Eerste Orania-hond ontvang mikroskyfie

Tegnologie sluit vir ons die toekoms oop in Orania. Daarom word ʼn mikroskyfie-projek, wat ons troeteldiere beveilig, deur die Orania Dorpsraad geïmplementeer. Troeteldiere wat mikroskyfies ontvang, word in ʼn databasis geregistreer. Só kan die eienaars van rondloperhonde en -katte maklik opgespoor en die diere weer veilig tuisgebring word.
Die eerste Orania-hondjie, Biscuit, het op 5 November haar mikroskyfie ontvang.
“Die vier maande oue Biscuit (of is dit dalk eerder “Beskuitjie” wanneer sy in ordentlike Boeregeselskap is?) het vandag die eerste lid van die Orania-dierepubliek geword om haar mikroskyfie te ontvang!” lui die kennisgewing op die Orania Dorpsraad se Facebook-blad.
Biscuit en haar eienaars se details is ʼn diereregister opgeneem. Soos dit ‘n sterk Afrikaner-hondjie betaam, het Biscuit die skyfie dapper ontvang.
Volgens Arno Lambrechts, Hoof: Orania Gemeenskapsdienste, is hierdie projek ʼn belangrik stap vorentoe vir organisering in Orania.
“Dit is verpligtend vir eienaars wat meer as twee honde en twee katte op ʼn 1,000m² erf, of meer as drie honde en twee katte op ʼn erf groter as 1,000m² het, om vir hulle diere mikroskyfies te gee. Dit help ons nie net om die eienaars van rondloperdiere op te spoor nie, maar ook om ons dorp netjies en georganiseerd te hou.”
Foto: Biscuit heel tevrede met ‘n nuwe skyfie huis toe.
