Neem uit die verlede?

10 Oktober is ʼn openbare vakansiedag in Orania: Heldedag.

Ons herinner onsself gereeld aan President Paul Kruger se woorde: “Neem uit die verlede wat goed is, en bou ʼn ideale toekoms daarop.” Ons sê ook gereeld vir mekaar, mense wat nie weet waar hulle vandaan kom nie, weet ook nie waarheen hulle op pad is nie”. Dus, ʼn volk sonder ʼn verlede, het nie ʼn toekoms nie.

Daar is egter iets veel meer verreikend, en dit is die teenoorgestelde.

ʼn Volk sonder ʼn toekoms het nie ʼn verlede nie.

Ons het ʼn ryk geskiedenis om te herdenk: van Hugenote wat geloof en waardes bo geld en voorspoed gekies het; Vryburgers wat die vuis teen die VOC (die magtigste wêreldmaatskappy van sy tyd) gebal het; die Trekkers wat die woeste binneland ingetrek het op soek na vryheid; die Wonderwerk van Bloedrivier; die Vryheidsoorloë; die Helpmekaar Beweging; Republiekwording en veel meer. Elkeen van hierdie fases is gevul met Adam Tasse, Dirkie Uyse en Andries Pretoriuse, met Koos en Nonnie de la Reys, met President Steyns, vader Kestells en nog baie ander.

Dit alles is egter verlore, vergete en verwaai indien Afrikaners nie kan verseker dat ons, deur die genade, aanhou voortbestaan nie.

Indien daar niemand is om op 16 Desember ‘n geloftediens by te woon en die kinders te vertel nie, vervaag dit uiteindelik tot niemand meer daarvan weet nie. Sou ons ophou ons eie kultuurdae vier, sal dit vergete wees onder die jeug. Heldedade sal vervaag, verflou en uiteindelik verdwyn.

Niemand sal meer hoendervleis kry wanneer volksliedere gesing word nie, en psalms en gesange wat eens in Afrikaans weerklink het sal nêrens meer te hore wees nie. Kampvuur FAK-liedjies sal ook wegraak, en ou tradisies sal jaar na jaar oorgeslaan word tot dit verewig verdwyn.

Ons fokus op die verlede kan nie ʼn terugdraai van die horlosie probeer wees nie. Ons fokus op die verlede is die bou van ʼn toekoms. Sonder ʼn sekere toekoms, waar ons mense hulle kultuur, identiteit en geloof kan uitleef, sal ons verlede eenvoudig ophou bestaan: Niemand sal dit waardig ag om te bewaar nie.

Wanneer ons ons helde gedenk, is dit ʼn rigtingwyser vir die helde van die hede en die toekoms. Elke generasie neem verantwoordelikheid vir hulle eie tyd, het prof. Carel Boshoff gesê.

Bewaar ons verlede deur ʼn toekoms te bou.

Ons het net ʼn toekoms as ons ʼn eie plek het.

Orania-petisie nader 25 000 handtekeninge

Meer as 24 000 mense het reeds Orania se bestaansregpetisie onderteken.

Lees meer

Paul Kruger standbeeld - reeds 500 stene verkoop

ʼn Standbeeld van Paul Kruger word in Orania opgerig. Hierdie beeld gaan ʼn identiese replika van die beeld van Paul Kruger op Kerkplein wees.

Lees meer

Orania Beweging en OOM op toer

Verteenwoordigers van die Orania Beweging en Orania Ontwikkelingsmaatskappy het met belangstellendes…

Lees meer

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel