fbpx
Briewe aan Oom Paul

Briewe aan Oom Paul

Geagte Oom Paul.

12 Desember 2019

Oom Paul, dit gaan goed op Orania, maar Suid-Afrika is maar donker, donker en as Oom asseblief my taal vandag sal verskoon, donker en de moer in. Ek sal miskien moet verduidelik. Oom weet mos dat Afrika die Donker Kontinent genoem word, maar ek verwys nie daarna nie, nee ek verwys na ‘n onbekwame staatsinstelling wat tans besig is om hierdie land en haar mense nog verder te breek. Wat nie dood maak nie maak groot, sou my Ouma sê… maar ek sien nie die groot word in ‘n land wat so sleg breek nie.

Oom Paul, ek skryf vandag vir Oom oor elektrisiteit, of eintlik die gebrek daaraan, en watter invloed dit op ons lewens hier aan die einde van 2019 het. Nou oor elektrisiteit hoef ek nie Oom veel te vertel nie, dit is immers al millennia wat die mensdom na elektrisiteit kyk, dit sien werk, in weerlig en as voorbeeld daardie glibberige palings wat ‘n mens skok dat jy hik. Oom Paul, dit is nie soos die palings wat ons al in Loskopdam gevang het nie; Oom weet my Oupa het aan daardie damwal met sy eie hande gewerk, so na die oorlog? Die palings se skok en hik laat my nou sommer dink aan die draai-telefoon, Oom ken dit mos? Die wat ons as kinders mee gespeel het. Mens draai die slinger en hik soos die dink krag opwek, sommer so met een of twee draaie daarvan. Oom sien, elektrisiteit is eintlik nie ‘n ingewikkelde ding nie, die mensdom is al donkiejare met die goed doenig, maar vir mensdom is daar nie pille nie.

In elk geval, terug by elektrisiteit en donker Suid-Afrika. In 1922-23 is EVKOM hier is Suid-Afrika begin, om eintlik presies net te doen wat hul naam gesê het: Die Elektrisiteitsvoorsieningskommissie van Suid-Afrika. Hulle moes elektrisiteit voorsien, en hoé het hulle dit nie gedoen nie. Oom moes EVKOM in sy gloriedae kon sien! Dit was ons trots Oom Paul. EVKOM was die grootste elektrisiteitsvoorsiener in die ganse Donker Kontinent en ons het selfs ‘n kernaanleg gebou onder in die Kaap. Nou om eerlik te wees, weet ek maar min van kernkrag af, maar daar was van ons mense wat die regte onderrig gekry het, die regte dinge geleer het, om met uraanverryking en die fusie van molekules, of so iets, ‘n enorme tipe reaksie te veroorsaak, wat ons dat omgeskakel het na bruikbare elektrisiteit.

Natuurlik was EVKOM dan, volgens die elektrisiteitsvoorsieningswet van 1922, dan ook ‘n staatsbeheerde instelling, wat vir baie mense werk verskaf het, en vir baie meer mense elektrisiteit kon bied. Een van die redes hoekom die myne daar in Middelburg se wêreld so goed doen, is omdat die steenkool wat hulle uit die aarde uitgrou, gebruik word om groot turbines te draai; dit is nou soos die steenkool brand en water wat kook se stoom opwaarts beur. Ek onthou toe ek klein was het ek altyd gedink dat dit die plekke is waar wolke gemaak word. Dit lyk kompleet soos wolkies wat uit daardie enorme betonskoorstene uitgeblaas word…

EVKOM het egter op ‘n stadium ESKOM geword, maar dit is nie die enigste drama nie, die verengelsing van die naam nie. Oom sien, ons ganse ekonomie is eintlik afhanklik van die gebruik van elektrisiteit, bykans alles werk met dit, en bykans niks kan deesdae sonder dit nie. Ek tik nou juis hierdie brief aan Oom op ‘n rekenaartjie, ‘n tipe moderne tikmasjien, wat met elektrisiteit werk. Ongelukkig is ESKOM so sleg bestuur en so leeg gesteel deur ‘n klomp onbekwame besture en bekwame skelms dat daar net nie meer genoeg krag is nie; nou kry ons maar so om die beurt krag… en selfs om die beurt water op sommige plekke.

