Sedert ek in 1996 by Orania betrokke begin raak het hoor ‘n mens gedurig van probleme en struikelblokke wat kamstig enige poging tot ‘n volkstaat van meet af onmoontlik maak.
In Orania se beginjare was water die alewige probleem wat deur mense buite Orania, wat nie aan die ideaal wou glo nie, geopper is. Orania is mos ‘n woestyn, dus is daar nie genoeg water nie, dus kan julle nie ontwikkel nie en sal van die dors doodgaan, julle landbou sal nie ver vorder nie, ens.
Toe wys ons op die magtige Oranjerivier met sy duisende kubiekemeter waters wat daagliks onbenut see toe vloei, op die pyplyn en die moderne besproeiingsstelsel. Maar dit het die negatiewes en kwaadsprekers nie oortuig nie. Maar wat as die regering die water afsny? Daar word mos nou damme in Lesotho gebou om al die Oranjerivier se water noordwaarts na Johannesburg te lei.
Die Hooglandwaterskema het gekom en siedaar, die Oranjerivier het nie in ‘n droëloop verander nie, maar vloei nog net so sterk soos altyd en Orania het van die beste water in die land, volop.
Toe die waterstorie holrug gery was het die nuwe spook verskyn, die bose ANC-regering wat alles in hulle vermoë doen om ons te stop. Toegegee, die regering is ‘n faktor wat beslis nie buite rekening gelaat kan word nie en hulle bedoelings teenoor Orania moet met versigtigheid dopgehou word. Daar is gesê dat die regering “Orania gaan toemaak”, dat duisende plakkers op ons toesak, dat Malema en sy wilde perde ons met AK47’s gaan afmaai omdat ons wit is en eenkant wil wees.
Toegegee, daar was pogings om Orania se strewe in die wiele te ry en daar sal nog sulkes wees. In 2000 sou Orania ingelyf word by Hopetown munisipaliteit, maar dit is deur saamstaan, betogings en ‘n regsaak afgeweer, en onderhandelinge oor ‘n finale skikking moet eendag plaasvind. Ook was daar in 2005 ‘n grondeis op ‘n deel van Orania. Ook dit is geskik sonder dat Orania enige skade daarby opgedoen het.
Welwillenheidsbesoeke van Nelson Mandela, Julius Malema, verskeie premiers van die Noord-Kaap en onlangs selfs Jacob Zuma het die wind uit die kritici se seile gehaal. Orania en sy leiers verstaan wel dat die strewe na vryheid nie net vasberadenheid nie, maar ook by tye diplomasie en openbare betrekkinge nodig het.
Maar die alewige vrese oor alles wat nog dreig droog nie op by ons kritici nie: nou waar Orania teen alle doemprofete se voorspellings in suksesvol is en van krag tot krag gaan, word selfs die sukses weer as rede vir die nabye ondergang gesien: Orania is ekonomies suksesvol, dus maak ons die armes jaloers en sal hulle ons nou binnekort toesak op soek an werk en orals plak.
Orania se ekonomiese sukses is merkwaardig gemeet aan waar ons vandaan gekom het, maar wie sal nou ernstig verwag die armes wat na die groot stede soos Johannesburg en Kaapstad stroom, waar die land se welvaart saamgetrek is, sal nou hulle koers verander en Orania toe kom? Orania se welvaart is ‘n druppel in die emmer in vergelyking met die weelde van ‘n groot stad. En boonop maak dit sin om as arm mens na stede toe te trek as die regering daar vir jou gratis huise, dienste en pensioene belowe. Die beheer oor die groot stede is van kardinale belang vir die regering en juis daar is hulle magsposisie minder gevestig as in die platteland.
Natuurlik moet ons wakker wees en moontlike gevare erken en betyds teegaan. Maar om ewig die ergste te verwag en in vrees te lewe vir dit wat nooit gebeur nie, keer jou om ‘n toekoms te bou en dryf jou eerder tot wanhoop of emigrasie.
Vir die bou van die volkstaat het ons positiewe, maar realistiese mense nodig, wat doen wat hulle hand vind om te doen en probleme aanpak soos hulle opdaag, maar nie die hele tyd hulleself moedeloos redeneer nie. Die Afrikaner is ‘n pioniersvolk en sou nooit sy groot pionierstake soos die Groot Trek aangepak het as almal na die doemprofete met hulle :”Wat as”-praatjies geluister het nie.
Hoor,Hoor!
Dankie oom Ben.
Die rede waarom ek juis Orania ondersteun, is omdat al die Afrikaners moun elke dag oor hoe sleg dinge gaan (En dit gaan uiters sleg in SA), en daar is al ewig mense wat gesels en praat oor wat moet gedoen word, ens. Maar niemand doen iets nie, en sal ook nooit nie, tot hulle lewe in gevaar is. Orania is die enigste Afrikaner gemeenskap wat nie net praat nie, maar DOEN!
Ek ondersteun julle 100%, en dankie dat julle ons almal hoop gee!
Hi Sebastiaan,
As daar wel ʼn Volkstaat of Republiek tot stand kom , sal alle Afrikaners verplig word om daar te bly? Ek dink dit sal dwaas wees ,want op die manier sal ons twee/drie landelike ekonomie kan gebruik om ons te bemagtig en een die ander een op te stoot. Amper iets soos Quebec en Britse-Colombia , maar net meer onafhanklik. Sal graag jou gedagtes wil hoor op die saak..
Dankie 🙂
Hallo swartskaap,
geen mens kan verplig word om iewers te bly nie. Ek weet nie wie het daardie storie in die wêreld gesit dat, as daar ‘n volkstaat tot stand kom Afrikaners verplig sal wee som daar te bly. By alle volkstate in die wêreld is daar altyd mense wat lede is van daardie volk maar verkies om nie in hulle volkstaat te bly nie. Afrikaners wat in die eerste plek SA burgers wil bly kan dit natuurlik doen. Maar ons span nou die kar voor die perde in, ons is nog baie vêr van debatte oor burgerskap af.
Afrikaners sal altyd ook buite die volkstaat woon en daar ‘n bydrae lewer en ‘n strategiese kontakpunt wees vir die volkstaat, soos die alombekende verwysing na die groot getalle Jode in die VSA of elders wat ‘n groot strategiese bate vir Israel is, al is hulle burgers van die VSA, Rusland, Britanje of watter land ook al.
Ek hoop ek het jou vraag reg verstaan en reg beantwoord.
Groete
Sebastiaan
Ek sal graag wil weet wat is die huidige grond oppervlakte van Orania.
Groete
Dankie Sebastiaan vir jou pragtige stukkie skryfwerk. Moet se as Orania R1-00 vir elke Afrikaner kan kry wat iets sleg se van Orania, word ons nie net ‘n Volkstaat nie maar ‘n wereldmoondheid.
So Orania ondersteuners kry julle OSV (Orania Slegse Varkie) reg, sodat ons voort kan bou op ‘n nuwe toekoms, met die geld van ons doemprofete.
Philip
Orania se totale gronde raak al aan 8 000 Ha, maar dis nie alles aaneenliggend nie. Ons het met 435 Ha begin!
Oranjerivier opdroog/besoedel?
Alternatief?
Google Oranjerivier.