fbpx

Briewe aan Oom Paul

Geagte Oom Paul

27 Desember 2019

Oom Paul, dit gaan goed in Orania; goed omdat ons hard kan werk, en die vrug van ons arbeid kan sien, goed omdat ons dorp steeds veilig is, Oom weet, in Suid-Afrika word kinders sommer uit waentjies en uit motorkarre uit gesteel… Goed omdat God se seëninge veel groter is as ons verdienste. Oom sien, ons is maar ‘n klomp gewone sondaar Afrikaners hier bymekaar, en dus maak ons maar lekker droog ook soms. Ten spyte daarvan gaan dit goed, ten spyte van ‘n Suid-Afrika wat soos die Titanic besig is om stadig maar doelgerig die niksheid in weg te sink. Oom sal nie die storie van die Titanic ken nie, dit was ‘n bitter groot skip gewees wat op die 14de April 1912 op haar nooiensvaart ‘n ysberg getref het en toe in die yswater van die Atlantiese oseaan weggesink het. Dit was die grootste skip tydens die bou daarvan, en meer as 1500 mense het hul lewens verloor.

Hoekom ek vanoggend aan die Titanic dink is omdat twee mense baie soortgelyke uitlatings gemaak het. Die een was Kaptein Edward John Smith, die kaptein van die Titanic, die ander meneer Jacob Zuma, voormalige president van die ANC en Suid-Afrika. Die uitspraak deur die kaptein van die skip was: Not even God can sink this ship. Nou moet Oom verstaan dat die skip so goed ontwerp was, dat dit onsinkbaar moes wees. Dit was die mees moderne ontwerp, maar ek is geen ingenieur nie en kan dus nie die besonderhede regtig uitlê nie; iets oor die kompartemente wat losstaande van mekaar gekonstrueer is… Die eerste uitspraak was êrens in 1912, die volgende een was meer as 100 jaar later in 2016 deur meneer Jacob Zuma. Hy het heel vermakerig gesê dat die ANC sal heers totdat Jesus weer kom

Ek weet ek spring bietjie rond in die tydlyn soos ek aan Oom skryf, maar daar is so verskriklik baie dinge wat verander het, gebeur het. Oom sal nie eens van die ANC weet nie. Die African National Congress is vandag die politieke party wat Suid-Afrika regeer, maar ek gebruik die woord regeer losweg, want wat eintlik gebeur is dat die burgery beroof word, onderdruk word en afhanklik gehou word van die uitgifte van die staat. Ek sal ook nie oor die African National Congress met Oom kan gesels sonder ook oor twee ander sake te praat nie, die een is die totstandkoming van ‘n politieke idee wat Kommunisme genoem word, die ander is die beleid van afsonderlike ontwikkeling wat in Suid-Afrika gevolg is. Die eerste is al ‘n ou idee, maar word eintlik eers gebore in 1917 met ‘n revolusie in Rusland. Die tweede is ook ‘n ou idee, die idee dat volkere binne hul eie geografiese gebied vir hulself verantwoordelikheid moet neem, en dit is in kiemvorm in 1913 hier in Suid-Afrika tot model ontwikkel as ‘n poging, wel ook een wat nie gewerk het nie, om sin aan die kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse bevolking te probeer bied.

Terug by die Titanic, Oom Paul, die skip het ‘n ysberg getref en gesink. Tragies en hartverskeurend, maar aan die eenkant voel ek dat verwaandheid altyd tot tragedie en hartverskeuring lei. Die ANC het ook ‘n ysberg getref, spreekwoordelik, en die hele land sink. Ek lees onlangs dat die nasionale skuld, dit is nou die geld wat die staat êrens skuld en moet afbetaal, meer as R55 miljoen per burger van SA is. Ek wonder wat het hulle gekoop, Oom Paul, R55 miljoen rand is vrek baie geld. Meer as 50% van ons jongmense is sonder werk, en bykans 30% van die bevolking oorleef op wat genoem word SASSA. Sosiale toegifte vir diegene sonder werk. Mense word betaal om nie te werk nie… g’n wonder die skippie sink nie.

By die draai van die vorige eeu, eintlik vir die 100 jaar voor dit ook, het daar ‘n gees van revolusie in die wêreld posgevat. Nou weet Oom ook goed dat die aard van revolusie juis is om af te breek wat staan, en van voor ag te begin. Dit is ongelukkig in meeste gevalle hierdie voor begin waar die probleem lê, want alles brand en al wat die burgery geleer het om te doen is om dinge omvêr te werp. En hier staan ons in tye van revolusie… en alles #mustfall

Oom Paul sien, dinge het maar skeefgeloop, en dit voel soms of die wêreldvingers Suid-Afrika soos ‘n groen perske ryp probeer druk het, en die verandering het gekom, met geweld en terreur en die Rooi gevaar van Kommunisme wat die burgery wou ophef deur ‘n konstitusionele demokrasie. Maar die perske is gedruk en gedruk tot ‘n groen, suur pappery. Ek voel soms dat hierdie ANC, wat ‘n swart vryheidstryd in Suid-Afrika gevoer het, ook die burgery soos ‘n perkse papgedruk het, om stemme te kry en dan te heers totdat Jesus weer kom; en hier staan ons, weer onder ‘n vreemde vlag en verwaande maghebbers.

Oom Paul, ek wou eintlik meer vertel oor die ANC, die People’s war en die Freedom Charter, en meer praat oor hoe dinge sleg skeefgeloop het, maar my tyd is maar min vandag. Ek wil afsluit deur te sê dat ek soms soos een van die dissipels op die skuit in die stormsee voel, die wat in kleingeloof alles probeer het terwyl die skippie sink, en ek wag, in geloof vandag, in Orania, op Jesus om die storm in Suid-Afrika stil te maak. Nadat ons alles probeer het, lyk dit maar steeds of die skip sink, dit is nou in groter en meer bekwame hande, die hande van die Allerhoogste.

Stuur groete vir my Oupa

PSK

 

 

 

 

 

 

 

 

ANC-beleidsdokument wil Weste verder vervreem

anc-flagDie regerende ANC sal volgende maand tydens sy beleidskonferensie ʼn besprekingsdokument oor buitelandse beleid oorweeg. Die inhoud van hierdie dokument het egter reeds tot omstredenheid gelei.

Opsommend word Amerika in die dokument as ʼn groot sondebok uitgemaak, terwyl die ANC China as die beste voorbeeld vir hoe dinge gedoen moet word voorhou. Die geloofwaardige nuustydskrif, The Economist, het onlangs skerp kritiek teen dié soort denke binne die ANC uitgespreek.

Die ANC gaan in sy dokument verder om te sê dat Amerika agter die skerms werk om demokratiesverkose regerings in die Midde-Ooste en Afrika te probeer onttroon. Ons weet goed dat Amerika en selfs Europa nie onskuldig is in die krisisse wat tans in die Midde-Ooste heers nie. Maar wanneer jy baie afhanklik is van handel met sterk lande soos Amerika, kan jy ʼn bietjie meer diskreet met jou denke omgaan. Die ANC se hardelyn-politiek volg egter deesdae eerder die rigting van konflik.

Suid-Afrika se regering staan toenemend in vyandigheid met Westerse lande, terwyl vriendskapsbande met China, Rusland, Iran, Brasilië en selfs Kuba gesmee word. Daar bestaan baie vrae oor die toekoms van die Chinese ekonomie en lande soos Australië wat baie afhanklik is van uitvoere na China begin reeds die gevolge van ʼn swakker Chinese ekonomie te voel. Rusland, Iran, Brasilië, Kuba en die ander muishondlande waarmee Suid-Afrika eerder wil assosieer het almal sukkelende ekonomieë. Dit bied min vooruitsigte vir Suid-Afrikaanse produsente om na hierdie lande uit te voer.

Die Suid-Afrikaanse regering baseer toenemend sy buitelandse beleid op ideologie in plaas van gesonde verstand. Suid-Afrika het die vermoë om, sou die regering die regte stappe neem, sy uitvoere van voedsel, motors en ander produkte na Westerse lande uit te brei. Die uitvoer van grondstowwe soos steenkool en ystererts is uiters wisselvallig en dit is duidelik dat die Chinese ekonomie eerder sy fokus van konstruksie na dienste wil verskuif. Daar is dus beperkte groeigeleenthede vir uitvoere na China.

Daar is twee belangrike redes waarom ons oor die ANC se buitelandse beleid bekommerd moet wees. Eerstens is Amerika en Europa onderskeidelik Suid-Afrika se grootste en derde grootste handelsvennote. Indien die ANC aanhou om Westerse lande te vervreem sal dit in die toekoms moeiliker raak om vrylik met hierdie lande handel te dryf.

Nog ʼn rede waarom ons bekommerd kan wees, gaan spesifiek oor die motiewe van lande soos China, Rusland en Brasilië. Dit wil toenemend voorkom asof hulle Afrikalande misbruik om oorskotprodukte te stort, terwyl hulle weinig bydra tot langtermyn stabiele uitvoergeleenthede vir produsente in Afrika.

Die bekendmaking van die ANC se buitelandse beleidsdokument is egter nie net sleg vir ons nie. Vir die Afrikaner beteken dit dat individue en instellings in Westerse lande meer realisties oor Suid-Afrika begin dink. Hulle besef dat die euforie van die 1990’s verby is. Dit skep ʼn geleentheid vir Afrikaners om hul saak in Westerse lande te gaan stel en hulle nie meer vas te loop in mense en instellings wat glo dat Suid-Afrika ʼn droomdemokrasie is, waar niks verkeerd kan loop nie.

Nog ‘n ontstuimige politieke jaar lê voor

BetogingsNa verlede jaar se nasionale en provinsiale verkiesing het baie Suid-Afrikaners waarskynlik ‘n sug van verligting gegee omdat dinge weer na normaal kon terugkeer. Daardie verligting was egter van korte duur toe daar later in die jaar chaos in die parlement uitgebreek het en talle denkleiers begin voorspel het dat politieke onstabiliteit toenemend ‘n moontlikheid vir Suid-Afrika raak.

Suid-Afrikaners wat dus hoop dat politieke stryd vanjaar bietjie op die agtergrond geskuif gaan word en dat daar daadwerklik op die bou van Suid-Afrika se ekonomie en die bekamping van probleme soos misdaad, vaardigheidstekorte en die land se verkrummelende infrastruktuur gefokus sal word, gaan diep teleurgesteld wees. Vanjaar is die jaar voor nog ‘n verkiesing want ja Suid-Afrikaners gaan volgende jaar weer stembus toe.

Die vyfjaarlikse munisipale verkiesing vind volgende jaar plaas. Munisipale verkiesings word gekenwerk deur ‘n grondvlakmagstryd binne politieke partye. Waar mense jare gelede vir die saak op munisipale rade gedien het, ontvang munisipale raadslede in Suid-Afrika vandag groot bedrae geld om een of twee keer per maand raadsvergaderings by te woon. Raadslede se werk strek natuurlik wyer en moet veral fokus op die oplos van munisipale diensleweringsprobleme van gewone belastingbetalers, maar daar kom in die meeste gevalle baie min daarvan.

Om dus op ‘n munisipale raad te dien is baie grondvlaklede van politieke partye se droom. Die ANC is tans op ‘n afwaartse trajek en ons kan reeds aanvaar dat daar volgende jaar minder ANC-raadslede verkies gaan word. Die stryd binne ANC-takke gaan dus fel wees vir posisies op verkiesingslyste. ‘n Posisie wat deesdae in Suid-Afrika met belonings van duur motors, groot salarisse en selfs luukse huise en oorsese besoeke kom, is die van burgemeester. Die ANC wys burgemeesters sentralisties aan en daarom sal die stryd tussen verskillende faksies binne die ANC om meer van hul onderskeie lede as burgemeesters benoem te kry, ook toeneem.

Die groot nuweling in die Suid-Afrikaanse politiek is natuurlik die EFF van Julius Malema. Ons kan ook met gemak sê dat die EFF volgende jaar in ‘n groot aantal munisipale raadslede sal verkies. Ook die EFF, wat reeds tekens van interne stryd toon, sal vanjaar getoets word soos wat lede navore sal tree in die stryd om op munisipale lyste te kom.

