Orania Beweging Nuusbrief

16 Mei 2025

Afrikanervlugtelinge of vryheid?

Die Afrikaners wat onlangs vlugtelingstatus in die VSA toegestaan is, en dienooreenkomstig vertrek het, laat mense met ʼn bittersoet gevoel. Aan die een kant, dankbaar dat daar uitkoms is vir mense soos Thea van Straten, wat vier keer op haar Vrystaatse plaas aangeval is. Aan die ander kant, die besef dat Afrikaners wat hervestig in die VSA, heel waarskynlik binne enkele generasies Amerikaners sal wees.

Op sigself sal grootskaalse hervestiging van Afrikaners beteken dat Afrikaners ophou bestaan as ʼn volk.

Daar is ook duisende der duisende Afrikaners wat in Suid-Afrika wil bly, maar wat bekommerd is oor die toekoms. Hoe bou ʼn mens ʼn toekoms waar Afrikaners gevestig, stabiel en veilig kan aanhou voortbestaan hier aan die suidpunt van Afrika?

Die Orania-oplossing vind hierby aansluiting. Die Oraniërs glo dat mens ná iets toe kan trek, en só aan ʼn toekoms kan bou.

In Orania is die standpunt dat Afrikaners, as hulle oor hulle eie toekoms wil besluit, in ʼn gebied moet vestig waar hulle die meerderheid kan wees. Om daardie rede is ʼn lae-ontwikkelde gebied in die Karoo gekies, met die potensiaal om ontwikkel te word.

In só ʼn gebied is daar twee verdere voorwaardes: Afrikaners moet hulle eie instellings bou (terwyl SAL, ESKOM en ander faal), en ook al hulle eie werk doen (volkseie arbeid), om sodoende te verseker dat niemand kan sê hulle moes ons toekoms vir ons bou nie, dat niemand misbruik word nie, en dat Afrikaners die meerderheid in eie gebied bly.

Daar is voordele in hervestiging in die VSA: daar is ʼn sterk ekonomie, geleenthede en selfs veiligheid. Vir baie Afrikaners is dit egter krities belangrik om in Afrika te bly. Dit is waar ons tuis voel, waar ons voorouers gewoon, gewerk en gewandel het, waar ons geskiedenis, tradisies en kultuur floreer.

Dit laat die vraag: Wat is nodig vir Orania om te “kompeteer” met die VSA? Of te wel, wat moet Orania daarstel sodat Afrikaners wat reeds bereid is om ʼn skuif te maak, Orania as moontlikheid oorweeg?

In ʼn onlangse gesprek hieroor het Joost Strydom van die Orania Beweging met Burger Lambrechts van die Orania Dorpsraad gesels. Die tema was “Vlugtelinge of Vryheid?”

Die gesprek het spesifiek gehandel oor die sterk gees onder Oraniërs wat in ʼn onlangse meningspeiling uitgewys is: ons mense vestig hier met die doel om vryheid te bevorder.

Volgens hierdie navorsing wat deur die Orania Dorpsraad gedoen is, is dit statisties uitgewys dat die vryheidsdroom by verre die belangrikste saak vir beide gevestigde Oraniërs en nuwe intrekkers is.

Ons gun ons mense wat ʼn nuwe tuiste in die VSA kies daardie opsie – baie van hulle is deur baie trauma. Terselfdertyd is dit nodig om ʼn toekoms vir ons mense hiér te bou. Dit is wat die Orania Beweging, saam met ander Orania-instellings en met die bydraes van ons lede, hier in Orania wil doen!

EFF oor Kleinfontein en Orania: Waarom die aanvalle?

Die EFF, wat deesdae internasionaal berug is vir hulle “Kill the Boer”, het onlangs ook gepoog om ʼn nasionale veldtog onder die sambreel van “Orania must fall” en “Kleinfontein must fall” te mobiliseer.

Die EFF het ʼn openbare memorandum aan die premier van die Noord-Kaap oorhandig, wat onder andere verklaar het dat Orania se “status heroorweeg moet word”. Hierdie geleentheid het ʼn paar honderd EFF-lede, wat per bus van ander dorpe af aangery is, in Kimberley byeengebring, waar die memorandum aan die premier se kantoor oorhandig is.

