fbpx

Deur Sebastiaan Biehl

Elke jaar op 27 April (ek sou 1 April verkies) vier Suid-Afrika sy sogenaamde Vryheidsdag. In die eerste plek is dit ‘n dag om die eerste algemene verkiesing te vier, en die aanbreek van die nuwe Suid-Afrika, waar swart en wit dieselfde regte het, of so word ons vertel. Sonder twyfel het swartmense talle burgerlike regte bygekry wat hulle voor die tyd nie gehad het nie.

Afrikaanse hoofstroom-kommentators in veral die Naspers-koerante verwys egter gereeld daarna dat Afrikaners self ook talle vryhede bygekry het en dus nes swartmense hierdie dag kan vier. Kom ons kyk hoe vry is ons werklik.

Ja, toegegee, Suid-Afrika beskik oor alle liberale en burgerlike vryhede, redelik onbeperk (in teorie). Daar is goeie vryhede, soos die vryheid van spraak, vryheid van beweging, vryheid van assosiasie, godsdiensvryheid, die vryheid om jou taal en kultuur te mag uitleef,  die vryheid om eiendom te mag besit, die vryheid van inligting en andere meer. Daar is ook vryhede wat nie eksplisiet regte is nie, maar wat saam met die globaliseringsgolf gekom het nadat Suid-Afrika sy poorte vir die wêreld oopgegooi het, soos die bykans onbeperkte keuse van produkte, om makliker te reis en om enige internasionaal bekende kunstenaar in Suid-Afrika te hê.

Dan is daar ook twyfelagtige vryhede wat ‘n mens liewers nie wil hê nie, soos die vryheid om in bykans elke dorp en stad te mag dobbel, om enige perverse internasionale pornografiese tydskrif of boek te mag besit en vrylik in die hande te kry, die vryheid om met iemand van dieselfde geslag te mag trou, om maar enkeles te noem.

En, soos wat dit maar die geval is met regte en vryhede in ‘n diverse samelewing, eindig die een se vryheid daar waar die ander een s’n te sterk uitgeleef word.
Kom ons vat enkele voorbeelde. Die vryheid van spraak is ‘n kosbare vryheid, maar wat van haatspraak? Ten spyte van vryheid van spraak is sekere rassistiese terme, om goeie redes, verbode. Tans moet getoets word, met die Malema-hofsaak van AfriForum en Transvaalse Landbou Unie, of die beperking op haatspraak ook vir ANC-heethoofde geld.

‘n Ander voorbeeld is godsdiens. Ja, ons mag almal glo wat ons wil, maar as dit by die uitleef kom dan kom ons in ‘n pluralistiese en hiper-liberale samelewing gou aan grense. Ek as Christen mag kerk toe gaan, maar ek moet aanvaar dat alle winkels op Sondae oop is, dat boeke en publikasies wat God beledig orals aangeprys word en dat norme en waardes wat in stryd met Christelike moraal is, gepropageer en deur die staat beskerm word. Christelike simbole mag nie in openbare plekke vertoon word nie en opening met Bybellees by die skool gee aanstoot aan die hiper-sekulêres (wat agter ander gelowe skuil ter wille van die argument).

Selfs die vryheid van verblyf en  van beweging, en die reg tot eiendom (‘n fundamentele baken van vryheid volgens die konserwatiewe denkers Edmund Burke en Adam Smith) word erg ingekort in die huidige Suid-Afrika. Die vryheid van plakkers om orals te mag bly woon waar hulle is, ongeag of die grond aan hulle behoort, tas eiendomsreg aan.

Die vryheid om my taal en kultuur uit te leef tref daar op grense waar die eis van toeganklikheid en verteenwoordigendheid belangriker word en geen Afrikaanse en Christelike skool of universiteit meer kan bestaan nie omdat dit kamstig mense uitsluit. Die omgekeerde, dat ‘n Engelse of sekulêre skool op sy beurt Afrikaners en Christene uitsluit, geld blykbaar nie.

Saam met vryheid moet ook die reg op veiligheid gaan, maar die regering en sy instansies kan dit nie waarborg nie, en burgers word verbied om hulle eie veiligheid te verseker deur die streng beheer op wapenbesit en die afskaffing van kommando’s, asook ‘n regstelsel wat regte van misdadigers hoër ag as die regte van gewone burgers.
En so kan ‘n mens aangaan. Die voorbeelde illustreer dat vryhede in ‘n plurale, heterogene samelewings eintlik meer op papier as in praktyk bestaan. In teorie het ons alle denkbare regte, in praktyk kan ons min van hulle uitleef, want óf dit bots met ander regte, óf ons het net nie die middele daartoe nie.

Dit bring my by die volgende punt: die genoemde vryhede in die Suid-Afrikaanse grondwet is veral op individue gerig, maar belangrike, indien nie die meeste vryhede nie, word in groepsverband uitgeleef, soos godsdiens, taalgebruik, beoefening van jou kultuur, beveiliging en assosiasie.

Dit alles in ag genome is ons nie vry in die nuwe Suid-Afrika nie. Dit klink paradoks, maar vryheid kan nie in ‘n lugleegte uitgeleef word nie, maar in ‘n duidelik omlynde gebied (institusioneel sowel as geografies) waar die lede dieselfde siening oor vryheid en veral dieselfde waardes handhaaf.

Ons strewe na territoriale en daarmee saam institusionele vryheid is dus mynsinsiens die enigste gangbare weg. Ons kies as groep voor die tyd die vryhede wat vir ons belangrik is, en ander liberale vryhede (soos die reg om as man met ‘n man te trou) wil ons nie hê nie. As Afrikaner is ek vry as ek alles in Afrikaans kan doen, nie as ek weet dat Afrikaans een van 11 amptelike tale is waarin ek met groot beperkinge ‘n paar dinge kan doen; ek is vry as ek op die Afrikaanse manier my God kan aanbid, saam en op dieselfde manier as my volksgenote, nie as ek hoor dat alle godsdienste ewe goed en ewe reg is; as ek weet dat my grond en bodem aan my behoort en aan my nageslag oorgedra sal word en nie as enigiemand die vryheid het om te bly waar hy wil, al is dit op my voorstoep teen my wil; as die waardes wat ek deel met my volksgenote, deel is van ons grondwet en ons daaglikse handel en wandel, nie as liberale denkers ‘n permissiewe grondwet prys as die beste in die wêreld nie.

Die liberale kritici sal aanvoer dat dit ‘n erg onverdraagsame houding is wat ander mense uitsluit. Nee, dit is nie, want elke groep mag volgens sy eie oortuigings sy vryhede uitleef, op sy eie gebied, en hulle mag self besluit wat hulle glo en wil doen. Al rym dit nie met my oortuigings en weë nie, dan pla dit my nie, want ek het saam met my mede-Afrikaners my eie ruimte van uitlewing. Dat dieselfde vryhede vir uiteenlopende groepe mekaar uitsluit of sterk beperk, beleef ons elke dag in Suid-Afrika. In ‘n te uiteenlopende en heterogene samelewing is net diegene vry wat geen vaste oortuigings meer het nie, of diegene wat vir hulle vryhede kan koop.