Die oorgrote meerderheid van Suid-Afrika se munisipaliteite word eenvoudig vrot bestuur. Hierdie munisipaliteite word ook bykans almal deur die ANC alleen of die ANC in koalisie met ander partye regeer. Vakansiegangers wat die afgelope tyd die Wes-Kaap besoek het sal kan getuig van die groterwordende kontras tussen munisipaliteite wat deur die ANC en munisipaliteite wat nie deur die ANC regeer word nie.

‘n Munisipale verkiesing gaan nie net oor die stryd binne politieke partye nie, maar ook oor gewone burgers se behoefte vir beter munisipale dienslewering. Kom ons hoop dat genoeg Suid-Afrikaners voor volgende jaar se verkiesing besef dat die ANC nie die antwoord vir hul diensleweringsbehoeftes is nie. Intussen sal ons almal vanjaar moet saamleef met die politiekery en interne magstryd waarmee ons nou al goed bekend is.

Gelukkig het ons in Orania ons eie Dorpsraad en verkies ons reeds sedert 2000 wanneer die res van Suid-Afrika aan munisipale verkiesings deelneem ons eie Orania Verteenwoordigende Raad. Orania en sy ondersteuners word egter steeds geraak deur dit wat om ons aangaan en daarom sal ons die politieke onstabiliteit van die volgende maande moet verreken.

‘n Verswakte ANC nie noodwendig goed vir ons

Zuma ANC JeugligaPresident Zuma se erkenning verlede week dat die ANC in die moeilikheid is, het heelwat mense verras. Niemand is verras oor die feit dat die ANC in die moeilikheid is nie, maar wel omdat Zuma bereid was om dit op ‘n openbare verhoog te erken.

Die ANC is besig om al hoe dieper in die moeilikheid te beland. Gedurende die eerste vyftien tot twintig jaar na 1994 kon die party in ‘n redelike mate aan die verwagtinge van sy ondersteuners voldoen. Suid-Afrika het na 1994 ‘n tyd van goeie ekonomiese groei en buitelandse beleggings beleef. Die staat se inkomste het vir jare skerp gestyg wat die toekenning van welsynstoelaes aan miljoene mense, die bou van huise, skole, hospitale en ander infrastruktuur moontlik gemaak het.

Die afgelope tyd het dit al hoe moeiliker begin raak. Suid-Afrika doen al hoe slegter op internasionale ranglyste wat lande volgens misdaad, korrupsie en ekonomiese omstandighede beoordeel. Dit gekoppel aan die talryke skandes en probleme met dienslewering en infrastruktuur soos die land se elektrisiteitsnetwerk, veroorsaak dat oorsese beleggers toenemend skepties is om in Suid-Afrika te belê. Die land se ekonomie sukkel om skaars teen 2% per jaar te groei en met ‘n skerp bevolkingsaanwas beteken dit dat die probleme van armoede en werkloosheid onder swart Suid-Afrikaners al hoe minder aangespreek kan word.

Die vakbond Numsa se aankondiging dat hulle ‘n linkse werkersparty op die been gaan bring sorg vir heelwat bekommernisse onder die leierskap van die ANC. Selfs al kry hierdie nuwe party net 4 tot 5% van die steun in ‘n nasionale verkiesing kan die ANC se steun tot net-net bo 50% afgeforseer word.

Die grootste fout wat Afrikaners egter kan maak is om te dink dat ‘n verswakte ANC goed vir ons is. Die vraag wat ons moet probeer beantwoord indien ons risiko’s vir ons eie voortbestaan wil identifiseer, is hoe die ANC sal optree indien hy 5 – 10% minder stemme moet kry. Gestel die ANC kry in die volgende nasionale verkiesing slegs 53% van die stemme, hoe sal die party se beleid verander?

‘n Hele paar ander sogenaamde bevrydingsbewegings in Afrika het dieselfde pad as die ANC gestap. Vir die eerste paar jaar is die party gewild en wen verkiesings met groot meerderhede. Dan begin korrupsie, swak ekonomiese groei en beleid wat oorsese beleggers verwilder, veroorsaak dat die party se ondersteuners onrustig raak. Nuwe, veral populistiese, partye kom tot stand en die regerende party se steun begin daal. Sodra sy steun naby aan 50% kom begin die party te radikaliseer, sondebokke uit te sonder en op hardhandige wyse op te tree. Kyk maar net wat in Kenia en Zimbabwe gebeur het.