Na afloop daarvan het die EFF in Gauteng ook rondom Kleinfontein, wat soms as Orania se sustersgemeenskap beskryf word, gemobiliseer.

Hulle het Kleinfontein se ingang versper, “Kill the Boer” gesing, Kleinfontein se verwelkomingsbord met die leuse “Ons God, ons volk, ons eie” vernietig, en op ʼn industriële vlak, rommel gestrooi.

Terwyl hierdie openbare skouspelle afgespeel het, het beide Orania en Kleinfontein se inwoners aanhou werk, bou en produktiewe bydraes tot hulle eie gemeenskappe gelewer.

Die Kleinfonteiners moes ná afloop van die EFF se “besoek” die pad skoonmaak soos wat rommel die hele area vervuil het.

Hierdie openbare geraas laat ʼn mens natuurlik met vrae. Waarom al die geraas van die EFF? Wat is die status van hierdie gemeenskappe werklik? En, hoe hou ons ons mense veilig?

Die ironie van die hele saak is dat die EFF baie goed van Orania se status bewus is. Orania het sy ontstaansreg in Artikel 235 van die Grondwet gevestig – dit is die reg tot selfbeskikking vir kulturele groepe in Suid-Afrika.

Aanknopend daaraan het Orania ʼn hele reeks historiese ooreenkomste wat ons reg as plaaslike owerheid vestig. Dit sluit die 2000-hofsaak oor Orania se reg tot eie status, ooreenkomste met die distriksmunisipaliteit, en Orania se eie oorlegsone in.

Waarom is die EFF daarvan bewus? Wel, Julius Malema het (in sy tyd by die ANC-jeugliga) ʼn besoek aan Orania gebring. Wat hy gehoop het ʼn mediastorm sou wees, het toe eintlik net uitgewys dat Orania ʼn stabiele, gevestigde en produktiewe gemeenskap is.

Na afloop van die besoek het Malema ʼn deeglike begrip van Orania se grondige en wettige bestaan gehad, en dus vir lank nie oor Orania gepraat nie.

Wat die MK-party betref – hulle eie leier (op daardie stadium nog president), Jacob Zuma, het ook ʼn besoek aan Orania gebring. Sy reaksie?

“If all communities in South Africa could organize like Orania, we would fight poverty!”

Gegewe dat hierdie groep dus wél deeglik van Orania se reg om te bestaan bewus is, laat dit ons met die gevolgtrekking dat dit bloot goedkoop, populistiese politiek is om Orania en Kleinfontein aan te val.

Dit beteken dat die EFF, as ʼn krimpende party wat nog geen ekonomiese vooruitgang vir hulle kiesers kon bewerkstellig nie, en ook geen skole gebou het soos hulle belowe het nie, hulle ondersteuners se aandag vinnig op iets anders moet vestig – en dus: “Orania must fall!”

Orania sal egter nie val nie – Orania sal staan

Die gemeenskap van Orania beroep hom nie net op die reg om te bestaan soos gewaarborg nie, maar ons is ook nie ʼn organisasie of politieke party nie – ons is ʼn gemeenskap wat nie eenvoudig net “uitgevee” kan word nie.

Orania se gemeenskap is paraat en help as vrywilligers om ons plek te beskerm. Orania Veiligheidsdienste en die Weerbaarheidsvereniging handhaaf openbare orde en weer gevare af. Ons proaktiewe politieke strategie, gebruik van eie arbeid, en ligging dra ook by tot veiligheid.

Ons wil ʼn opregte woord van dank teenoor almal uitspreek wat Orania in die media, sosiale media, en selfs fisies help beskerm het. Julle steun is vir ons baie werd!

Orania sal staan, Orania sal aanhou bou!

Orania: Internasionale politiek vestig aandag op ons oplossings

Volgens die Orania Beweging bied die huidige onstuimige wêreldpolitiek opnuut ruimte om die Orania-idee te verduidelik. In die warboel wat begin het ná President Donald Trump se verklaring dat Afrikanervlugtelinge in die VSA welkom sal wees, het plaaslike en internasionale politici, mediahuise, aktiviste en vele meer talle perspektiewe, opinies en ontledings oor die Afrikanersaak gepubliseer.

Terwyl Pres. Cyril Ramaphosa die Afrikaners wat vertrek het as “lafhartig” uitgekryt het, het die ANC ʼn mediaverklaring gepubliseer waarin gestel word dat Afrikaners nie rede het om te vlug nie, en dat hulle bloot “transformasie en verantwoordbaarheid vir hulle aksies” probeer ontvlug. Die Amerikaanse media het ook skerp gereageer.

Verskeie pro- en teen-sentimente oor die “Afrikanervlugtelinge” het in die VSA se nuusmedia verskyn, met figure soos Matt Walsh en Ben Shapiro wat ook hulle stemme laat hoor het.

Volgens Joost Strydom van die Orania Beweging, is die sentiment in die wêreld rakende die Afrikaner besig om drasties te verander, en daarin lê ʼn geleentheid om die Orania-oplossing te verduidelik.

“Ons was in één enkele dag in gesprek met ABC News, CNN, ʼn koerant in Engeland, ʼn politieke ontledingsprogram in die VSA, die Jesse Lee Peterson Show, en uiteindelik omstreeks halftwaalf die nag, Suid-Afrikaanse tyd, op Amerikaanse TV, One America News,” vertel Strydom. “Dit gee ons ʼn unieke geleentheid. Die wêreld hoor so baie van die probleme in Suid-Afrika, dat dit nou ons kans is om die Orania-oplossing te verduidelik. Dit is ʼn oplossing vir Afrikaners, maar ook vir konserwatiewe groepe op ander plekke, en ander gemeenskappe in Suid-Afrika.”

Orania Beweging se bydrae op One America News, waar daar duidelik gekommunikeer is dat die oplossing in ʼn eie gebied vir Afrikaners lê, kan hier gekyk word:

ɸ10 000 000 waternetwerk opgradering vir Orania

Die nuwe pyplyn vanaf die rivier na die watersuiweringsnetwerk en opgaardamme word einde September 2025 deur die Orania Dorpsraad voltooi. Hierdie pyplyn is meer as 3 km lank en fase een van hierdie projek het reeds in 2024 afgeskop.

Orania se mees onlangse sensus (2023) het getoon dat Orania eindelik die 3 000-inwoner mylpaal gehaal het. Hoe meer inwoners in Orania, hoe groter die behoefte aan uitbreiding van Orania se infrastruktuur.

Hierdie nuwe pyplyn gaan verseker dat die reserwe damme baie gemakliker vol gehou kan word wanneer verbruik hoog is. Dit is ook die hoofpyplyn in Orania – die pyplyn waaruit alle ander koppelings gemaak moet word. Al Orania se water gaan dus deur hierdie lyn.

“Ons het in die warm somermaande wanneer dit droog is en die waterverbruik hoog is, ondervind dat ons sukkel om by te hou om genoeg water uit die rivier te onttrek,” sê André van Heerden, Hoof: Ingenieursdienste, Orania Dorpsraad. “Die ou pyplyne het ook te veel onderhoud geverg.”

Die ingenieursdienstespan maak van hierdie geleentheid gebruik om nie net Orania se huidige infrastruktuur te verbeter nie, maar om strategies vir die toekoms te beplan. Die waternetwerk word opgradeer tot op ʼn punt dat dit 10 000 inwoners van rou- en suiwerwater sal kan voorsien. Aangesien optiese vesel deurlopend in Orania aangelê word, word infrastruktuur sommer nou reeds in die slote ingebou om die toevoeging van optiese vesel in die toekoms te vergemaklik.

Vir die Orania-gemeenskap, wat geen fondse vir munisipale doeleindes van die staat af ontvang nie, is elke nuwe ontwikkeling en projek ʼn bevestiging van ons selfbeskikkingsvermoë.

Orania vier 100 jaar van Afrikaans!

Orania het op 8 Mei 2025 die groot gebeurtenis van presies 100 jaar gelede – die amptelikwording van Afrikaans, gevier. Vanuit die geskiedenis is dit duidelik dat die Afrikaner en sy taal, Afrikaans, onlosmaaklik aan mekaar verbind is – ons red mekaar om die beurt, keer op keer. Vandeesweek was dit weer ons taal wat ons Afrikanerharte vurig laat klop het.

Die studente van Bo-Karoo Opleiding het vir Afrikaans 100 met baniere en plakkate deur Orania gestap en toffies aan die gemeenskap uitgedeel. Daar het ‘n atmosfeer van feesviering in Orania geheers.

Die ‘Afrikaans amptelik 100’ – Orania-komitee wat bestaan uit verskeie ondernemings in Orania, het verskeie funksies en projekte aangebied waar Afrikaans se amptelike status gevier is. Die vierings is afgeskop met ʼn groot gemeenskapskonsert, in Afrikaans, georganiseer deur Cara Tomlinson van die FAK se Noord-Kaapkultuurnetwerke. Ongeveer 125 deelnemers het Afrikaans se bestaanstydlyn oor vier generasies uitgebeeld. Daar is konteks vanaf 1902 gegee, net na die Tweede Vryheidsoorlog, toe kinders gedwing was om in Engels skool te gaan. Vandaar is Afrikaans se hoogtepunte – soos die amptelikwording van Afrikaans (1925), die stigting van die FAK (1929), die Stem van Suid-Afrika (1931), die eerste Afrikaanse Bybelvertaling (1933) en Universiteite in Afrikaans (1942) – van die afgelope 100 jaar uitgelig.

Die gehoor, ʼn vol saal van ongeveer 450 mense, is in die laaste toneel deur twee tieners van 2025 met die vraag gelaat: “Wat dink julle gaan met ons taal gebeur as ons nie self daarvoor stry nie?”

Bielie die Bouer, ʼn splinternuwe ‘Bou in Afrikaans’-projek, beantwoord hierdie vraag direk daarna tydens sy bekendstelling. Bielie die Bouer sal sorg dat daar Afrikaans gepraat en in Afrikaans gebou word. Hy sal sigbaar wees op verskeie plekke in Orania waar hy jou sal herinner aan die regte Afrikaanse term sodat jy Afrikaans suiwer kan praat.

Die gehoor sluit die aand af met Die Roepstem van Orania, Orania se eie lied waarmee ons graag die volgende 100 jaar van Afrikaans aanpak.

Cara beskryf ons taal as ʼn taal van stryd – baie stryd.

“Mag ons met die krag vanaf ons Skepper, aanhou stry en veg in en vir Afrikaans! En mag ons nageslag oor 100 jaar ook Afrikaans vier.”

Bo-Karoo Opleiding hou opedag

Op 2 Mei 2025 het Bo-Karoo Opleiding (BKO), Orania se eie tersiêre opleidingsinstelling, hul sesde verjaardag en tweede opedag gevier.

Hanlie Pieters, bemarkingbestuurder van BKO, sê dat hulle besonders dankbaar is vir elke personeellid, elke student en elke vrywilliger wat gehelp het om van hierdie dag ʼn sukses te maak.

“Elkeen het ingespring met die voorbereiding van die boublad, die fasiliteite en die hele kampus. Die opedag is baie goed ondersteun – van heinde en verre – en ons is baie dankbaar daaroor.”

Volgens Hanlie was daar baie belangstelling in 2025 se opedag. Stalletjies van instellings soos Orania Kunsteraad (OKeR), AfriForum Jeug, Radio Orania en ander het ook by hierdie geleentheid gepryk. Natuurlik het die studentekoshuise nie op hulle laat wag om hul koshuise aan die voornemende eerstejaars bekend te stel nie!

Die kursus in vroeëkinderontwikkeling het veral aandag gelok. Dié goeie bemarking van BKO en die verskillende kursusse het gelei na verskeie aansoeke vir 2026 wat reeds ingedien is. Hanlie vertel dat BKO reeds meer as 70 inskrywings vir 2026 ontvang het – dít terwyl 2025 nog nie eers halfpad om is nie!

Die bemarkingspan van BKO woon hierdie week die groot landbouskou, Nampo, by en Oraniërs hoop dat hulle sommer daar ook nog gesonde belangstelling in Orania sal aanwakker.

Bokkietoernooi:

Kookwater sport in Orania

Die jaarlikse AVS (Afrikaner Volkseie Sport) o. 23-Bokkietoernooi is weer met groot sukses in Orania aangebied. Hierdie jaarlikse toernooi is tien jaar gelede vir die eerste keer in Orania aangebied, en het slegs twee jaar nie plaasgevind nie (as gevolg van die COVID-inperkingsmaatreëls).

Met hierdie agtste Bokkietoernooi het rugby-, hokkie- en netbalspelers van regoor die land se verskillende streke in Orania vir ʼn klipharde toernooi byeengekom.

Spanne uit Orania — wat ʼn Orania-netbalspan en Bo-Karoo Opleiding se rugby-, hokkie- en netbalspanne insluit — het goed gevaar oor die naweek.

AVS Vaaldriehoek se spanne het behoorlik geskitter deur met die netbal- en Woemahokkie-trofeë vir die toernooi weg te stap, en as toernooinaaswenners van die rugbyveld af te draf. Noord-Transvaal het met die rugbytrofee huis toe gegaan ná ʼn reeks klipharde wedstryde.

Die wedstryde is ook vir die eerste keer op professionele vlak regstreeks op Bokkieweek se sosiale media uitgesaai, iets waarop daar in die toekoms net nóg gebou kan word. Só kan Afrikaners vanuit hulle eie huise Afrikanersport geniet!

Die naweek het ook ʼn glansgeleentheid, Mejuffrou Sprankelbokkie, ingesluit, waar ʼn dame van die Orania-netbalspan met die prys weggestap het. ʼn Cantus (tradisionele studentefees) het ook plaasgevind.

Dankie aan Afrikaner Volkseie Sport (AVS) en Bokkieweek wat vir jong Afrikaners sportgeleenthede skep!

Jaap Steyn-simposium vir

100 jaar van Afrikaans

In die gees van Afrikaans wat amptelik 100 jaar oud is, is die Jaap Steyn-simposium op 10 Mei 2025 in Orania aangebied. Die simposium het vier sprekers gehad wat elkeen hulle veld van kennis met die tema Orania en Afrikaans amptelik 100, verbind het.

Die inisiatief van die ‘Afrikaans amptelik 100’ – Orania-komitee en Die Vryheidstigting het ruimte geskep vir dié onsterflike woorde van Steyn wat die wese van taal verwoord:

“’n Taal – ’n moedertaal – is iets wat deur baie gedeel word.”

Dit, saam met sy boeke Tuiste in eie taal en Ons gaan ʼn taal maak asook sy boekery wat aan Orania bemaak is, was die rede en die motief vir die benaming van die simposium.

Gedurende die geleentheid het Dr Burgert Senekal verwys na Afrikaners se oorspronge en herkoms in die verlede. Hy het verduidelik waar Afrikaans vandaan kom en verder verwys na ons Germaanse/Europese wortels.

Dr Carel Boshoff het gesels oor Afrikaans se amptelike status, die taalnasionalisme waarop dit gebou is, die taalbewegings en stryd wat daar was om Afrikaans amptelike status te gee.

“Jy ontmagtig jouself as jy in ʼn ander taal moet handel – taal is die middel tot die doel.”

Dr Wynand Boshoff het gesels oor eenheid, veelheid, die taalstandaardisering van Afrikaans en die maniere hoe tale ontwikkel.

Dr Wikus Buys het die vierde Afrikaanse taalbeweging en die tekens wat reeds daarvan sigbaar is, aangedui. Hy het die kenmerke van ʼn taalbeweging uitgelig nl. bewusmaking, stryd en handhawing van ons taal.

“Dit is noodsaaklik om nou oor te gaan na die vierde taalbeweging, want ons kort nuwe woorde, nuwe oorde, geo-politieke mobiliteit, taal en grond.”

