fbpx

Politiek

Die daarstelling van die Afrikanervryheidstigting in Maart 1988 en die besluit om Afrikanerselfbeskikking in die Noordwes-Kaap te probeer verwesenlik is een van die belangrikste politieke stappe in die Afrikaner geskiedenis van die afgelope drie dekades. Die uiteindelike aankoop van Orania en vestiging van ’n lewenskragtige gemeenskap wat steeds na selfbeskikking streef, was en is ook ’n daad van politieke krag tydens ’n periode waar die Afrikaner sy politieke inspraak en vermoë grootliks verloor het. 

Toe die Afrikanervryheidstigting in 1988 gestig is, was die Nasionale Party groot en sterk en was die Konserwatiewe Party in opmars. Vandag bestaan nie een van die twee meer nie. Die meeste groot en kragdadige Afrikaner politieke instellings van die 1980’s en 1990’s het intussen hulle deure gesluit of begin wegkwyn. Talle randorganisasies, protesbewegings en paniekerige pogings het gekom en gegaan. 

Hoewel daar sedert die politieke revolusie van 1994 ’n paar sterk Afrikanerorganisasies soos Solidariteit en AfriForum na vore getree het, kon die Afrikanervryheidstigting / Orania Beweging as politieke instelling volhoubaar voortgaan om by sy oprigtingsdoel van 1988 te bly staan. Die nuwe energie waarmee daar in Afrikanerkringe gedink en gedoen word is baie opwindend en Orania en sy politieke instellings is volledig deel van hierdie proses.

Orania se politieke strategie kom basies op die volgende tien beginsels neer: 

  1. Herbevestig in volle eerlikheid ons geloof in God Drie-enig, ons verbintenis tot ons volk en ons strewe na selfbeskikking sonder om doekies hieroor om te draai of waar nodig daarvan weg te skram.
  2. Bou ’n gemeenskap wat uitgesproke is teen rassisme, meerderwaardigheid, haat en wat op die hoop op ’n beter verlede geskoei is en wat eerder fokus op ’n trots op ons Christelike geloof, Afrikaans, Afrikanerskap en wat ons oor meer as 350 jaar aan die suidpunt van Afrika vermag het.
  3. Analiseer plaaslike, provinsiale, nasionale en internasionale politieke tendense en reageer pro-aktief daarop.
  4. Skakel met almal wat graag met ons wil skakel, maar behou ons eiesoortige onafhanklikheid.
  5. Plaas ons selfbeskikkingstrewe binne ’n aanvaarbare internasionale konteks.
  6. Hou kommunikasiekanale op plaaslike, provinsiale en nasionale politieke vlak oop en gebruik elke moontlik geleentheid om Orania se strewe te verduidelik.
  7. Bevestig ons verbintenis tot Afrika en dat dit in die Afrikaner se belang is dat Suid-Afrika en Afrika suksesvol moet wees.
  8. Maak soveel moontlik vriende oorsee, nie net vir korttermyn doelwitte soos fondswerwing nie, maar ook vir langtermyn politieke doelwitte.
  9. Vermy politieke konflik en die skep van politieke vyande deur voortdurend dialoog aan te moedig en pro-aktief bande te bly smee soos wat dinamiese politieke tendense ontplooi.
  10. Wees gereed vir slegte scenario’s, beplan daarvoor en wees altyd paraat.

Orania en sy ontwikkeling is ’n politieke daad. Oor die volgende paar jaar gaan ons Orania tot ’n landelike Afrikanerstad uitbou. Ons gaan ons grondgebied uitbrei en uiteindelik duisende Afrikaners hier vestig. Ons strategie is meerderheidsbesetting deur eie grond, eie arbeid en eie instellings gebou op ons geloof, taal, kultuur en dit wat ons as gemeenskap saamsnoer.