Orania Beweging voeg stem by duisende Afrikaners: Stop BELA wetgewing!

Die Orania Beweging en ander Orania instellings het op Dinsdag 5 November aan die #StopBela protesoptog deelgeneem. Daar was 10 000 deelnemers aan hierdie protes by die Voortrekkermonument.
Die Orania Beweging het hierdie week twee geleenthede bygewoon om die BELA-wetgewing, spesifiek die klousules wat nog nie aanvaar is nie, teen te staan. Die BELA- wetgewing ontneem ouers van enige seggenskap in hulle skole, en oorhandig dit volledig aan die staat – met ʼn agenda van ‘transformasie’, ‘integrasie’ en verengelsing.
Die eerste geleentheid was ʼn mediakonferensie waar die Orania Beweging en 40 ander Afrikanerorganisasies hulle standpunte teen BELA gestel het. Tydens hierdie geleentheid het Joost Strydom van die Orania Beweging die standpunt gehuldig dat Afrikanerkinders nie aan die ANC behoort om ʼn politieke speelbal van te maak nie. Orania en sy mense is lotsgebonde aan Afrikaners buite Orania, en hoewel die wetgewing nog nie ʼn invloed op die privaatskole in Orania het nie, is dit gerig op ons mense buite Orania. Ons weet ook dat die regering volgende hulle visier op privaatskole sal rig sodra hierdie eerste vernietigende fase geïmplementeer is.
Ons weet ook dat die ANC Afrikaners wil ontsê van enige besluitnemingsmag oor ons kultuur, taal, kennisoordrag en identiteitsvorming. In die naam van “integrasie” wil die regering Afrikanerkultuur disintegreer.
Die feit dat BELA in die konteks staan van ander ANC planne, soos nasionale gesondheidversekering en grondonteiening sonder vergoeding, stuur ook ʼn boodskap vir Afrikaners.
Afrikanerkinders en hulle opvoeding behoort nie aan die ANC nie. Hulle behoort aan ʼn Hoër Gesag. Daarom staan die Orania Beweging hierdie wetgewingsklousules ten sterkste teen.
Verder het die Orania Beweging aktief deelgeneem aan die protesaksie wat deur Solidariteit en AfriForum gereël is en by die Voortrekkermonument weggetrek het. Tydens hierdie protesoptog het 10 000 mense die program by die Voortrekkermonument bygewoon, en daarna na Vryheidspark gemars waar ʼn memorandum aan verteenwoordigers van die Regering van Nasionale Eenheid oorhandig is waar BELA ten sterkste kritiseer is.
Volgens Strydom sal hulle organisasies wat hierdie wetgewing teenstaan aanhou ondersteun.
Foto: Oraniërs het al die pad tot in Pretoria gereis om aan hierdie historiese optog deel te neem.

Foto: Meer as 10 000 Afrikaners het van die Voortrekkermonument tot by Freedom Park gestap.