Eie aan ons Afrikanerkultuur was daar ook geleentheid vir kuier oor ietsie te ete en te drinke. Gedagtes is gewissel oor die toekoms van ons taal. Die geleentheid was insiggewend en baie leersaam – dit is goed om te praat oor die bou en die uitbou van ons taal en volk.

Van dorp, na stad, na streek, na staat – die Orania-strategie

Kyk gerus na hierdie episode van Vra jou Vraag, en neem deel aan die gesprek

Orania is tans ʼn Afrikanerdorp met net duskant 3 000 inwoners. Die Orania-idee is egter baie groter – maar wat is die strategie om ʼn gebied te vestig waar Afrikaners oor hulleself kan regeer?

Hierdie is een van die vrae wat in ʼn onlangse episode van Vra jou Vraag op die Orania Beweging se YouTube-kanaal hanteer is. Daar is ʼn fyn balans tussen jou oë gevestig hou op die wenstreep, terwyl jy terselfdertyd fokus om die volgende hekkie reg voor jou oor te kom. Daar is baie faktore wat in gedagte gehou moet word wanneer daar oor Afrikanerselfbesikking gesels word. Van grondgebied, ekonomie, volhoubare ontwikkeling, klimaat, natuurlike hulpbronne, tot veiligheid, politiek en ideale.

Benader elke tree en elke uitdaging op sy eie, maar moet ook nooit die groter prentjie en die einddoel vergeet nie. Daarom juis is dit nodig dat Afrikaners gesels, uitdaag, verskil en menings vorm oor ons toekoms.

Orania se diere is ʼn gesamentlike verantwoordelikheid

Orania Dieresorgsentrum is ‘n vrywillige inisiatief om na diere wat nie huise het nie, om te sien. Die Dieresorgsentrum versorg, hervestig en beskerm diere in Orania.

Orania Dieresorg is verheug om te kan aankondig dat dié instelling se afdeling 18A-aansoek by SARS onlangs goedgekeur is. Dit beteken kortliks dat Orania Dieresorg nou amptelik gereken word as ‘n nie-winsgewende liefdadigheidsorganisasie.

Die groot voordeel hiervan is dat enige donasies aan Orania Dieresorg nou belasting-aftrekbaar is. Enige iemand wat ʼn donasie aan Orania Dieresorg wil maak, ongeag van hoe klein of hoe groot, kan ʼn 18A-sertifikaat aanvra. Hierdie bewys kan saam met jou belastingopgawe ingedien word om sodoende ‘n belastingvoordeel te verkry, wat beteken dat in plaas daarvan om daardie bedrag aan SARS te moet oorbetaal, kan jy ons eie dieresorg hier in Orania ondersteun.

Soos op enige ander plek, gebeur dit ook in Orania dat rondloperdiere ontdek word wat huise moet kry of versorg moet word. Dieresorg funksioneer nie as ‘n filiaal van byvoorbeeld die Dorpsraad of enige ander instelling nie, maar as ‘n vrywillige organisasie. Dieresorg moet dus hulle eie hulpbronne byhou en opbou. Orania Dieresorg is uitsluitlik afhanklik van die arbeid van vrywilligers wat hulle eie tyd opoffer om diere met liefde en deernis te versorg, en donasies van persone wat hierdie instelling finansieel ondersteun.

Orania Dieresorg betaal geen lone of salarisse of ander oorhoofse kostes nie. Dit beteken dat elke sent wat geskenk word, direk tot die voordeel van ons diere aangewend word. Sodoende kan selfs die kleinste donasie of skenking ‘n direkte impak op die lot van ‘n weerlose dier hê.

Raak gerus betrokke by Orania Dieresorg. Die versorging van ons diere is immers ons almal se verantwoordelikheid en ‘n gesonde gemeenskap word geken aan hoe hy na sy diere omsien. Ons is baie dankbaar vir enige bydraes of vrywilligers wat betrokke raak. Kontak gerus vir Luanne van Reenen (072 147 9878).

 

Bankbesonderhede:
Orania Dieresorg
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 63 064 546 410

OSK
Standard bank
Rekeningnommer: 041 712 617
Verwysing:  GO152

Teken in op ons e-nuusbrief:

Name
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Ons adverteerders: