Orania se 2023 sensusdata bekendgemaak

Orania Dorpsraad doen ʼn jaarlikse sensus om Orania se groei op verskillende vlakke te meet. Dit is krities belangrik om ʼn insig in Orania se groei, bottelnekke, uitdagings en geleenthede te hê. Die 2023 sensussyfers is pas deur die Orania Dorpsraad bekendgemaak en dit is vol opwindende statistiek! Hier is ʼn samevatting van Orania se sensussyfers, wat ʼn goeie oorsig te bied; nie net oor 2023 spesifiek nie, maar ook oor die afgelope vyf jaar in Orania.
Bevolkingsgroei
Orania se bevolkingsgroei het oor die afgelope vyf jaar elke jaar tussen 12 en 15% gegroei. In 2023 spesifiek was daar ʼn 12.8% groei in Orania se totale bevolking, wat die groter Orania op ʼn totaal van 2874 inwoners aan die einde van 2023 te staan gebring het. Dit word in ʼn totaal van 1140 huishoudings verteenwoordig. ʼn Prioriteit van instellings in Orania, en privaatontwikkelaars, is om die aantal beskikbare erwe in Orania in die volgende vyf jaar drasties te verhoog om so geleenthede vir vestiging te skep.
Besighede in Orania
In 2023 was daar meer as 300 geregistreerde ondernemings in Orania waarvan 248 aan die sensus deelgeneem het en waarvan 121 aangedui het dat hulle ʼn jaarlikse omset van meer as ф250 000.00 geniet (Die Ora (ф) is Orania se plaaslike ‘geldstelsel’ en ф1=R1).
Daar is ʼn gemiddelde jaarlikse groei van 4,6% in geregistreerde besighede (met ʼn omset groter as 250K), vir ʼn totaal van 121 in Orania. Indien alle geregistreerde sakeondernemings in Orania getel word, is daar ʼn totaal van 300, wat beteken dat daar ʼn besigheid vir elke 9,5 persone in Orania is. Dit dui op ʼn kultuur van entrepreneurskapwese.
Werksgeleenthede en lewenskoste
Orania het as pioniersgemeenskap begin, maar die ekonomie groei en meer kompeterende salarisse word moontlik. Salarisse in Orania het oor die afgelope 5 jaar met 57% gegroei., 96,7% van besighede wat gereageer het, het aangedui dat hulle hul arbeidsmag sal uitbrei. Daarmee saam het 78,6% van sake-eienaars aangedui het dat hulle goeie of uitstekende verwagtinge vir die komende jaar het.
Voedselinflasie in die 2023 tydperk was sowat 3,8% in Orania, vergeleke met die veel hoër 8,5% in SA.
Eiendomswaarde
Eiendom in Orania is steeds ‘n uitstekende belegging, met die waarde van onbeboude gedienste erwe wat in vyf jaar met 75,9% gegroei het! Reeds beboude erwe, het in dieselfde tydperk met 62,5% gegroei. In 2023 is daar 182 bouaansoeke by die Orania Dorpsraad ingedien, vir ‘n totale waarde van R142 415 660.
Openbare kapitaalvorming
Altesaam R621 010 831 se openbare kapitaalvorming het deur Orania se finansiële instellings plaasgevind. By verre die grootste gedeelte hiervan is deur OSK, Orania se eie bank. Die Gemiddelde groei oor die afgelope 5 jaar was 22%. Die voordele wat kapitaalvorming inhou is dat dit geleenthede skep wat die lewenstandaard van Oraniërs kan verhoog en verdere uitbreiding van die dorp moontlik maak.
Onderwys
Orania het twee skole (beide is gekombineerde hoër- en laerskole), twee voorskoolse sentrums en ʼn tersiêre opleidingsinstelling (Bo-Karoo Opleiding).
Tussen hierdie instellings het primêre, sekondêre en tersiêre onderwys in 2023 met 9% gegroei vir ‘n totaal van 777 studente in Orania.
Klimaat
Orania is in 2023 met 396,2 mm reën geseën. Die laagste temperatuur was -2,9°C terwyl die warmste dag ʼn kokende 40,7°C grade Celsius in die Karoo-son was!
Spesiale dank aan Orania Dorpsraad vir hierdie sensusinligting!
Foto 1: Ontwikkeling in Orania: die eerste sooi vir die nuwe aftreeoord word gespit.
Foto 2: Orania CVO-skool se skoliere tydens die begin van die jaar.
Foto 3: Infrastruktuur in Orania: die oprigting van ‘n nuwe toring.


