Orania Sakekamer bou netwerke by die Sakeliga Bosberaad

Die Orania Sakekamer het onlangs ʼn waardevolle geleentheid benut deur die Sakeliga Bosberaad in Pretoria by te woon, waar sakekamers en ondernemings van regoor die land byeengekom het. Hierdie byeenkoms het gefokus op die toenemende verval van munisipale dienste en die rol van sakekamers om plaaslike besigheidsbelange te beskerm en te bevorder.

“Dit het vir ons ‘n uitstekende platform geskep om met ander sakekamers oor gemeenskaplike uitdagings en oplossings te gesels en die unieke voordele wat Orania het, te deel,” sê Tony Correia, Voorsitter van Orania Sakekamer.

Terwyl ander sakekamers se strewe om plaaslike besighede te ondersteun belemmer word deur swak munisipale dienste, kan die Orania Sakekamer voordeel trek uit ʼn effektiewe funksionerende munisipaliteit. In Orania het ons ʼn munisipaliteit wat basiese dienste uitstekend lewer. Dit dra aktief by tot ‘n gunstige besigheidsomgewing. Hierdie voordelige werksomgewing bied ʼn uitstekende kans om ander sakekamers in te lig oor die waarde van ʼn effektiewe munisipale struktuur en die impak wat dit op plaaslike ekonomiese groei kan hê. Dit versterk ons vermoë om plaaslike besighede te laat groei, wat weer op ‘n groter skaal die hele gemeenskap bevoordeel.

Tony vertel dat ander sakekamers in die Orania-model belanggestel het.

“Gedurende die Bosberaad het ek tydens informele gesprekke hierdie werksmodel aan ander sakekamers bekendgestel. Hulle was veral geïnteresseerd in hoe ‘n selfstandige munisipaliteit die ontwikkeling van plaaslike ondernemings kan bevorder en ʼn voorbeeld stel van hoe selfbestuur ekonomiese selfstandigheid ondersteun.

Die Orania Sakekamer se positiewe ervaring met ʼn betroubare munisipaliteit bied dus waardevolle lesse vir sakekamers wat sukkel met munisipale verval en dit kan hulle inspireer om alternatiewe oplossings te oorweeg vir die uitdagings waarmee hulle te kampe het.

Op hierdie manier bou die Orania Sakekamer nie net sy netwerk uit nie, maar dien dit ook as ‘n voorbeeld van die voordele wat ‘n goed funksionerende plaaslike bestuur vir besighede kan bring. Hierdie kruisbestuiwing van idees, praktiese kennis oor munisipale effektiwiteit en sakekamerstrategieë versterk nie net die posisie van die sakekamer nie, maar bied ook hoop en insig vir ander gemeenskappe wat streef na beter en meer selfstandige bestuursmodelle.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel