Is “vryheid” ‘n hekwag wat tussen ons en die dinge wat ons halter staan? Is dit bloot iets wat staan in die sin om los te kom
van diskriminasie, vervolging, haat, nyd, gedwonge nasiebou en hartseer?
Of is daar meer? Kan vryheid bedoel om daartoe in staat gestel te wees om op sekere wyses op te kan tree? Vry om ooreenkomstig ons gebruike en gewoontes te lewe, sodat ons onsself kan wees en onsself kan verwesenlik? Vry om te doen wat ek wil, soos ek wil en om te word wat ek wil, sonder om ander te benadeel?
Die inhoud wat ons van hierdie term vereis, het ‘n bepalende invloed op ons besluite. Doelbewus of meer subtiel.
Dit is maklik om ‘n saak te maak vir immigrasie wanneer ons bloot los wil kom van misdaad, transformasie, of enige ander demoon wat ons in Suid-Afrika teister.
Ek kan weliswaar in Londen Afrikaans praat, Afrikaanse vriende hê, my naaste Afrikaanse Gemeente se eredienste bywoon en op Litnet kerjakker, maar hoe meer ek hierdie aktiwiteite wil beoefen, hoe meer moet ek my van my bure en die publieke lewe rondom my afsonder, en na die kleine krimpende private wêreld wat ek vir Afrikaans kan bekostig, vlug.
Maar dan, die beklemmendste van ons omstandigheid: Waar kan ‘n Afrikaner positiewe vryheid beleef? Hoe kan ons, met erkenning aan NP van wyk Louw, ‘n ganse wêreld in Afrikaans ervaar? Waar kan ek op dieselfde tydstip aan alle fasette van publieke lewe deelneem, en ‘n Afrikaner wees? Wie sal ons dit gun om ‘n musiekblyspel oor ons doen en late op te voer en by te woon sonder om ons te brandmerk? Waar sal ons steun bekom vir die uitbou van ons literêre skatte, die
skep, uitleef en voordra van ons tradisies en ons kwale – sonder hoon of las?
Omdat die private wêreld te beperk is om ‘n ganse wêreld in Afrikaans moontlik te maak, terwyl die publieke ruimtes van die Suid-Afrikaanse ryk of enige ander buitelandse bestemming dit nie geneë is nie, is daar net ‘n enkele, finale vraag wat aan ons gestel word.
Is ons wat vry wil wees om onsself te wees, bereid om te bou aan ‘n publieke ruimte waarin ons juis dit kan doen?