fbpx

Deur Sebastiaan Biehl

 

Orania word maar om verskeie redes, dikwels ongegrond,  met skeptisisme en selfs agterdog bejeën. Dit is veral omdat Orania, veral vir stedelinge, so anders is. Jy mag anders en eksoties wees solank jy van ‘n ander ras is, maar as jy lyk soos die een wat jou met nuuskieirgheid bekyk dan gee dit aanstoot. As jy dieselfde lyk maar anders leef, dan is jy nie meer eksoties nie, maar ‘n “freak”.
Seker die vreemdste verskynsel in Orania vir buitenstaanders is die volkseie arbeid. Menige mense sou graag hier bly as dit net gegaan het oor Afrikaans, die rustige, medemenslike plattelandse leefwyse, die natuurskoon, die veiligheid, die lae pryse. Maar die volkseie arbeid is dikwels ‘n te hoë hekkie om te oorkom. Vir sekere mense word dit as die toppunt van rassisme beskou, asof ons swartmense so haat dat ons nie net sosiaal nie met hulle wil verkeer nie, soos waarskynlik meeste blanke Suid-Afrikaners, maar nie eens wil hê dat hulle werk en geld verdien nie.
Die volkseie arbeid beginsel is nie maar net ‘n bui uit die pionierstyd van Orania wat mettertyd danksy “groter realisme” agtergelaat word nie, dit is so fundamenteel tot die hele volkstaatstrewe waarvan Orania die bekendste vergestalting is, dat all die ander dinge daarsonder niks is nie.
Uit ‘n suiwer ekonomiese, en veral die huidige korttermynwins ekonomiese seining beskou maak volkseie arbeid nie sin nie. Liberale ekonome sien ekonomie suiwer as die doel om maksimum geld te maak en daarvoor moet enigiets wat in die pad daarvan staan, verwyder word. Op arbeidsterrein beteken dit dat die maksimum aanbod aan arbeid, wat in ‘n derde wêreld land soos Suid-Afrika goedkoop arbeid beteken, beskikbaar moet wees. Die informele Suid-Afrikaanse ekonomie funksioneer inderdaad so en dit het talle korttermyn voordele: jy kan vanoggend ‘n mens langs die pad oplaai, hy werk vir kleingeld in jou tuin of huis en jy kry werk gedoen wat jou ‘n breukdeel kos van waarvoor dit ‘n geregistreerde en gekwalifiseerde ambagsman dit sou gedoen het. Dis nie toevallig nie dat Suid-Afrikaanse huise baie mooier en meer weelderig lyk as selfs in lande soos Duitsland, Britanje of Frankryk.
Die korttermyn-wins redenasie is dieselfde as by die energie: gebruik goedkoop steenkool want dit maak energiekoste laer en trek beleggers. Dat jy jou bronne uitput en vorentoe nie net met groot besoedeling nie, maar met geen alternatiewe sit nie, staan op ‘n ander bladsy.
Net so ook met die volkseie arbeid: dit mag vandag goedkoop wees, maar die gevolge word nie in ag geneem nie.
Die tydelike, informele werkers moet ook iewers bly en hulle het ook ‘n lewe behalwe werk. Hulle bly dikwels in plakkerskampe, wat deesdae al hoe nader aan die spoggerige woonbuurte is. Hulle plant ook voort en bring ‘n stedelike, ontwortelde proletariaat mee wat hulle deeltydse werkgewers nie bedank vir die werksgeleentheid nie, maar hulle haat vir die weelde wat hulle het en die uitbuiting wat hulle toepas. Dis nie toevallig dat misdaad in veral stede en veral die ryk gebiede feitlik buite beheer is en dat geen heinings of alarms dit kan keer nie.
As ‘n mens dit in gedagte hou dan is die volkseie arbeid, ten spyte van alle beperkinge, die enigste gangbare weg. Daar is wel korttermyn-nadele, wat dit vir mense wat net aan die hier en nou en aan die rand en sent dink, onaantreklik maak. Dit is relatief duur en dikwels ten minste in die begin nie baie produktief nie. Witmense is dikwels nie gewoond aan handearbeid nie en ‘n vakmanstrots en vaardighede ontbreek. En, uit dieselfde oogpunt van die mense wat gemak soek en korttermyn kyk: jy kan nie ‘n wit werker soos ‘n onderdanige dienaar behandel nie en jy kan hom nie in die aand weer in die plakkerskamp aflaai en van hom vergeet nie.
Maar hierdie kastige nadele word meer as opgemaak deur die voordele. Ons  vestig ons eie Afrikanermense in ons omgewing, wat later ‘n stabiele en opbouende deel van ons samelewing word. Hulle stem vir dieselfde partye, aanbid in dieselfde kerke, beoefen in dieselfde gebiede en dikwels op dieselfde manier hulle vrye tyd. Jy as werkgewer  verleen daadwerklike liefdadigheid en het nog die voordeel van werk wat wel gedoen word. Vorentoe vestig ons waardevolle vaardighede, wat die vereiste is van ‘n eerste wêreldse samelewing. Met goedkoop arbeid sal jy ‘n derde wêreldland met groot ongelykhede bly; met duurder, maar gekwalifiseerde arbeid sal jy geleidelik ontwikkel in ‘n ontwikkelde land, met al die voordele daaraan verbonde soos hoë standaarde, goeie besighede, kwaliteit werk, betroubaarheid, hoë kultuur en beter veiligheid.
Verder kan ons met trots sê dat ons dit opgebou het en geen swart aktiviste kan daarmee stry nie of iets eis nie. En as jy wel in ‘n geskil met jou werker kom word dit op ‘n beskaafde manier opgelos, deur mediasie, en jy eindig nie met ‘n mes in die rug of ‘n deurgesnyde keel nie.
Waar volksvreemde plakkery ‘n bedreiging is, beteken vestiging van meer en meer Afrikaners ‘n verhoging van veiligheid. Arbeid trek mense, en dus moet ons die mag om arbeid te kan gee, gebruik om die regte mense te trek. Die redenasie dat die werklose massas in elk geval daar is en werk moet kry hou nie water nie, want dit is eers die insuig in die blanke en stedelike werksopset wat gemaak het dat hulle hulle plattelandse gebiede verlaat het en dikwels in monsters verander in die vreemde stadsopset met al die versoekinge rondom hulle.
Daar is dus geen alternatief en ook geen versagting as dit kom by volkseie arbeid nie. Dit is die een gebod wat vir altyd moet geld, anders beteken die volkstaat niks nie. Op kort termyn mag dit oordrewe ideologies voorkom, op lang termyn is dit die enigste haalbare werkswyse.
Om die volkseie arbeid uit die volkstaatidee en volkstaatpraktyk te haal is soos om God uit die kerk te haal. Die kerk sonder God is ‘n liefdadigheids- en kuierorganisasie wat geen bestaansreg het nie. Die volkstaat of Orania sonder volkseie arbeid is niks anders as talle ander netjiese dorpe met mooi natuurskoon wat onvolhoubaar is en op geleende tyd leef nie.