Ag ek wou nog baie klae oor die toestand van ESKOM in ons land, maar my liggie flikker dat die elektrisiteit amper opgebruik is, daar is darem so effens van ‘n battery wat gestoorde krag kan hou in die tikmasjientjie. Nóg beter is die slim mense wat geleer het hoe om die krag van die Son op te vang en om dit dan om te skakel na elektrisiteit;  op Orania is daar sommer baie van ons, maar ongelukkig help dit nie die res van die land nie. Die fabrieke staan, die yskaste loop af, die masjiene wat die banke aan die gang hou se liggies flikker al hoe flouer, en die ekonomie, Oom Paul, wat ook al eintlik nou die ekonomie is, is aan die val. Al wat ek weet, is ons mense word al hoe kwater vir die regering en kry al hoe swaarder. Oom Paul… en vir ESKOM is almal sommer in gewone Afrikaans net de moer in.

Daar flikker my masjientjie se laaste liggie nou.

Stuur groete vir my Oupa

PSK

 

 

 

 

 

Ook ons argitektoniese kultuurskat moet bewaar word

thumbNog ‘n pragtige ou kerkgebou is verlede week gesloop. Die Gereformeerde Kerk Bloemfontein, waarvan die gemeente reeds ‘n paar jaar gelede ontbind het, het verlede week in die stof gebyt. Die gebou moes plek maak vir ‘n blink nuwe ontwikkeling.

Hierdie kerkgebou is nie die eerste een wat val nie. Talle historiese kerkgeboue is die afgelope paar jaar gesloop. Ook ander historiese geboue loop deur ten spyte van wetgewing wat dit probeer verhoed. ‘n Pragtige ou historiese huisie in die stadskern van Colesberg is onlangs gesloop om vervang te word met ‘n laekoste gebou wat winkeltjies huisves.

Regdeur Suid-Afrika sien ons dat die waarde en betekenis van historiese geboue nie net onderskat word nie, maar ook toenemend totaal misken word. Sedert die aankoms van Westerlinge aan die suidpunt van Afrika is ‘n enorme argitektoniese kultuurskat hier ontwikkel. Van Kaaps-Hollandse huise in en om Kaapstad en die doelgemaakte, eenvoudige Karoohuise, tot die sandsteenkerke van die Vrystaat, is daar oor meer as 300 jaar groot werk gedoen om hierdie kultuurskat te ontwikkel.

Soos wat Afrikaners groter dele van Suid-Afrika beset het, het hulle ook hul sin vir goeie estetika en mooi argitektuur afgedwing. Pragtige kerkgeboue is in die sentrum van dorpe gebou en huise, soms nederig klein en eenvoudig, maar byna altyd esteties mooi, is gebou en bewoon.

Vandag word baie plekke waar Afrikaners kerke, huise, skole en winkels gebou het, nie meer deur Afrikaners besit nie. Een van die groot demografiese realiteite van die afgelope 20 jaar is die wyse waarop Afrikaners uit middestede en woonbuurte naby aan middestede na die verre uithoeke van voorstede en dorpe getrek het.

Verder vind daar steeds verstedeliking van Afrikaners plaas soos wat plattelandse jongmense ná hul studies eerder na die stede gaan en dan deur hul ouers gevolg word. Afrikaners bly vandag op ander plekke as 20 jaar gelede.

Gaan ry gerus deur byna enige dorp of stad in veral die noordelike en sentrale dele van Suid-Afrika en jy sal strate en woonbuurte vind waar daar op ‘n stadium hoofsaaklik Afrikaners gewoon het en daar vandag min of geen Afrikaners oor is nie.

Daar het egter ook ‘n ander soort verskuiwing plaasgevind. Met die ontstaan van mega-moderne kerke taan die lidmaatgetalle van tradisionele kleiner gemeentes. Net soos ons kerkgewoontes verander het, het ons inkopie en kulturele gewoontes ook verander. Die winkels in die hoofstrate van sommige dorpe word deesdae vermy en blink nuwe inkopiesentrums op die buitewyke van dorpe en stede word eerder besoek.

Hoe dan nou gemaak met ons argitektoniese skat? Ons almal aanvaar dat demografiese en ander veranderings sal bly voortduur. Gemeentes sal sluit en huise sal nuwe eienaars kry. Dat ons egter ‘n groter mate van respek vir historiese geboue in Suid-Afrika moet kry, is dringend nodig. Die behoud van ook hierdie goeie uit ons verlede mag nie nagelaat word nie.

‘n Verswakte ANC nie noodwendig goed vir ons

Zuma ANC JeugligaPresident Zuma se erkenning verlede week dat die ANC in die moeilikheid is, het heelwat mense verras. Niemand is verras oor die feit dat die ANC in die moeilikheid is nie, maar wel omdat Zuma bereid was om dit op ‘n openbare verhoog te erken.

Die ANC is besig om al hoe dieper in die moeilikheid te beland. Gedurende die eerste vyftien tot twintig jaar na 1994 kon die party in ‘n redelike mate aan die verwagtinge van sy ondersteuners voldoen. Suid-Afrika het na 1994 ‘n tyd van goeie ekonomiese groei en buitelandse beleggings beleef. Die staat se inkomste het vir jare skerp gestyg wat die toekenning van welsynstoelaes aan miljoene mense, die bou van huise, skole, hospitale en ander infrastruktuur moontlik gemaak het.

Die afgelope tyd het dit al hoe moeiliker begin raak. Suid-Afrika doen al hoe slegter op internasionale ranglyste wat lande volgens misdaad, korrupsie en ekonomiese omstandighede beoordeel. Dit gekoppel aan die talryke skandes en probleme met dienslewering en infrastruktuur soos die land se elektrisiteitsnetwerk, veroorsaak dat oorsese beleggers toenemend skepties is om in Suid-Afrika te belê. Die land se ekonomie sukkel om skaars teen 2% per jaar te groei en met ‘n skerp bevolkingsaanwas beteken dit dat die probleme van armoede en werkloosheid onder swart Suid-Afrikaners al hoe minder aangespreek kan word.

Die vakbond Numsa se aankondiging dat hulle ‘n linkse werkersparty op die been gaan bring sorg vir heelwat bekommernisse onder die leierskap van die ANC. Selfs al kry hierdie nuwe party net 4 tot 5% van die steun in ‘n nasionale verkiesing kan die ANC se steun tot net-net bo 50% afgeforseer word.

Die grootste fout wat Afrikaners egter kan maak is om te dink dat ‘n verswakte ANC goed vir ons is. Die vraag wat ons moet probeer beantwoord indien ons risiko’s vir ons eie voortbestaan wil identifiseer, is hoe die ANC sal optree indien hy 5 – 10% minder stemme moet kry. Gestel die ANC kry in die volgende nasionale verkiesing slegs 53% van die stemme, hoe sal die party se beleid verander?

‘n Hele paar ander sogenaamde bevrydingsbewegings in Afrika het dieselfde pad as die ANC gestap. Vir die eerste paar jaar is die party gewild en wen verkiesings met groot meerderhede. Dan begin korrupsie, swak ekonomiese groei en beleid wat oorsese beleggers verwilder, veroorsaak dat die party se ondersteuners onrustig raak. Nuwe, veral populistiese, partye kom tot stand en die regerende party se steun begin daal. Sodra sy steun naby aan 50% kom begin die party te radikaliseer, sondebokke uit te sonder en op hardhandige wyse op te tree. Kyk maar net wat in Kenia en Zimbabwe gebeur het.

Die uitdaging vir Afrikaners is om betyds te konsolideer, konsentreer en binne sterk instellings te organiseer voordat Suid-Afrika ook hierdie stadium bereik. Intussen moet ons nie te bly raak indien dit lyk of die ANC verswak nie. Die Afrikaner kan tans nie ‘n gekweste ANC-regering bekostig nie.

Ruimte behoort vir elke identiteit gelaat te word

53db27c7dcd5888e145e927e_serdar-ekrem-beyoglu-istanbul-shopping-turkeyDie bekroonde Turkse skrywer, Orhan Pamuk, beskryf in een van sy boeke die verhaal van ‘n Turkse man in Istanbul wat mannekyne vervaardig het. Sy hele kelder was later vol mannekyne. Dié meesterlik vervaardigde winkelpoppe het egter geen aftrek by die winkeleienaars van Istanbul gekry nie. Die rede is dat hulle ‘n Turkse voorkoms gehad het. Winkeleienaars in Istanbul het aangevoer dat kliënte eerder winkelpoppe met ‘n Europese voorkoms verkies. Veral die jonger generasie Turke streef na ‘n Westerse voorkoms.

Stap jy in die strate van Leiden, Rotterdam of Amsterdam sien jy dat die winkelpoppe van Nederland deesdae dieselfde tendens volg. Met ‘dieselfde’ word bedoel dat winkelpoppe in Nederland ook toenemend anders lyk as die inheemse bevolking. Afrika- en Midde-Oosterse voorkomste is hier toenemend gewild.

Die voorkoms van winkelpoppe in Turkye en Nederland mag dalk vir ons na nuttelose inligting lyk, maar hierdie tendense is belangrik as ons identiteitspolitiek in vandag se globale wêreld probeer verstaan.

Identiteitsverlies vind regoor die wêreld plaas. In die Derde Wêreld styg mense uit armoede uit op en sien hulle ‘n Westerse identiteit as ‘n soort sleutel tot ‘n beter selfbeeld en uiteindelik ‘n beter plek in die samelewing. In die Weste word nasionale- en volksidentiteite vervang deur multikulturele samelewings waar ‘n diepe identiteitsbewussyn as ‘n struikelblok beskou word.

Identiteit is veronderstel om ‘n dieper interne besef van wie jy is, te wees. Ons identiteit behoort bepaal te word deur ons geloof, taal, kulturele assosiasies en tradisies. Tog sien ons vandag toenemend gemanipuleerde identiteite wat aan die hand van uiterlike voorkoms vergestalt word.

Turkye is tog ‘n land met ‘n diep gewortelde identiteit wat voortspruit uit die Ottomaanse erfenis. Kan ‘n jong Turk wat soos ‘n Amerikaner aantrek, Amerikaanse musiek luister en by Burger King eet, ‘n ander identeit as sy Turkse identiteit opneem?

Dieselfde vraag geld vir Westerse lande wat ‘n beeld van multi-kulturalisme en verdraagsaamheid probeer voorstaan. Doen Nederland afstand van haar ou gevestigde identiteit deur die gebruik van persone met verskillende identiteite in televisie-advertensies, die afskaffing van ou gevestigde tradisies en gebruike en die verdere sekularisering van die openbare en privaatlewe?

In Suid-Afrika is Erfenisdag verlede week gevier. Twintig jaar na die politieke verandering van 1994 behoort ons almal te besef dat daar nie iets soos ‘n enkel Suid-Afrikaanse identiteit en erfenis is nie. Ja ons is almal Suid-Afrikaners weens ons nasionaliteit, maar ons is ‘n land met ‘n groot verskeidenheid identiteite. Ongelukkig sien ons ook pogings tot die manipulering van identiteit deur die miskenning van sommige tale, kulture en tradisies en die kunsmatige skep van ‘n soort nuwe nasionale identiteit.

In beide Turkye en Nederland beleef jongmense vandag ‘n identiteitskrisis. Die verwydering van hul historiese identiteit bring mee dat mense nie meer presies weet wie hulle is nie. Indien Suid-Afrika ernstig is oor erfenis en die beskerming van alle kulture in ons land sal ons nie Suid-Afrikaanse winkelpoppe probeer skep nie, maar eerder erken dat daar plek vir Afrikaner-, Zoeloe-, Xhosa- en talle ander winkelpoppe in ons spreekwoordelike winkelvensters behoort te wees.

Beter internasionale skakeling nodig

??????????????????Een van die bekende kenmerke van die ANC voor 1994 was die party se sterk internasionale steunwerwingsprogram. Die party het regoor die wêreld verteenwoordigers en kantore gehad. Dit het dit vir die party moontlik gemaak om voltyds regerings, nie-regeringsorganisasies en die gewone burgers van verskeie lande oor dinge in Suid-Afrika in te lig en om steun vir die party en sy programme te werf.

Ons weet vandag dat die ANC se internasionale strategie uiters suksesvol was en waarskynlik een van die hoofredes is waarom die Nasionale Party-regering laat in die 1980’s onder druk begin swig het. Terwyl die NP sy hande vol gehad het om dinge in Suid-Afrika bymekaar te hou het die ANC met ‘n byna vryhand sy propaganda in oorsese land versprei. Veral die ANC se sterk fokus op Westerse lande het dié lande, organisasies en persone wat moontlik nog bondgenote van die blanke bevolking in Suid-Afrika kon wees, ook teen hulle laat draai. Die ANC se veldtog in die buiteland is goed beplan, goed gekoördineer en meesterlik uitgevoer.

Vandag sien ons dat die res van die wêreld heelwat minder op Suid-Afrika fokus. Die demokratiseringsprojek wat die buiteland in die 1980’s met sanksies en ander vorme van druk op die blanke regering, geloods het, is volgens hulle in 1994 suksesvol afgehandel. Sedertdien word Suid-Afrika as ‘n toonbeeld van ‘n land wat van sogenaamde onderdrukking na Westerse demokrasie oorgegaan het, voorgehou.

Ons weet egter dat die situasie in die land vandag iets totaal anders is. Suid-Afrika verkeer in die magsgreep van die ANC. Die party sentraliseer alle magte en uitvoerende vermoë en het sedert 1994 daarin geslaag om ‘n meerderheid van die bevolking aan hom getrou en gedienstig te maak, deur  gemeenskappe te ontmagtig, plaaslike ekonomieë te vernietig en meer as 16 miljoen mense se lewens van welsynstoelaes afhanklik te maak.

Die Afrikaner verkeer vandag onder groot druk. Sogenaamde regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, regeringskorrupsie, misdaad en die verval van ons geldeenheid gekoppel aan voortdurende inflasie het ons in ‘n moeilike posisie geplaas. Meer as ‘n kwart van Afrikaners het waarskynlik reeds na die buiteland vertrek. Duisende Afrikaners is sedert 1994 vermoor en soveel meer van ons mense moes die trauma van motorkapings, huisinbrake en ander misdade deurmaak. Verder is ons taal en kultuur verswak, subsidies aan alles van ons museums tot ouetehuise en kinderhuise is onttrek, terwyl vreemde leerplanne vol propaganda teen die Afrikaner op ons skole en kinders afgedwing is.

Die buitewêreld weet egter maar min hieroor. Verlede week is daar ‘n televisieprogram oor die situasie van Afrikaners in Nederland uitgesaai en baie Nederlanders wat dit gekyk het was skoon verbaas. Hoe het dit alles gebeur sonder dat ons daarvan weet? Dit is hulle vraag. Afrikanerorganisasies sal hul internasionale skakeling moet verskerp. Strategieë om steun te werf moet beter bedink word. Ou, verregse retoriek sal agtergelaat moet word en nuwe moderne boodskappe geskep word. Indien die Afrikaner ‘n toekoms in Suid-Afrika wil hê sal ons, ons internasionale skakeling en steunwerwing dramaties moet verbeter.