekord- en eindeksamens. As afsluiting van hierdie week en 12 jaar se akademiese werk, bied ons ook vir hulle ‘n onvergeetlike matriekafskeid aan. 

Volkskool Orania lewer met sy selfgedrewe werkswyse en doelgemaakte leermateriaal ‘n sleutelbydrae tot:

  • die oordrag en uitbouing van ons Christelike geloof, Afrikaanse kultuur en Westerse tradisie;
  • ‘n florerende Orania en ‘n vrye Afrikanervolk; en
  • elke leerling se volle ontplooiing in die gees van ons leuse Word jou beste self.

Besoek gerus ons webwerf by www.afstandsleer.co.za en ons Volkskool Orania Facebookblad of skakel ons by 072 970 7050 of 053 207 0161