Die uitdaging vir Afrikaners is om betyds te konsolideer, konsentreer en binne sterk instellings te organiseer voordat Suid-Afrika ook hierdie stadium bereik. Intussen moet ons nie te bly raak indien dit lyk of die ANC verswak nie. Die Afrikaner kan tans nie ‘n gekweste ANC-regering bekostig nie.

Beter internasionale skakeling nodig

??????????????????Een van die bekende kenmerke van die ANC voor 1994 was die party se sterk internasionale steunwerwingsprogram. Die party het regoor die wêreld verteenwoordigers en kantore gehad. Dit het dit vir die party moontlik gemaak om voltyds regerings, nie-regeringsorganisasies en die gewone burgers van verskeie lande oor dinge in Suid-Afrika in te lig en om steun vir die party en sy programme te werf.

Ons weet vandag dat die ANC se internasionale strategie uiters suksesvol was en waarskynlik een van die hoofredes is waarom die Nasionale Party-regering laat in die 1980’s onder druk begin swig het. Terwyl die NP sy hande vol gehad het om dinge in Suid-Afrika bymekaar te hou het die ANC met ‘n byna vryhand sy propaganda in oorsese land versprei. Veral die ANC se sterk fokus op Westerse lande het dié lande, organisasies en persone wat moontlik nog bondgenote van die blanke bevolking in Suid-Afrika kon wees, ook teen hulle laat draai. Die ANC se veldtog in die buiteland is goed beplan, goed gekoördineer en meesterlik uitgevoer.

Vandag sien ons dat die res van die wêreld heelwat minder op Suid-Afrika fokus. Die demokratiseringsprojek wat die buiteland in die 1980’s met sanksies en ander vorme van druk op die blanke regering, geloods het, is volgens hulle in 1994 suksesvol afgehandel. Sedertdien word Suid-Afrika as ‘n toonbeeld van ‘n land wat van sogenaamde onderdrukking na Westerse demokrasie oorgegaan het, voorgehou.

Ons weet egter dat die situasie in die land vandag iets totaal anders is. Suid-Afrika verkeer in die magsgreep van die ANC. Die party sentraliseer alle magte en uitvoerende vermoë en het sedert 1994 daarin geslaag om ‘n meerderheid van die bevolking aan hom getrou en gedienstig te maak, deur  gemeenskappe te ontmagtig, plaaslike ekonomieë te vernietig en meer as 16 miljoen mense se lewens van welsynstoelaes afhanklik te maak.

Die Afrikaner verkeer vandag onder groot druk. Sogenaamde regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, regeringskorrupsie, misdaad en die verval van ons geldeenheid gekoppel aan voortdurende inflasie het ons in ‘n moeilike posisie geplaas. Meer as ‘n kwart van Afrikaners het waarskynlik reeds na die buiteland vertrek. Duisende Afrikaners is sedert 1994 vermoor en soveel meer van ons mense moes die trauma van motorkapings, huisinbrake en ander misdade deurmaak. Verder is ons taal en kultuur verswak, subsidies aan alles van ons museums tot ouetehuise en kinderhuise is onttrek, terwyl vreemde leerplanne vol propaganda teen die Afrikaner op ons skole en kinders afgedwing is.

Die buitewêreld weet egter maar min hieroor. Verlede week is daar ‘n televisieprogram oor die situasie van Afrikaners in Nederland uitgesaai en baie Nederlanders wat dit gekyk het was skoon verbaas. Hoe het dit alles gebeur sonder dat ons daarvan weet? Dit is hulle vraag. Afrikanerorganisasies sal hul internasionale skakeling moet verskerp. Strategieë om steun te werf moet beter bedink word. Ou, verregse retoriek sal agtergelaat moet word en nuwe moderne boodskappe geskep word. Indien die Afrikaner ‘n toekoms in Suid-Afrika wil hê sal ons, ons internasionale skakeling en steunwerwing dramaties moet verbeter.