Hou bene hou: Stap- en fietsrymarathon toets Oraniërs se uithouvermoë

Orania CVO-skool het weereens ʼn suksesvolle 24-uur stap- en fietsrymarathon aangebied, wat gesorg het vir gesellige samesyn, spanbou, en seer spiere.

 Hierdie byeenkoms word jaarliks deur die CVO-skool se graad 10 leerlinge as een van hul fondsinsameling-geleenthede gereël. Fondse wat by hierdie geleentheid ingesamel word, word dan weer tydens hul graad 11 skooljaar aangewend. Verskeie projekte – onder andere die graad 12 leerlinge se matriekafskeid – word deur hulle aangebied.

 Die voorbereiding vir die marathon het fyn beplanning en groot werk vereis,. Die leerlinge het die dorp platgeloop, borge gevra, pryse vir die wenners bymekaargemaak, bane gereedgemaak en kosverkope behartig.

 Die marathon het om 12:00 op 25 Oktober afgeskop, van waar daar getrap en gestap is tot 12:00 op 26 Oktober.

 “Ons het ʼn hele klomp nuwe opwindende goed probeer inbring hierdie jaar,” sê Daniël Tomlinson, graad 10 leerling van Orania se CVO-skool. “Ons het ʼn klomp lekker pryse  dié jaar wat aan ons tema gekoppel is, gehad. Ons het selfs ʼn prys vir die persoon wat die meeste geval het uitgegee!”  

 2024 se 24-uur stap- en fietsry marathon was ʼn geleentheid vir die hele gemeenskap, deelnemers sowel as toeskouers en ondersteuners. Ten spyte van die fisiese uitdagings, uithouvermoëns wat getoets is en lang ure se trap en stap, was dit weereens ʼn feestelike en besonderse gebeurtenis.

 

Foto 1: Verskeie fietsryspanne het tydens 2024 se marathon kompeteer.
Foto 2: Deelnemers van so jonk as graad 4 het vir die marathon ingeskryf.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel