fbpx

Een van die opmerklikste verskynsels van Orania wat vir besoekers en nuwe intrekkers opval is die sigbare naasbestaan van laerklas en middelklas.  Daar is sowel opregte bewondering vir witmense wat al die harde werk self doen wat buite die volkstaat feitlik uitsluitlik deur swartmense gedoen word, asook ‘n onbewustelike neusoptrek vir mense wat daardie werk doen en wat partymaal ander voorkoms, kledingstyl en gewoontes as die middelklas het. Dit het ook daarmee te doen dat jy as middelklasmens (soos die skrywers en seker die grootste deel van die lesers van hierdie rubriek) in die opset van die stede en selfs van die plattelandse dorpe met mense van die laerklas, of dan die werkers, niks te doen het nie. In die eerste plek is hulle feitlik almal swart en daar is nog steeds ’n duidelike skeidslyn. Die wat wel wit is woon vêr van jou af en jy kom nie in aanraking met hulle in die opset van jou werk, jou buurt, jou skool, jou kerk, vereniging en winkelsentrum nie.
In die geskiedenis het ons twee uiterste benaderings tot die werkersklas gekry wat ook maar vandag nog in sagter vorme voortbestaan: aan die een kant die aristokratiese meerwaardigheid (komende uit Engeland) waar daar streng klasgrense gehandhaaf is en die werkers eenkant gehou is om die adel (en later die geldadel ) nie te besoedel nie. Aan die ander kant was die kommunistiese ophemeling van die  werkers as synde die beter mense en daarteen die  “bourgeoisie” as die uitbuiters wat uitgeroei moet word.

Beide sienings is skadelik en fundamenteel verkeerd en het niks goeds opgelewer nie. Beide is klasdenke. Dit vind sy voortsetting in huidige sienings van ‘n globale elite wat dinge moet beheer aan die een kant, en ‘n verbeelde solidariese gemeenskap van armes en werkers wat bevry moet word van hulle “uitbuiters”, aan die ander kant.

Die nasionalisme, dikwels gekritiseer omdat dit grense tussen volke stel, het dit wel reg gekry om die volke self te verenig. Dis is ook maar die benadering wat ons in Orania volg, of behoort te volg: ons is een volk, al bestaan die volk uit groepe en het skakerings, maar almal is ewe deel daarvan en almal is nodig en lewer ‘n bydrae. Of die volk ‘n Godgegewe en onveranderlike entiteit is, of ‘n verbeelde en hoogs lukrake en veranderlike verskynsel is ‘n ander debat vir ‘n ander plek. Feit is dat die mense  wat in Orania woon en werk ten spyte van individuele verskille wel kenmerke dra wat hulle van mense buite onderskei.

Die sosialistiese ideaal dat almal eendag deel van ‘n baie breë middelklas is en dat, om dit te bereik, die werkers opgehef en die akademici teruggehou moet word, is onwerkbaar. Wat nodig is, is dat erken word dat ‘n staat, om te funksioneer, handewerk sowel as kenniswerk en bestuur nodig het en dat die een nie meer verhewe as die ander een is nie, al vat die opleidingstydperk vir sekere beroepe langer as vir ander.  Niemand moet die ander verag of jaloers wees op hom  en sy werk begeer nie.

Die Romeine het reeds in die vroeë Republiektydperk die konflik gehad tussen die Plebejers (werkers) en die Patriziers (adel en grondbesitters) en die Plebejers het besluit Rome te verlaat en ‘n eie samelewing sonder die Patriziers te begin. Een van die patriziers kon hulle toe deur middel van ‘n eenvoudige gelykenis oortuig om terug te keer Rome toe:  Die staat (of dan volk) is soos ‘n liggaam. As die hande en voete  besluit dat die kop niks doen en lui is en net vreet terwyl hulle net kos vir die mond moet voer en hom moet ronddra, en dus besluit om daarmee op te hou dan lei die hele liggaam. Die kop mag voorkom asof hy niks doen nie, maar die brein hou al die liggaamsdele aan die gang. ‘n Liggaam kan nog sonder een hand of een voet funksioneer, maar nie sonder ‘n brein nie.

As ons as Afrikaners besef dat ons nie as volk kan  voortbestaan nie solank ons afhanklik is van vreemde hande wat ons voer, dan het ons ‘n belangrike les geleer.
Waardering tussen handewerkers en breinwerkers vir die ander een se bydrae is nodig. Natuurlik moet daar grade wees wat vergoeding betref, gemeet aan die opleiding wat nodig is om ‘n sekere opleidingsvlak  te bereik. Ook binne die werkskategorieë is daar grade, ‘n gekwalifiseerde werktuigkundige sal uit die aard van die saak meer verdien as ‘n leerling. Of ‘n geoktrooieerde rekenmeester meer as ‘n klerk. Maar almal moet die geleentheid hê om homself binne sy lyn te kan opwerk en om vooruitgang te maak.

Dit is verkeerd om neer te kyk op ‘n ou wat sy hande vuil maak, maar ook om jaloers te wees op een wat heeldag in ‘n kantoor sit, asof “regte” arbeid altyd net handewerk moet wees.

As een liggaamsdeel swaar kry, ly die hele liggaam. Dit is dus in ons elkeen se belang om te sien dat handewerkers en kenniswerkers graag in die volkstaat wil wees en hulle beste gee vir die opbou daarvan, elkeen volgens sy roeping en vermoë en met respek vir die ander een se bydrae.