Orania 2025:
Oraniërs moet al die tipes onafhanklikheid aangryp

Die toekoms is duister, die enigste manier om dit te hanteer is om onafhanklikheid aan te gryp.
Daar is geen manier om die toekoms te voorspel nie. Niemand weet wat die ondenkbare politieke gebeure van die toekoms gaan wees nie, niemand het die grendelstaat voorspel nie, ons weet nie wie die bedmaats van die magbedelings van die wêreld in 2025 gaan wees nie, en ons weet nie waar onverwagse oorloë (of onvoorspelde vredes) gaan ontstaan nie.
Orania se doel is vryheid vir Afrikaners. Vryheid is nie om die toekoms te voorspel nie, vryheid is nie eers die waarborg van rustige vaarwaters of voorspoedige tye nie. Dit is die wete dat politieke besluite volgens jou mense se eie beginsels gemaak en uitgevoer kan word. Dus, wat vir ons voorlê is duister, maar ons kan bou aan onafhanklikhede om so veel as moontlik negatiewe gebeure volgens eie beginsels te hanteer, en so veel as moontlik positiewe geleenthede volgens eie inisiatief te kan opneem.
Wat is van die onafhanklikhede wat Oraniërs op kan, en moet, fokus?
Ten spyte van ʼn pouse in beurtkrag, het Oraniërs nie sonplase gebou en ʼn battery gekoop net om beurtkragvry te wees nie. Die inisiatief bevorder energieonafhanklikheid. Ons plan maak dit moontlik om eie besluite oor eie energie te maak. Mag dit in 2025 na nóg groter onafhanklikheid groei.
Ons kon nie beheer dat die BELA-wetgewing deur die president van Suid-Afrika onderteken is nie, maar ons kan beheer dat ons aan onderwysonafhanklikheid in Orania bou met twee privaatskole en Bo-Karoo Opleiding as tersiêre opleidingsinstelling. Mag dit ook in 2025 na groter onafhanklikheid groei.
Suid-Afrika is ʼn gevaarlike land, met verskeie stede onder die top 10 gevaarlikste ter wêreld. Ons kan dit nie beheer nie, maar ons kan aan veiligheidsonafhanklikheid bou deur self verantwoordelikheid te neem en saam te werk waar ons kan. Orania Veiligheidsdienste het verskeie arrestasies rondom Orania in 2024 gemaak en die streek help veilig hou. Mag veiligheid in 2025 na nog groter onafhanklikheid groei.
Orania en Afrikaners kan nie beheer dat die Suid-Afrikaanse regering soms internasionale verhoudings versuur nie, maar ons kan bou aan diplomatiese onafhanklikheid – geprivatiseerde diplomasie. Die Orania Beweging het in 2024 met verskeie internasionale parlementslede geskakel, en ons saak aan konsul- en ambassade-verteenwoordigers van state wat in Suid-Afrika verteenwoordig word, gestel. Mag ons eie internasionale betrekkinge in 2025 na groter onafhanklikheid groei.
Niemand kan die verval van infrastruktuur en groot industrieë in Suid-Afrika eenvoudig omdraai nie, maar ons kan infrastruktuur in Orania ontwikkel en ondernemers en entrepreneurs uitnooi om in Orania te vestig. Ekonomiese onafhanklikheid is krities belangrik vir vryheid. Die Orania Dorpsraad, Orania Ontwikkelingsmaatskappy en privaatondernemers het infrastruktuur help uitbou in 2024. Verder het entrepreneurs en instellings soos Orania Spaar en Krediet en die Orania Sakekamer die ekonomie help groei. Mag ekonomiese onafhanklikheid in 2025 nog verder ontwikkel.
Nog belangriker as al die fisiese ontwikkelinge, is die onafhanklikheid van ons denke, ons geloof in God, en ons onafhanklik bedinkte planne, mag dit alles in 2025 nuwe hoogtes bereik!
Ek wens u ʼn fantastiese 2025 toe. Mag dit die jaar wees waar ons aan al die onafhanklikhede bou!